’n Nuwe boek, meer lig op ’n ou onderwerp

Die VOC aan die Kaap 1652 - 1795.

Vir ’n jaar of wat hoor ek al gerugte van ’n nuwe boek oor die V.O.C. – die Vereenigde OostIndische Compagnie, vir dié wat nog nie weet nie – die aanvanklik Nederlandse, en latere internasionale maatskappy wat ons almal hier tesame gebring het, kapitalisme in sy oer-oue vorm: wins, wins, wins …

Altans, die beweegrede vir die samestelling van die boek is juis om ’n groter belangstelling te kweek vir die spesifieke tydperk in ons geskiedenis wat die boek dek – die jare 1652 tot 1795 – wat nie die eerste jare van ons land se geskiedenis is nie, maar wel die eerste van die gedokumenteerde jare daarvan is. En dis besonder deeglik gedoen ook.

Dis nou die oorspronllike dokumentasie, maar dieselfde geld vir die boek, wat deur bewese kenners van die onderwerp gedoen is. Soos Deon Visser, een van die medewerkers, op bladsy 203 skryf: “Oermense het reeds vir ’n miljoen jaar voor die koms van die Nederlanders in Suid-Afrika gewoon, terwyl die moderne mens na raming sowat 200 000 tot 100 000 jaar gelede hier te lande, en elders in Afrika ontwikkkel het.

“Die Kompanjie moes dus uit die staanspoor met die inheemse bevolking om skaars hulpbronne meeding, wat onvermydelik op konflik en dringende aandag aan binnelandse beveiliging vereis het.” Inderdaad, is dit nie wat mens en dier vir soveel millenia lank al doen nie?

Dit laat ’n mens dadelik aan Julius Malema se bewerings oor wit mense as “tydelike besoekers” dink, en die kwalik verskuilde dreigement oor uitdelging in die (moontlik nabye) toekoms.

Die amper meer tragiese implikasie is die feit dat bruin mense volgende aan die beurt sal wees – al was hulle voorsate, altans die Khoi – lank voor die “etnies swart” én wit mense hier, hierdie stukkie grond wat nou as die Wes-Kaap bekend staan.

Die kleim van “eerste” besettingsreg (die mens is glo al honderde duisende jare op aarde, so wíé was eerste wáár?) word dus weer eens die bruin mense ontneem.

Ons hoop egter hierdie barbaarse en kortsigtige selfsug word die land gespaar; hierdie gebrek aan kompromie wat net op algehele vernietiging kan uitloop.

Nogal ironies, die wete dat die eerste groot evolusionêre sprong wat die mens glo gemaak het juis gebaseer was op die besef dat hy en sy nie kan oorleef indien daar nie samewerking en wedersydse empatie is nie … dog al hierdie dinge word gewoonlik deur sosiopatiese politici ongedaan gemaak.

Terug na die hede, die werklikheid en die boek: Dit was met groot antisipasie en ’n bietjie perspirasie ook, want dit was nogal warm op Stellenbosch, wat ek die boek by Protea se winkel – Protea is ook die uitgewer, terloops – gaan koop het.

Maar om die netjiese, imposante boek van 575 bladsye in die hand te hou, is werklik ’n plesier (te hel met Kindles en Gobi’s, papier gee plesier én hou langer!), en ’n vinnige kyk na die inhoudsopgawe het my reeds oortuig dat ek die boek nog baie gaan raadpleeg vir eie navorsing en skrywes. Daar is ook iets wat ’n mens dadelik laat dink: “toeganklikheid”, anders as die baie geskiedenisboeke wat jou laat sug en dan frons jy en begin vasberade lees omdat jy immers agter inligting aan is, níé vermaak nie.

Dr. Con de Wet, Jan Visagie en prof. Leon Hattingh as redakteurs en mede-skrywers, asook ikoniese name in die genre soos Dan Sleigh, Thean Potgieter, Helena Scheffler, Hans Heese, Piet Westra en die Fagans, Gawie en Gwen, is almal daar.

Ook my ou vriend, oorlede George Hofmeyr. Elkeen lewer ’n bydrae tot hierdie pragboek vol insigte van gesoute navorsers, met illustrasies en bylaes met uiteensettings en lyste van kommissarisse, bevelvoerders en dies meer, en fiskale wat die ou Kaap besoek het – inligting wat elders uiters skaars bekombaar is, glo my vry.

UiIteraard is geen boek in staat om ’n volledige samevatting van byna 150 jaar se geskiedenis ineen saam te vat nie. ’n Mens kan bloot volgens temas, vername temas (volgens subjektiewe en kultuurgebaseerde besluite) ’n beeld van ons vernaamste personalia en handelinge te bied. Nogtans is hierdie ’n vername – nee, onontbeerlike – stuk werk wat geen belangstellende in die wording van ons nasie kan misloop nie.

Vir my het Dan Sleigh se roman Eilande (2002) ’n gleuf oopgebeur waardeur die lig deurgeskyn het om duisende mense te laat ontwaak om kennis te neem van ons as sogenaamde reënboognasie.

Ek sê niks verder nie, niks. Koop self die boek. Lees dit, verstaan dit. In kort: lees, leer, lewe. Of: lees om te leer om te lewe.

Hier het jy op ’n skinkbord die geleentheid, geskep deur mense wat hulle lewens gewy het aan die ontdekking van die begrip of konstruk van wat ons gemaak het wat ons is. Ek wens mense soos Malema en Zuma wou ook hierdie begrip, hierdie insig, begeer.

By ’n ander geleentheid sal ek spesifieke temas binne hierdie boek uitlig en bespreek.