Monument van ’n siel: die Afrikaanse Taalmonument

Voorblad van Taalmonument (Historical Media Bpk., 2014).

So ’n paar maande terug kry ek ’n boek in my posbus, getiteld Taalmonument, en die skrywer word aangegee as Jan van Wijk.

Binne-in is ’n brief van Michael Jonas, direkteur van die monument, plus ’n “inligtingsboekie”(so noem hulle dit) met die titel Die Taalmonument, van konsep tot gestalte, uitgegee deur die Afrikaanse Taalmuseum en – monument. In die brief staan laasgenoemde kos R15.

Ek onthou dat leerlinge van my alma mater Parow-Wes Laerskool die monument in sy onstaansjaar, 1975, besoek het. Ek was toe reeds in Standerd 6 en het die uitstappie dus gemis, en ek vóél steeds die teleurstelling.

In die Afrikaanse koerante van daardie tyd was die onthulling van die monument voorbladnuus, so ek het gaan oplees – en die voorsitter van die program-en reëlingskomitee, adv. Paultjie de Villiers, het op 10 Oktober gesê: “Alles wat begeesterde mense kan doen, is gedoen om te verseker dat die gedenkwaardige dag glad verloop.”

En “begeesterd” was die woord. Mense was regtig geesdriftig. Op een voorbladfoto sit die argitek, Jan van Wijk (1926-2005) by ’n balsamodelletjie van die monument, met die ware J akob agter hom.

Hy het gesê dit het hom koue rillings gegee toe hy die modelletjie, wat hy self 10 jaar tevore uitgekerf het, daar neersit.

In die (groter) boek met sy naam daarop word sy tekeninge en die verskillende stadia van die bouproses grafies uitgebeeld, en daar is werklik pragtige foto’s in dié boek, waarvan sommige in die kleiner boekie ook te sien is, soos op dié se voorblad, waar die suile rooierig verlig is, met ’n pêrelkleurige volmaan net regs daarvan, asof in perfekte, natuurlike harmonie; voorwaar ’n pragtige komposisie deur die fotograaf.

Nietemin, die invloede van ander tale op Afrikaans, soos uit die Indo-Europese groep (bv. Germaanse en Romaanse subgroepe), die Austronesiese groep (bv. Maleisies) en ook Khoi-dialekte word bespreek.

Afrikaans is vandag die derde grootste taal in ons land en is byna sewe miljoen mense se moedertaal, terwyl ongeveer sewe miljoen dit ook as tweede of derde taal gebruik.

Hoewel hierdie taal, wat ter plaatse ontstaan het en dus inheems is, nou onder beleg skyn te wees, is dit beslis ’n relevante kultuurverskynsel én bruikbare kommunikasiemiddel.

Die verskillende taalin-vloede herinner my aan toe ek diensplig as onderwyser in die Wes-Caprivi gedoen het, was die voertaal onder die verskillende groepe daar (wittes, Capriviane, Okavango’s, Boesmans, Bruin mense, ens.) Afrikaans.

Die verskillende Boesmanstamme (daar ken hulle nie die woord “San” nie) kon nie mekaar se dialekte verstaan nie, en het Afrikaans met mekaar gepraat.

Maar waar kom die idee van ’n taalmonument vandaan?

Blykbaar is dit in Augustus 1942 reeds geopper tydens die onthulling van ’n gedenkplaat in die begraafplaas van Dal Josafat naby die Paarl, waar stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), S.J. Du Toit, D.F. Du Toit en P.J. Malherbe (almal ironies Franse familiename, en Frans is destyds, in die 1600s, deur die Hollandse regeerders soos Simon van der Stel onderdruk) begrawe lê.

’n Maand daarna is die Afrikaanse Taalmonumentkomitee in die lewe geroep, onder voorsitterskap van ds. P.J. Loots. Hulle sou fondse insamel vir die oprigting van “’n waardige taalmonument in die Paarl”.

In 1964, is ’n kompetisie vir die ontwerp van die monument uitgeskryf en twaalf argitekte is genooi om deel te neem. Volgens die opdrag moes die monument “van ver af sigbaar wees en onder meer die kulturele en staatkundige opbloei van Afrikaans uitbeeld.” Die wen-ontwerp was dié van Jan van Wijk.

Die terrein van die monument, wes van Bretagne-rots op Paarlberg, is alreeds in 1963 gekies en die Paarlse munisipaliteit het sowat 84 hektaar grond kosteloos vir hierdie doel aan die staat oorgedra. Bouwerk het in 1972 begin en die boukoste het ongeveer R700 000 beloop.

Die inwyding, soos genoem in 1975, het honderd jaar na die stigting van die GRA plaasgevind en is deur 40 000 bygewoon.

En soos ook genoem, was ek nie een van hulle nie, maar ek het die terrein darem al telkemale besoek, o.a. om een aand na Drie van die Bestes, Danie Niehaus, Mathys Roets en Kevin Leo te luister. En ek het die DVD gekoop om te bewys: ek was daar.

Soos Jan van Wijk vir die openingsgeleentheid geskryf het: “En daar staan sy. Tydloos teen die berg. In hierdie tydloosheid moes sy omlyn word. Is sy omlyn. En klip se kind het ’n suster gekry. Klip teen klip uit eie klip gemaak.”

Hoe lank gaan dié sonderlinge monument nog daar staan, wonder ’n mens, daar waar onder meer heerlik piekniek gehou word onder die toringhoë suile (“kultuur, natuur én plesier,” word die pieknieke geadverteer), en die antwoord is waarskynlik: “Langer as enigeen van ons wat dit nou kan sien gaan leef.”

Só hoop ek van harte. ’n Taal is die siel van ’n kultuurgroep en siele is immers onsterflik.