Maanlanding herdenking

Edwin Buzz Aldrin sit voet op die maan.

Onlangs het ons die epiese Apollo 11-maanlanding herdenk.

Op 20 Julie vanjaar was dit presies vyftig jaar gelede dat mense die eerste keer op die maan geland het.

Die presiese tyd wat Neil Armstrong sy voet op die maangrond gesit het, was 02:56:15 GMT. In Suid-Afrikaanse tyd omgereken, was dit drie minute en 45 sekondes voor vyfuur, op die oggend van 20 Julie. Dit was ’n Sondag. Ek was bevoorreg om ’n video-opname daarvan op televisie te sien, die Dinsdag * á dit gebeur het. Suid-Afrika het toe nog nie TV gehad nie.

Die sending was Apollo 11, die bemanning Neil Armstrong, Buzz Aldrin en Michael Collins. Ná die ingewikkelde maar suksesvolle landing, het die ruimtevaarders nie dadelik die luik oopgemaak en die maan gaan verken nie.

Hiervoor sou hulle en die wêreld meer as ses uur lank moes wag. Toe het Armstrong uiteindelik met sy linkervoet op die maan getrap en die woorde geuiter wat uiteindelik – kan mens maar sê – rondom die aarde weergalm het.

Buite op die landingstuig was ’n swart-en-wit TV-kamera gemonteer, wat hierdie gebeurtenis op film vasgelê het.

Hierna was daar verdere suksesvolle sendings. Maar vra iemand of hy die name van al die mense ken wat al op die maan gewandel het, en hy sal jou eers snaaks aankyk, en dan – miskien – sal hy jou kan sê hy weet van Armstrong, en dalk sal hy Aldrin se naam ook kan noem. Tog is daar méér mense as net dié twee wat al die stof van die maanoppervlak onder hul stewelsole gevoel het.

Twaalf mense het dit al gedoen, en almal was Amerikaners, maar nie een het dit meer as een keer gedoen nie. En ek is jammer om te sê, daar was nog geeneen van die skoner geslag nie.

Hierdie ruimtewandelaars was natuurlik met verskillende sendings gestuur: Die twee bogenoemdes was met Apollo 11, en hulle het bietjie meer as 21 uur in die geselskap van die Man-in-die-Maan deurgebring. Nog twee, Pete Conrad en Alan Bean, met Apollo 12, het twee dae lank gekuier.

Apollo 13 was nie suksesvol nie; hulle moes omdraai en terug aarde toe keer.

Met Apollo 14 het Alan Shepard en Edgar Mitchell hul kans gekry. Shepard het nogal ’n gholfstok saamgesmokkel om daarmee ’n paar houe te slaan, verbeel jou dit! Toe het David Scott en James Irwin met Apollo 15 ’n paar dae op die maan deurgebring. Hulle was die eerste om ’n karretjie te * ê om mee rond te ry. Met Apollo 16 was dit John Young en Charles Duke. Hulle het amper 27 km ver rondgerits met hul voertuig. Die laaste twee wat dit gedoen het, was Gene Cernan en Jack Schmitt, met Apollo 17. En sedert 1972 was daar nog niemand op die maan nie, of selfs in ’n wentelbaan om die maan nie.

Nie almal wat die sendings meegemaak het, kon in die landingsmodules afdaal, land en uitklim nie. Ek het nogal simpatie met hulle, veral met Michael Collins, wat in ’n wentelbaan om die maan moes sit en wag terwyl die heel eerstes, Armstrong en Aldrin, op die oppervlak rondkerjakker en al die glorie op hulle verenig. Hy is nooit agterna gekies om ’n werklike landing mee te maak nie, sjeim.

Die meegaande foto beskou ek as die interessantste van almal, omdat dit ’n sterk storie vertel. Dit is die eerste foto wat deur Armstrong met ’n 70 mm Hasselblad-kamera met kleurfilm op die maan geneem is, wat Aldrin wys wat teen die landingstuig se leertjie afklim om die tweede persoon te word om sy voetspore op die maanstof te trap.

Geen kleurfoto is van Armstrong op die maan geneem nie, want dit was nie deel van Aldrin se pligte om die Hasselblad te hanteer nie.

Armstrong se pligte nadat hy uitgeklim het, het hom 18 minute en enige sekondes besig gehou voordat Aldrin geskeduleer was om uit te klim. Vir net dáárdie verloop van tyd het dit gegeld dat net een persoon op die maan geloop het. Met Aldrin het die volgende gegeld: vir die eerste keer kon ’n mens sy voet op die maan sit terwyl ’n ander mens dit op film vaslê.

Die mens se eerste treë op die maan is sekerlik ’n opspraakwekkende prestasie, by uitnemendheid werd om te herdenk.