Noem my sommer George. As jy wil, Koning George.

Foto van Koning George se landing.

My vriend dr. Charles Stofberg stuur ’n foto per e-pos. Dis van Koning George wat Suid-Afrika besoek.

Hy klim teen trappies uit en daar is water in die agtergrond, en Tafelberg se silhoeët is sigbaar.

So, die jong koning is besig om by die ou dokke aan land te gaan. Einde van daai storie.

Dog, kom ons kyk wat sê Google hieroor. “When King George VI arrived at Cape Town Harbour in 1947 at the start of his royal tour of the country, he disembarked the HMS Vanguard wearing a loose-fitting white uniform of the admiral of the fleet. Together with his family, which included his daughter, the future Queen Elizabeth, he was adulated at many points of his trip.” Wel, jippie.

Kom ons probeer die webwerf History Online. Ek vertaal: “Albert Frederick Arthur George wat later Koning George IV sou word is in York Cottage in Norfolk gebore, op 14 Desember 1895. George het geabdikeer, nes sy broer, Prins Edward op 12 December 1936. George was die Hertog van York (sy eggenoot was Elizabeth, die Hertogin van York) is gekroon as Koning George VI.”

Dis nou die een wat bietjie erg gehakkel het. Dit het darem ’n mooi fliek gebaar – Colin Firth was uitstekend in The King’s Speech.

Goed, moenie spot nie. Skryf dit af teenoor die twee vryheidsoorloë en ons gaan aan. En, ’n rasionele mens wonder: waaroor al die stres?

Is die tyd van Koning Arthur en die Ronde Tafel nie al verby nie? Is daar nie al genoeg koppe afgekap nie? (Mary, like a little lamb…).

Máár. Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog, het Koning George Suid-Afrika besoek.

In 1947, toe ons voorberei het vir die algemene verkiesing van 1948, het hy en sy familie Suid-Afrika (en ander Statebondlande) besoek.

Generaal Jan Smuts, leier van die Verenigde Party en Suid-Afrika se premier in die oorlogstyd, het gehoop dat die koninklike besoek tot die V.P. se voordeel sou wees.

Arme ou Jan… die teenoorgestelde het gebeur: die Nasionale Party het aan bewind gekom, en sou daar bly tot 1994.

Ja, arme ou Jan, hy herinner my so baie aan Thabo Mbeki, ook in Engeland geswot, jy weet, én heeltemal kontak met sy volksgenote verloor.

En kyk wat was die gevolge. Nogal sekere paralelle. Geskiedenis gaan uiteindelik oor patrone. So leer ons, hopelik. “The big picture, old boy. Wake up and smell the cordite.” Darem nie napalm in die oggend nie.

Prinses Elizabeth, wat later Koningin Elizabeth II sou word, het haar 21ste verjaardag gevier terwyl sy ons land besoek het (ek wonder hoe sý daaroor gevoel het?).

“Koning George was nie die eerste en die laaste lid van die Britise Koningshuis wat Suid-Afrika besoek het nie. In 1925 het die Prins van Wallis Suid Afrika besoek, en daarna het Koningin Elizabeth II die land in 1995 besoek, en weer in 1999.”

Nou ja, dit was die einde daarvan, smaak dit my. Lyk my hulle reken dis “Got that T-shirt…” of is hulle bang vir een of ander kompenasie?

Terloops, Elizabeth II is nie “Eliza the Eleventh,” soos ’n sekere Namibiese kommentator haar glo genoem het nie. Dis nou iets soos “Eliza the Eleventh and her Duck…” Dis nou haar man.

Die “Duke,” of in Afrikaans/Nederlands, “die Hertog”. Minstens is dit nie “and her dick” nie.

Ek wonder altyd, wat was die Afrikaners se belewenis hiervan?

T.O. Honiball, bekende Afrikaanse spotprenttekenaar, het die volgende staaltjie vertel: die Prins van Wallis besoek Stellenbosch. ’n Sekere oom hoor de prins gaan by ’n seker vooraan-staande tante oornag.

Hy raak erg nuuskierig. Hy lui die deurklokkie. Die tante, wat hy goed ken, is só opgetof om die “royals” te ontvang dat hy haar nie herken nie. Hy staar haar aan. “Oh,” stamel hy, “good evening. You must be Missus Prince.”

Persoonlik verstaan ek glad nie die fassinasie van baie Afrikaners met die koninsgesin van Brittanje nie.

Wat de joos het hulle hoege-naamd met ons te doen?

En so hou ons eenmaal ’n braai by ons huis – dis nou Ronellestraat 87, Brackenfell, Suid-Afrika, nie Bracken House, 10 Cannon Street, Londen nie – en die vroue sit voor die televisie.

Daar is ’n uitsending van wyle Prinses Diana se seun William se troue.

Ek vra hulle wáárom die belangstelling? Een tante spring op: “Wat de hel weet jy tog van geskiedenis af?”.

Die manne wat op die grasperk rook is nie juis simpatiek nie. “Dit gaan oor die Prinses Sindroom,” mompel een. “Moenie die verdomde sprokie-borrel laat bars nie.” En ek dog “daddy-issues” was vroue se grootste probleem.

In elk geval, nou weet ek hoekom hulle nie meer hierheen reis nie.

Daar is mos televisie.