Elf van die digter Eugène N Marais se gedigte kan in die Groen Galery, die opelug-galery in die tuin van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl, gelees word.
Dié nuwe uitstalling vier die nalatenskap van dié bekende skrywer, digter, joernalis en natuurnavorser en kan tot Julie 2017 besigtig word.
Die galery is geleë in ’n intieme deel van die tuin, agter die monument. Die gedigte is op groot panele gedruk wat in rame van herwonne hout en glas uitgestal word, in pas met die “groen” tema, wat op vernuwing sinspeel.
Die – agt Afrikaans en drie Engels – is Winternag, Die dans van die reën, Skoppensboer, Lalasini, Sonder betaling, Die oorwinnaars, Die spinnerak-rokkie, Di meisies, Ode, Addressed to the Paarl Composed on Paarl Mountain, Anglified Africanders en Love.
Winternag word beskou as die eerste letterkundig betekenisvolle Afrikaanse gedig, en is aangewys as die gewildste Afrikaanse gedig nóg.
Die uitstalling word aangebied in vennootskap met die Eugène Marais Stigting in die Paarl, ’n organisasie sonder winsbejag met die doel om die lewe van Marais op ’n interaktiewe en opvoedkundige wyse te omsluit en aan ’n diverse gemeenskap bekend te stel.
Vir navrae, skakel 021 863 0543, epos admin@taalmonument.co.za, of besoek www.taalmonument.co.za
Die derde van die Eugène Marais Stigting se reeks In Gesprek met Eugène Marais word op Donderdag 22 September, by die Taalmonument aangebied. Die joernalis Jean Oosthuizen sal met die digter Lina Spies oor digkuns gesels. Sitplek is beperk en kaartjies teen R80 is vooraf beskikbaar by francois@eugene-marais.org.za of 083 408 1902.