’n Stukkie onverwagte kultuurgeskiedenis

My vriend wat in Fransch-hoek woon het my op ’n Saterdagmiddag (net voor 15 Merino’s op Nuweland deur 14 Groen Aartappels verorber is) per e-pos gevra waaroor die gesprek by Protea se boekwinkel op Stellenbosch gegaan het.

Hy het gehoor dit gaan oor “Afrikaanse filosofie”. Wat op aarde is dit? – wou hy weet.

My antwoord aan hom (sy vraag is immers relevant) was as volg:

Die “Afrikaanse filosofie” gaan oor die tradisie van filosofie as vakgebied in Afrikaans by Suid-Afrikaanse univeristeite, dus ons eie tradisie (bv. die legendariese prof. Johan Degenaar se bydrae) soos die Duitsers ’n tradisie in filosofie het met Heidegger, Hegel, Nietzsche en Schopenhauer.

Prof. Pieter Duvenage, die skrywer van Afrikaanse filosofie: perspektiewe en dialoë en spreker by die bekendstelling van dié boek (Prof. Desmond Painter was die fasiliteerder), is ’n vurige voorstander vir die behoud van Afrik-aans as onderrigtaal.

En, ek stem met hom saam dat meertaligheid vir enige mens ’n besliste voordeel is, maar dat jy werklik eerlik dink en skryf in jou moedertaal, die “kode” waarin jy dink, met die spesifieke woordeskat wat dit behels, die nuanses waarmee die skrywer emosies of situasies presies kan beskryf – dink aan woorde soos “milieu”, “mensch”, “putsch” en “lekker” – in geen taal is daar woorde wat so presies in-die-kol is met wat hulle beteken nie.

Wêreldletterkunde, filosofie en algemene spreek- en dinktaal selfs, is sodoende verryk en kan ons onsself beter uitdruk en beter verstaan word.

Kommunikasie word dus verbeter deur kennis van verskillende kulture.

Sommige tale het immers ’n groter woordeskat as ander, net soos sommige meer geskik mag wees as wetenskaptaal as ander.

Dit beteken natuurlik nie dat ’n taal nie die nuwe terminologie kan ontwikkel om aan te pas nie – daarvan het Afrikaans juis ’n pragtige tradisie, ’* tradisie wat onder meer deur joernaliste impetus gegee is.

Hiervan is Louis Hiemstra ’n bekende voorbeeld, uit die kinderskoendae van Afrikaanse joernalistiek.

Prof. Lina Spies, Hermann Giliomee, Albert Grundlingh, en ander prominente akademici was ook daar en het hulle menings geopper.

Soos dat jy kreatief in enige taal kan wees, maar die oortuigendste in jou moedertaal, die eerlikste.

Inderdaad kom lesers dit agter indien ’n skrywer nie uit sy/haar hart skryf nie. Dit gaan dus ook oor geloofwaardigheid van tekste. Hetsy dit prosa of nie-fiksie is.

Ek sou kon byvoeg dat ’n mens in verskillende tale in verskillende stemme skryf – dis wat ek ervaar as ek in Engels skryf – maar dat jou outentieke stem jou moedertaalstem is.

Elke taal het ook sy eie ritmes en jy kan ook in Afrikaans beter in die direkte rede en teenwoodige tyd skryf, teenoor Engels wat vir my beter werk in die indirekte rede en verlede tyd.

Om verskillende stemme en tegnieke te leer maak van jou ’n beter skrywer en denker, glo ek, terwyl jy ook inskakel by die rykdomme van verskillende kulture.

Dink maar aan Shakespeare se hele wêreld, en die tradisies wat by hom aansluit.

Prof. Duvenage reken dat wanneer jy ’n taal versmoor, jy ’n hele kultuur doodmaak.

So verarm jy nie net ons wêrelderfenis in sy geheel nie, maar kortwiek ook die potensiaal van individue om meer afgeronde mense te word – as jy ’n taal leer, leer jy ook ’n nuwe kultuur ken.

Só het ek self geleer toe ek strokiesboeke in ander tale gelees het, en besef het dat selfs die humor van elke volk ’n variasie is op dít wat elke mens laat lag, en hoe ons beter aanklank by mekaar kan vind.

Prof. Duvenage sê al kans wat Afrikaans op oorlewing het is dat ons private instansies skep, Afrik-aanse universiteite waar enigeen kan studeer, solank hulle aanvaar dat Afrikaans die onderrigtaal sal wees soos Frans by die Sorbonne, Duits by die Freie Universität van Berlyn… en Engels by Oxford.

My gevoel hieroor is dat dit tragies is dat tale onderduk word, of geen kans gegun word om te ontwikkel nie.

In laasgenoemde groep val ons swart tale, wat Afrikaans se voorbeeld kan volg deur neologismes te skep om hulle woordeskat uit te brei.

Gebeur dit nie, ontbeer ons nasate die geleentheid om swart mense se kreatiwiteit in ons gesamentlike kennispoel te kan implementeer.

En dit wat reeds deur Afikaans-sprekendes geskep is of nog geskep kan word.

Onthou, ’n taal is ’n manier van dink en as ons as mense vanuit hoe meer hoeke dink, sal ons meer oplossings vind.

Bowenal dink ons meer effektief in ons eie, van-moederskoot-af-ingebedde kodes.

Prof. Duvenage het uit Bloemfontein na Stellenbosch gekom om oor filosofie te praat, en hy n ét – filosofie, terloops gaan oor “die liefde vir die wysheid” soos dit in Grieks beteken – en álmal bedryf dit, elkeen wat dink en gesels filosofeer as’t ware.

Maar filosofie as vakrigting is ’n dissipline wat ons leer om meer logies of gestruktureerd te dink.

As ons in ons onderskeie moedertale kan dink en filosofeer kan ons dit beter doen. Daarvan is ek nou oortuig.

Boonop, vir my, wat meer oor filosofie in Afrikaans wou weet, het toe sommer ook ’* stukkie kultuurgeskiedenis bygeleer, op dié sonnige wintersoggend op Stellenbosch.