Lea Coetzee, ’n versorger van beroep, maar ook ’n deeltydse dramaturg van Sir Lowry’s Pass Village, waaroor Bolander verlede jaar berig het, het nou ’n nuwe doel in sig – sy wil haar toneelstukke op film vaslê.
Met haar organisasie, Reality Life, wil sy aanhou om drama te gebruik as instrument om gemeenskapsopheffing te bewerkstellig (“Klein dramagroep wil groot impak maak”, Bolander, 9 Junie 2022).
In haar gemeenskap waar kwessies soos armoede, werkloosheid, dwelm-misbruik, tienerswangerskap, MIV/Vigs, geweld en mishandeling algemeen is, is haar wens dat haar toneelstukke wat hierdie kwessies aanspreek; ’n opvoedkundige doel sal dien.
“Ek span drama in om klem te lê op sosiale euwels wat in ons gemeenskap voorkom. Al my goed is geskryf vir mense om iets daaruit te leer,” sê sy vasberade.
Me. Coetzee wat met haar informele dramagroep al vele opvoerings in die plaaslike gemeenskap gedoen het, wil nou haar produksies op film vaslê om sodoende ’n wyer gehoor te bereik.
Die kostes daaran verbonde, is iets wat so ‘n effense kinkel in die kabel gooi. Haar dramas genereer nie ’n inkomste nie, so daar is nie fondse wat die verfiliming kan dek nie. Hiervoor benodig sy hulp.
“Tans is ek besig met mense wat begin oefen het en daar is twee kameramanne wat dit gaan verfilm, maar dit is bietjie baie geld, dis waarom ek borge soek wat my kan help.”
Kameramanne Gashton Lewis en Ashraf Wanza het bevestig dat me. Coetzee hulle genader het om haar werke te verfilm en dat hulle alreeds vir haar ‘n promosie video geskiet het om haar drama inisiatief te bemark.
“Ons probeer altyd aan gemeenskapsprojekte blootstelling gee en help hulle waar ons kan,” het mnr. Wanza gesê.
“Ek dink haar werke is belangrik om bewusmaking te kweek en ook aan mense die ware prentjie oor Sir Lowry’s Pass te wys en te laat verstaan, ja dit is ’n plek met baie probleme, maar daar is ook talent.”
Haar ander begeerte is ook om haar ‘akteurs’ op ’n manier te vergoed vir hulle harde werk. “My planne op die oomblik is om weer een van die grootste dramastukke, Tik verwoes huisgesinne op te voer.”
Die rolverdeling vereis 10 persone. “Die probleem is ek het oor die jare en die afgelope tyd sommer self die mense betaal om in die dramas te speel.
“Die mense in die Pass is baie armoedig en het baie dinge nodig en omdat drama so baie vat die oomblik as ek iemand in ’n rol plaas, wil ek nie mense verniet laat werk nie; ek glo hulle moet ietsie verdien.”
Sy betrek met haar opvoerings jonk en oud in ’n poging om die gemeenskap te verenig. Haar jongste ‘akteur’ is tans 5 jaar oud. Een van die kinders wat saam in die dramagroep was, Jonaline Daniels, het oor haar betrokkendheid gesê: “Dit was baie lekker om in die dramas te speel.
“Dit was motiverend en mens het baie dinge geleer en ander mense kon ook daaruit leer.”
Intussen beoog me. Coetzee om ook om haar toneelstukke te laat druk en in boekvorm uit te gee aan skole en dramagroepe.
Sy is vasberade om haar dramastuk na nuwe hoogtes te neem. “Ek wil dit eintlik nie net op die film hê nie, my droom is om dit as program op die TV te sien speel.”
Kontak Lea Coetzee op 084 919 7973 vir navrae oor Reality Life of om bystand te bied met drama en verfilmingskostes.