’n Baie belangrike boek oor vernedering

Elke mens word met vooroordele groot. Daarom juis, is nodig om na objektiwiteit te streef, al glo min mense skynbaar daaraan.

Soos altyd egter, wanneer ’n mens met ’n ingewikkelde abstrakte konsep gekonfronteer word, is dit raadsaam om aan jouself te vra: wat sal die alternatief wees?

Wat sal gebeur as daar byvoorbeeld nét subjektiwiteit sou bestaan; dus totale minagting van ander mense se gevoelens en welsyn?

Ons regstelsel sal nietig verklaar kan word, skeidsregters is onnodig, en emosie sal logika geheel en al vervang.

Al hierdie gedagtes kom by my op wanneer ek ’n boek soos Apartheid, Britain’s bastard child deur Hé* ène Opperman-Lewis lees. Laat ek verduidelik: hierdie boek is een wat elke denkende Suid-Afrikaner gerus kan lees, verkieslik saam met ander boeke soos Hermann Giliomee se Die Afrikaners.

En dis juis in Giliomee se boek wat ek lees: “Om te verstaan is nie noodwendig om te verskoon nie, maar daar is geen skade daarin om te probeer verstaan nie.”

Ek sou ook graag Een eeu van onreg (glo deur Jan Smits geskryf oor Britse imperialisme teen Afrikaners én swart mense) en The Secret Society deur Robin Brown (oor Cecil John Rhodes se beweerde geheime organisasie om die wêreld oor te neem) wil lees.

Hoekom boeke saam-saam lees? Omdat elke skrywer daai stryd stry (hopelik) om eie vooroordele te onderdruk en ’n ewewigtige mening te bied.

Lees jy meer menings (of boeke), kom jy nader aan die waarheid, soos om baie siwwe te gebruik tot jy die goudklontjies kry. Geen boek is die laaste woord op enige onderwerp nie, maar wel ’n bydrae tot beter begrip daarvan.

Opperman-Lewis wend wel ’n heldhaftige poging aan om ’n uiters, uiters sensitiewe onderwerp, wat juis dáárom nog so min aangeraak is, te belig.

Daarvoor behoort sy krediet te kry, maar laat applous nie daar wegsterf nie: hierdie boek, wat haar 15 jaar geneem het om na te vors en te skryf, is ’n belangrike bydrae tot die genre van geboekstaafde politieke kommentaar in Suid-Afrika, asook die groeiende vakrigting genaamd psigogeskiedenis wat fokus op die menslike gedrag agter geskiedkundige gebeure.

Opperman-Lewis maak die punt dat vernedering ’n emosie is wat onderskat word, die slopende trauma wat volg as die wat dit veroorsaak se pyn nie verlig word nie, sy gee voorbeelde uit die geskiedenis, soos die verskrikking wat die Anglo-Boereoorlog (of Suid-Afrikaanse Oorlog), veral die konsentrasiekampe en Verskroeide Aarde beleid meegebring het, asook die ekonomiese skade wat Afrikaners ervaar het en hoe die emosies van een generasie na die volgende oorgedra is, omdat dit nie aangespreek en opgeklaar kon word nie.

Dieselfde kan van swart mense se trauma weens wit oorheersing gesê word, gesien uit hulle perspektief, hoewel dit maklik by wit mense verby kan gaan.

Hierdie boek se grootste tref-krag is om ’n perspektiefskuif te maak, deurdat dit feitelike agtergrond verskaf vir talle vrae oor ons politieke situasie en die aanloop daartoe, en ook psigologiese verklarings gee vir menslike optrede, aangebied deur ’n sielkundige, nie iemand wat bloot rasionaliseer en op Google gaan soek het om sekere punte te probeer maak nie.

Apartheid het ’n lang aanloop gehad, wat die skrywer deeglik uiteensit, en elke aspek word verduidelik, sedert die eerste Britse besetting in 1795.

Van besondere belang is die tydgees van verskillende eras wat ook deeglik geskilder word, die perspektiewe weereens, van Britte teenoor alle ander mense (’n chauvinistiese wêreldbeskouing), insluitend dus Suid-Afrikaners, wit én swart.

Met die Britte se aankoms het dinge hier drasties verander. (Iemand behoort pres. Zuma te vertel, want ek glo nie hy sal Dan Sleigh se boek 1795 lees nie, en helaas ook nie Opperman-Lewis s’n nie.)

Soos genoem, was groot rolspelers soos Rhodes en Alfred Milner, en die propaganda-oorlog wat hulle gevoer het, bepalend vir die uitkomste waarmee eeue later geworstel sou word.

Want wanneer ’n volk verguis word; fisies, ekonomies en sielkundig aangeval word vir dekades lank, is daar ’n kettingreaksie en sal daar geen goeie einde verwag kan word nie.

Nogtans probeer die skrywer nie die blaam vir apartheid geheel en al verskuif nie, sy dui wel aan dat daar baie wyer gedink moet word en wys daarop dat die blaam lankal op een groep gefokus is, terwyl ander hulle hande gerieflik gewas het, veilig op die morele grond wat hulle self geskep het.

Om na Giliomee se Die Afrikaners terug te keer vir oulaas: “Daar was inderdaad drama, heldedade en grootmoedigheid in Afrikanergeskiedenis, maar ook onderdukking, gierigheid en die ontmensliking van ander.”

Dit moet onthou word dat mense maar mense is, vol foute, maar dat ons dit moet erken en beveg, en dat ons eerder patriotte moet wees wat die land vreedsaam wil ontwikkel as om aggressiewe, haatdraende nasionaliste te word – want dis wat “nasionalisme” beteken (kyk gerus op Google), en ons weet dat vernedering, verontmensliking en minderwaardigheidsgevoelens oorerflik is.

Apartheid, Britain’s bastard child word deur Reach Publishers uitgegee.

Die skrywer kan by 083 676 0724 of hlo@gmail.com bereik word.