Die TopWineRoots Laailoufees bied ’n opwindende nuwe musiek-ervaring by Bergrivier-oord op Saterdag November 19, in die Paarl aan.
Feesgangers kan lekker op hul laailou lê op die Bergrvier of na die vertonings kyk vanuit die gemak van hul kampstoele.
Luidens ’n persverklaring uitgereik deur organiseerders van die nuwe fees, gaan van Suid Afrika se top kunstenaars by die fees te sien wees.
Die program sluit in: Karlien van Jaarsveld, Janie Bay, Die Heuwels Fantasties, Tasche, Ampie, Corné Pretorius, Chemistry, sowel as Loki Rothman en Margot Rothman.
Vir feesstigters, Corné Pretorius en Wynand de Villiers, was die resonansie van die naam belangrik, maar meer belangrik was dat die naam die regte toon daarstel, en al die elemente van die fees omarm: Die onderskeidende kristalhelder element is natuurlik dat jy die fees op jou laailou kan aanskou.
“Ons glo die line-up is uitsonderlik, maar vir ons is die setting van die fees en die vibe wat ons wil skep die groot onderskeidingselemente van die fees. Die Bergrivier-oord is absoluut geskik vir die aanbieding van ’n baie unieke fees met twee sitplek-keuses, en byna die hele oord is onder ’n wonderlike skadubedekking van ou bome.” het mnr. De Villiers gesê.
Mnr. De Villiers sê verder dat hulle beplan om dié nuwe fees jaarliks aan te bied. “Ons is bevoorreg om soveel ondersteuning vir die eerste uitgawe van die fees te hê, veral van ons korporatiewe en media borge soos TopWineRoots en Bok Radio.”
Die verhoog by die fees word met ’n 270 grade gehoor-radius opgestel sodat dit toeskouers in die rivier op hul laailous sowel as toeskouers op hul kampstoele in die kampeer-feesterein bedien. Die Bergrivieroord het pragtige staanplek vir tente asook luukse staanplek vir karavane. Bring jou laailou, bring jou kampstoel.
Kaartjies kos R260 en is aanlyn beskikbaar by iTickets. Diegene wat voor Donderdag 14 Julie kaartjies koop kom in aanmerking vir ’n halfprys afslag en kaartjies kos dan R130.
Kinders sewe jaar oud en jonger het gratis toegang. Vir verdere feesbesonderhede en die volledige program, besoek, www.laailoufees.co.za en vir kampplekbesprekings by die Bergrivier-oord, besoek, www.bergriverresort.co.za