’n Russiese prins in Bloemfontein: sy indrukke neergepen

Die titelblad van Volkonsky se memoir.

Boris Gorelik, bekend vir onder andere sy biografie van die kleurryke Vladimir Tretchikoff (1913-2006), en oor wie se werk oor Russiese reisigers – An Entirely Different World, Russian Visitors to the Cape 1797-1870 – ek tevore in hierdie rubriek geskryf het, het nóg ’n bydrae tot die inligting oor Russe in Suid-Afrika gemaak.

Hy sal sekerlik eendag ingesluit word by dié uitgelese groep wat spore vanuit Moeder Rusland tot hier nagelaat het. Want as dit nie boeke is wat hierdie energieke en entoesiastiese man skryf nie, is dit artikels.

Soos “A Russian prince in a Boer Republic” – wat in die Bulletin of the National Library of South Africa, vol. 70, nr. 1, Junie 2016 verskyn het.

Daarin skryf hy oor die uitgesproke prins Grigory Volkonsky (1864-1912), ’n man wat ten spyte van swak gesondheid (skynbaar tuberkolose) die lewe vierkant in die oë gekyk het.

Wat die Russe doen, doen hulle met oorgawe. En so het hierdie prins se grootvader, ’n oorlogsheld van die Napoleontiese oorloë, teen keiser Nicolaas I opgestaan, en is hy van sy adellike titels gestroop – en na die yshel van Siberië verban.

Gevolglik is die banneling se seun, Grigory se vader, as ’n lae lyfeiene gebore. Maar ná die rojaliste in Rusland onderwerp is, het hy vir homself naam gemaak, selfs senator geword.

Dit wys jou wat gedoen kan word as jy ywer en ambisie het.

Boris skryf dat baie siek mense in die 1800s na die droeër klimaat van die Vrystaat gekom het, en ná ’n kort verblyf op Madeira het die jong prins, Boris se “hoofkarakter”, ook na Suid-Afrika gekom, na alle waarskynlikheid oor die klimaat, sodat hy teen die einde van die 19de eeu daar aangeland het.

Hy het in die Seepunt Hotel gewoon en toe per trein van Kaapstad na Kimberley gereis. Die ontluikende myndorp het hom glad nie aangestaan nie: hy kon net die stof, baksteenhuise met sinkplaatdakke en markplein vol ossewaens onthou.

Kimberley het vir hom iets tussen aaklig en pretensieus voorgekom – die hotelle was soos vals strukture uit ’n Wilde Weste fliek, en die tuine agter heinings van aalwyne en turksyplante het hom nie aangestaan nie.

Hy het gevoel hy kon eers weer asemhaal toe hy die veld sien.

Daarvandaan is hy per poskoets na Bloemfontein (of soos Boris dit noem “the Boer capital”), en hy het blykbaar die rit geniet, want hy noem dat die vlaktes hom aan die Russiese steppe herinner het – behalwe vir die koppies wat hier en daar te sien was.

Tog het hy nie so lank daar gebly as wat hy aanvanklik beplan het nie. Ná ’n paar maande sou hy weer die pad vat. ’n Mens kry die gevoel dat die eenvoud daar hom wel geval het, maar dat hy later tog na sofistikasie verlang het.

Suid-Afrika was immers nie Rusland of Europa nie.

Gedurende die Rus se tyd in Bloemfontein was daar nog vrede, al het die Vrystaatse president, F.W. Reitz, al gepraat van ’n militêre verbond tussen die Boerepublieke.

Hy beskryf ook ’n besoek van die Britse hoë kommissaris en goewerneur van die Kaapkolonie, Sir Henry Loch, aan Bloemfontein.

Volonsky is nie deur die hoë amptenaar se breedsprakerigheid beïndruk nie.

Miskien het hy al te veel met adellike valsheid te doen gehad, maar Boris vertaal Volkonsky se beskrywing van die Brit as volg: “… mysterious as a sphinx with an enigmatic smile in his beard” en “… ten years later, at the beginning of the war, Loch finally showed his true colours. Recently, speaking at the Imperial Institute [in Londen] he expressed the hope to see the two republics annexed! Goodbye, Sir Henry!”

Volkonsky onthou hoe indrukwekkend Pres. F.W. Reitz voor-gekom het en hoe hy wat Volkonsky is, met die toekomstige president, M.T. Steyn, se broer skaak gespeel het, en danspartye wat deur 300 mense bygewoon was.

Bloemfontein het sy attraksies gehad…

Ook het hy hom aan die aandklokreën wat vereis het dat swartes teen agtuur uit die stad moes wees, verwonder. Dit lyk asof hy simpatie met hulle gehad het: “They… go into their shacks, so low, so dark, so smoky…”

Maar nege jaar later, toe die Tweede Boereoorlog, soos hy dit noem, uitbreek, is onse Volkonsky op die Franse Riviera, in baie opsigte ’n wêreld verwyderd van Bloemfontein.

Dog, hy het die Boererepublieke passievol in die media verdedig – ook vir dié wêreldfiguur in die literatuur van daardie dae, Leo Tolstoy, gevra om die Boere se saak te verdedig, wat Tolstoy ook gedoen het.

Volkonsky het self artikels in Franse, Russiese en Duitse koerante geskryf, aook ’n pamflet getiteld For the Boers against Imperialism (1900).

Vreemd genoeg is hierdie memoir van Prins Grigory Volkonsky nooit in Russies uitgegee nie.

Nietemin, soos sy landgenote voor hom wat die ou Kaap besoek het en Tretchi heelwat later, het Prins Volkonsky sy merk hier gemaak.

Danksy Boris Gorelik.