Nico Carstens word vereer

Nico Carstens

Die akkordeonvirtuoos Nico Carstens, wat verlede jaar op die ouderdom van 90 afgesterf het, word op Sondag 15 Januarie om 8.15nm by die Oude Libertas Amfiteater op Stellenbosch vereer.

Ingrid Howard van Tale Be Told Produksies en Drostdy Teater op Stellenbosch vervaardig die vertoning en Stanislav Angelov behartig die musiekregie.

Nico oes talle toekennings in, inspireer menige aspirantmusikant en verower en betower die ganse wêreld met sy gewilde en onmiskenbare Carstens-musiek, waarvan onder andere Zambezi ’n wêreldtreffer word.

Hy was vir 75 jaar professionele komponis, orkesleier en ikoniese musikant. Hy en sy “Nico Carstens-orkes” wat hy in 1951 gestig het, het gereeld opgetree by danse, konserte en het deur die hele Suid-Afrika, Zimbabwe, Zambië en Namibië getoer asook na die Nantesfees in Frankryk.

Nico het musiek, wat alle kulture, tradisies en kleure van ons Reënboognasie insluit, geskryf en gespeel en was geag as een van die top tien akkordeonspelers in die wêreld.

Stanislav Anguelov (akkordeon en musiekregisseur), Schalk Joubert (kitaar), Kevin Gibson (tromme), Andrew Ford (klavier), Anna Davel (sang), Pietman Geldenhuys (sang), Willie van Zyl (saksofoon) en Hano Smit (kitaar) span saam om in die splinternuwe verhoogproduksie, ter ere van Nico se lewe, glanstyk te vier. Nic de Jager knoop die uitsonderlike Carstens musiek met stem en beeld mooi saam.

Prys: R180

Plek: Oude Libertas Amfiteater, Stellenbosch

Tyd: 8.15nm

Besprekings: Computicket