Nuwe boek dra by tot navorsings-oeuvre oor slawe

Dr Hans Heese, deurwinter-de en gerespekteerde historikus, skrywer en joernalis wat nog nooit bang was om sensitiewe temas aan te pak nie – dink maar aan sy Groep sonder grense (eerste uitgawe 1984) waarmee sommige verkramptes wou vuur maak, en Reg en onreg (1994) – het nóg ’n deeglik-nagevorsde boek tot sy persoonlike ouvre gevoeg: Amsterdam tot Zeeland: ’n Stellenbosse slawe-geskiedenis 1679-1834, (SUN Press, 2016).

Eerstens, geluk aan hom met ook nóg ’n bydrae tot die oeuvre van slawegeskiedeniswerke.

Hy gee juis ’n waardevolle oorsig van die boeke wat reeds hieroor geskryf is voor in die nuwe boek – ek besit meeste van die boeke en kan nou sien watter ek nog moet aankoop.

Dis met die eerste oogopslag duidelik dat Amsterdam tot Zeeland toeganklik is; maklik leesbaar vir selfs diegene vir wie die onder-werp dalk nog relatief onbekend is, want Dr. Heese skets die agtergrond van slawerny aan die Kaap deur te verduidelik hoe en wanneer dit tot stand gekom het en beweeg dan aan na die fokuspunt, nl. die Stellenbosch-omgewing.

Vandaar ook die subtitel ’n Stellenbosse slawegeskiedenis, 1697-1834. Die datum 1697 dui op die ontstaan van die dorp en 1834 verwys na die beeïndiging van hierdie onmenslike praktyk.

Dr Heese bespreek die invloed van die kerk, regstatus, kriminaliteit, die vryswartes as afsonderlike klas, landbou en die arb- eidsprobleem, en hoe dinge verander het toe die Britte oorgeneem het.

Nie baie mense besef dat nie-rassigheid teen 1700 in die uitgebreide Stellenbosse distrik ge-heers het (die grense van dié distrik het heelwat verander tussen die jare 1679 tot 1979, eers uitgebrei en toe weer ingekrimp, soos met kaarte in die boek aangedui word).

Vir my was veral die kwessie van identiteit ’n interessante aspek – ras was eers nie die kwessie nie, maar stand, soos die slawestand wat uiteraard die laagste stand was, hier en oorsee.

Dié rassediskriminasie sou later deur wetgewing “gestalte vind” (ook in die V.S.A. en Australasië). Hier het dit ná 1948 gegroei tot apartheid die hele maatskaplike sfeer oorheers het. Sommige bruin mense wou hulle status na wit verander sodat families uitmekaar geskeur is en swart mense wou bruin word om hulle nie pasboeke hoef te dra nie. Maar ek loop nou die storie vooruit.

Ook die name van slawe is interessant. Toe ek in 2012 ’n roman oor slawe geskryf het, het ek van die bronne wat Dr Heese in die inleiding genoem het, soos die vroegste populere werk hier-oor, Those in bondage, deur die argivaris Victor de Kock (1950) gebruik, soos maar in historiese romans gedoen word – doen eers navorsing oor die tydperk en die uitstaande individue, en kleur dan die ontbrekende dele met verbeelding in.

Tog wou ek die onbekende slawe op ’n manier vereer en daarom het ek na die name van werklike mense gesoek, wat ek toe gebruik het as die name van fiktiewe karakters.

Op dié manier kon hulle darem voortleef, het ek gedink; terwyl mense jou naam onthou is jy nie heeltemal vergete nie.

Dr. Heese skryf dat sekere Stellenbosse name wat in die 1700s hier ontstaan het, nog voortbetaan, soos Fortuin, Cyster, September en Tromp.

Bybelname is dikwels aan slawe gegee – Abel, Salomon, Rachel, Rebecca… hy sê dat talle van die vermelde vanne, en variante daarvan, in die kerk-, regs- en siviele rekords van Stellenbosch verskyn. Soms is name neerhalend bedoel, soos Apenkint, terwyl Kees weer nie as beledigend bedoel was nie.

Kees en Ot is vandag nog algemene Nederlandse name.

En soms is Nederlandse name of vanne aangeneem, dalk omdat daar ‘n wit stamvader was, of waar die slaaf die naam van die eienaar aanvaar het, ook nie noodwendig beledigend bedoel nie.

Nog ’n interessante kwessie wat in die boek ontbloot word is dat die bruin samelewing van die Stellenbosch distrik – en Kaapstad-omgewing – in die vroeë twintigste eeu hoofsaaklik van slawe-afstamming was, níé van Khoi-afstamming nie.

Dít op sigself, kan grondeise nogal kompliseer. Op die keper: hoekom is ’n boek soos hierdie relevant? Eenvoudig gestel, as ons wil verstaan hoe dinge gekom het soos dit vandag is, moet ons so na as moontlik aan die waarheid probeer kom.

En om dit te doen, moet ons op die vaardighed en integriteit van akademici soos Dr. Heese (hy was o.a. van 1978 tot 1998 ’n senior lektor-navorser by die Instituut vir Historiese Navorsing, Universiteit van die Wes-Kaap) staatmaak, en glo my, ons kan.

Geluk ook aan Sun Media met nóg ’n belangrike publikasie.

Naskrif: by die boek (sagteband, 196 bladsye, ISBN: 9781929357064, R225), is ook ’n CD. Dit bevat heelwat ekstra data: verskeie bylaes wat weens die omvang daarvan nie in die boek self opegneem kon word nie, wat wissel van opgaafrolle tot die geldelike waarde van slawe wat tussen die jare 1822 tot 1830 verkoop is.