Louis L’Amour: Skrywende reisiger

Voorblad van Education of a wandering man (Bantam Books, 1989).

As tiener het ek reeds wyd gelees, maar die ou “Westerns” deur skrywers Zane Grey (1872-1939), Jack Schaefer (1907-1991), Jack London (1876-1916), en Louis L’Amour (gebore Louis Dearborn LaMoore, 1908-1988) het my vroegste beelde van Amerika en die konsep van wat ’n ware man is, help vorm.

Die wetsgehoorsame, eerbare pionier wat nooit eeste moeilikheid soek nie, maar ook geen sentimeter daarvoor terugdeins nie … asook wat “romanties” is en dat die goeie ou uiteindelik met die verdienstelike nooi wegry, die een wat sy inbors waardeer – al hierdie idilliese en idealistiese dagdromery van mense wat ook maar geskryf het wat die publiek wil lees en wil glo.

Van hulle almal was L’Amour egter die een wat my die meeste beïndruk en meergevoer het. L’Amour het glo om en by 300 miljoen eksemplare van sy stories verkoop, en hulle verkoop steeds.

Stories wat óf nooit gepubliseer was nie, óf lankal uit druk was word steeds uitgegee, nou deur sy vrou en kinders.

En nuwe informasie oor hom kon nog na vore, soos dat hy onder die naam Tex Burns stories oor ’n bekende cowboy-karakter van die 1950s, Hopalong Cassidy, geskryf het – hoewel hy dit altyd ontken het.

Maar toe ek ’n eksemplaar van sy memoire Education of a wandering man (1989) deur Amazon.com bestel het, het ek besef watter besondere karakter hy was, eintlik kleurvoller as sy fiktiewe helde.

Hier was ’n man wat die uiterlike van ’* cowboy-filmster gehad het, maar werklike wys en nederig was, en bowenal sy opvattings uitgeleef het – iemand wat nooit sy skoolloopbaan voltooi het nie, maar op ’n eerbare manier ryk geword het.

L’Amour het die voordeel gehad dat hy fisies groot en sterk was en nie bang was vir uitdgings, insluitend harde handewerk nie.

Hy het in myne en saagmeulens en op skepe gewerk, hy was selfs die lyfwag van ’n filmster, ’n professionele bokser, offisier tydens die Tweede Wêreldoorlog, het een maal in ’* woestyn verdwaal en was selfs ’n skipbreukeling in die Wes-Indiese Eilande, om net ’n paar fasette van sy avontuurlike lewe te noem.

Maar dit was sy onversadigbare honger om meer te leer deur gedurig boeke te lees en later te versamel – hy het uiteindelik ’n private biblioteek wat 17 000 eksemplare bevat het besit.

Kort voor sy dood het hy gesê hy begin nou net-net ’n goeie skrywer word en heelwat van sy sukses as skrywer het hy te danke gehad aan ander mense se boeke, deur hulle idees, ervarings en style in te drink en deel van sy eie te maak.

Oor opvoedkunde, filosofie, skryfkuns en geskiedenis het hy interessante menings gehad. Soos: “Education should provide the tools for a widening and deepening of life, for increased appreciation of all one sees or experiences.”

Hy het geglo dat opvoeding jou moet bemagtig om goed te leef, om te verstaan wat om jou aangaan, want ’n goeie of betekenisvolle lewe verg insig. Opvoeding kan nie gekoop word nie, maar is ’n aanhoudende proses.

Daarom het hy toe hy vyftien was eerder die universiteit van die lewe gaan bywoon as om uit skoolboeke te leer oor temas wat hy self reeds in biblioteke gelees het. Sy lewnsfilosofie kan dalk as volg saamgevat word: “Only one who has learned much can fully appreciate his ignorance.”

L’Amour gee toe dat sy manier van leer nie noodwendig almal pas nie en dat meeste studente ’n gedissiplineerde omgewing, ’n akademiese milieu en goeie leiding benodig, asook die uitruiling van idees.

Daarmee stem ek volmondig saam – en bejammer mense wat dit nie kan ervaar nie, maar nog meer die mense wat nie van dié voorreg gebruik wil maak nie.

Oor skryf is ook heelwat in sy memoir, soos: “One becomes a writer by writing, by shaping thoughts into the proper or improper words, depending on the subject, and by doing it constantly.” Waar woorde broeders en susters, waar woorde.

Hy is oortuig dat goeie stories oor basiese menslike emosies handel, en dat dit is hoekom Shakespeare so gewild gebly het, asook oor die soort geweld in sy verhale, wat ons as kinders al as sprokies leer ken.

Hierdie gewelddadige element van die menslike aard, sê L’Amour, is net so opsigtelik in Die Bybel. En natuurlik die media waaraan ons daagliks blootgestel word.

Hy sê (o.a.) oor geskiedenis: “What many people do not understand is that a child in growing up repeats within his early years much of the life history of man upon the earth.” Ons oefen om te oorleef deur spel en nabootsing, en hopelik deur te lees – dis inderdaad die vinnigste manier om enorme hoeveelhede kennis wat ander mense honderde duisende jare geneem het om te ervaar, te internaliseer in ons eie lewensuitkyk.

’n Skrywer se kop is soos ’n towenaar se hoed, sê L’Amour – om iets daar te laat uitkom, moet daar eers iets ingesit word. Vir my is dit duidelik, en wonderlik dat hy iemand was wat beide na buite en na binne gereis het.

Eers as ’n mens dit gedoen het, het jy regtig gereis, regtig gegroei, en ’n ryk lewe gehad. L’Amour het tot sy dood geskryf en fisiese weelde nooit nagejaag nie. Hy het beter geweet. Want by die filosoof (1786-1834) het hy geleer: “Whoever would make of himself a distinctive individual must be keen to perceive what he is not.”