Minder poste, baie werk – hoe dan nou?

Ironies genoeg tref hierdie aflewering julle in die vakansie, weg van volgepakte programme by die skool of die werk? Dalk bied dit die afstand wat nou nodig is…

Ja, bewustelik of onbewustelik beskou ons steeds ’n goeie werk as ’n permanente werksgeleentheid met vakansies, bonusse en subsidies. Daarvan is daar al hoe minder beskikbaar en werkloosheid onder die jeug groei oënskynlik elke jaar.

Miskien lees u hier as ’n grootouer of ouer, en is u oud genoeg om in die versoeking te kom om plaaslike gebeure van die afgelope 20 jaar die skuld te gee. Dalk verbind u dit met die ineenstortng van finansiële markte, sosio politieke faktore in ons land en die nou deeglik deurtrapte klagte oor ’n ontoereikende onderwysstelsel.

Ons het immers die een kurrikulum na die ander, hersien en oorontwerp gesien sedert 1995.

So onlangs as hierdie jaar bring die Departement van Arbeid, soos elke jaar, ’n verslag uit wat van hierdie syfers aanhaal met slegs ’n terloopse verwysing na die wêreld ekonomie.

Tog droom ons langtermyn drome vir ons kinders, terwyl ons reeds oor die afgrond van ’n uitgediende loopbaankonsep sweef-hoopvol op ’n beter toekoms as ons asem net kan hou tot na die roller coaster rit?

Intussen word ’n Nuwe Wêreld van Werk reeds vir meer as twee dekades voorspel, beskryf en in die samelewing gereflekteer.

Hiervan beskou ek William Bridges se Jobshift (1990), waarin hy vir die eerste keer verwys na die term “dejobbing”, as ’n keerpunt in ons begrip en denke van hierdie ontvouende wêreld. Die noodwendige gevolge van die tempo van tegnologiese ontwikkeling, met ’n paar ontwrigtende innovasies tussen in, het die kennis era finaal laat oorgaan in wat nou deur die WEF beskryf word as ’n vierde industriële rewolusie.

Bridges se “dejobbing”, wat beteken dat die vaardigheidstelle vroeër netjies en hierargies geranskik in poste, beroepe en organogramme, nou ontbondel het en verrig kan word deur baie mense wat die opleiding en vaardighede ontwikkel het om dit oor organisasies heen as gekontrakteerde individue en konsultante te verkoop.

Kennis is immers nou net ’n google ver en dis die toepassing daarvan in ’n bepaalde werksomgewing wat die verskil maak.

Waar die sielkundige kontrak in die verlede beskryf sou kon word as ’n ouer-kind kontrak met die werkgewer as spreekwoordelike ouer wat sorg, dissiplineer en beloon en die werknemer as spreekwoordelike kind wat met die belofte van beloning, bevordering en hoër besoldiging, het dit skielik oor ’n dekade verander na ’n volwassene tot volwassene kontrak.

“Wat bring jy na die tafel, jongeheer/dame-dis wat ons bied” en ons is huiwerig om dit van meet af vas te maak in ’n permanente kontrak sonder prestasie of minstens produktiwiteitsklousules.

Die vraag is dus nie meer soseer wat is jou punte of kwalifikasie nie, maar eerder “Wat kan jy vir my doen en hoe gou kan jy so produktief as moontlik wees en my help om die uitdagings van my opponente te oortref” – met ander woorde, wat is jou toegevoegde waarde.

Maar nou sal u verbaas staan in hoe ’n mate jongmense reeds in hierdie wêreld aanpas en leef, met aanlyn besighede en inisiatiewe wat potensieel die tipe toegevoegde waarde bring waarsonder besighede toenemend nie kan klaarkom nie.

U is dalk self ook skuldig daaraan om vir n kleinseun te vra wanneer hy ’n “regte” werk gaan kry, en om sy /haar studies te voltooi as iets om op “terug te val” eerder as ’n vreemde behoefte om ’n video op You Tube te kry.

Die inhoud van sy/haar kursus vyf jaar na verwerwing daarvan, gaan tien teen een nie meer geldig wees nie en hulle dwing om te gaan Engels gee in Korea of Taiwan om hul studie skuld te delg… ’n Korttermyn oplossing met potensieel pynlike langtermyn gevolge…

Die skoolstelsel waarin ouers en kinders steeds met hart en niere inkoop in die strewe na akademiese prestasie as toegangskaartjie tot keuringskursusse aan top instellings, ontbreek nog meer male aan die toepaslike houdings, verwagtinge en oordraagbare vaardighede waarvoor die wêreld van werk uitroep.

Niemand gee ooit weer formeel aandag aan hierdie aspek van hul voorbereiding vir die wêreld van werk nie.

Ek wonder dus tog watter persentasie van jongmense verlaat die skool met ’n goed deurdagte geïndividualiseerde plan A, B en C vir sy/haar verdere loopbaanontwikkeling in lyn met hierdie nuwe wêreld van werk en grootliks bevry van ongeldige verwagtinge deur u en ek as hul borge en mentors?

Iemand het eendag gesê as die feite verander, verander hy van plan. Wat doen u meneer/mevrou? Wat moet hulle nog doen om ons erkenning as die leiers van nou te verdien, terwyl ons lees van die een na die ander plaaslike suksesverhaal sedert Mark Shuttleworth.

Niel Mostert is ’n voorligtingsielkundige van Somerset Wes, en stel belang in die wêreld van werk.