Laaste Winnie Rust-roman bekendgestel op Wellington

Die voorblad van Katryn

Lesers sal weet van die stukke in Bolander wat oor oorlede Winnie Rust geskryf is, van die hofsaak wat aan die gang is en tragiese atmosfeer wat dit alles omgeef.

Nogtans was die bui by die bekendstelling van haar laaste boek, Katryn, Dinsdagaand by die Bôrdienghuis Teater op Wellington heel gemoedelik en lig.

Op hierdie windlose soel someraand – die dag se hitte het reeds gewyk – is die gehoor tussen die twee geboue op die erf vergas, want daar was ’n klein skare, seker naby 100 gaste.

Theo Kemp, die groot indoena daar, het almal welkom geheet en toe het die uitgewer, Theresa Papenfus, ook nou ’n Bolander ná jare in die noorde, gesprek gevoer met Olivia le Cordeur kurator van die Wellington Museum, Christine Siebrits, voorsitter van die Vriende van die Museum en Suzette Kotzé-Myburgh, wat by manuskripontwikkeling en dies meer van Winnie se boeke betrokke was.

Hierdie boek, Katryn, is soos Winnie se vorige fiksie-boeke, ’n historiese roman wat nou bande het met die Wellington-omgewing.

En ter wille van die nodige agtergrond hieroor: haar eerste roman was Martha, ’n verhaal van Martha Solomons, Countess van Stamford (Hemel en See, 2004), toe Margie van die Seminary en ander verhale (Human & Rousseau, 2011), gevolg deur Trek (Human & Rousseau, 2013).

Katryn se manuskrip is kort voor Winnie se dood voltooi en haar broer, prof. Chris van der Merwe, wat ook ’n skrywer is, het vir Theresa Papenfus van die uitgewery Litera, daarvan laat weet. Met Chris en Suzette se kundige insette kon Theresa die boek redelik vinnig uitgee, en soos hulle sê: die res is geskiedenis.

Theresa het gesê dit was vir haar ’n besondere voorreg om die boek uit te gee, al het sy Winnie nie geken nie, en het die Rust-familie bedank, veral vir Chris, Winnie se broer.

Suzette, wat Winnie se werk uiteraard goed ken, het begin deur te sê dat historiese romans anders is as gewone romans, in die sin dat eersgenoemde reeds beskikbare boustene gebruik (historiese feite dus) om ’* nuwe konstruksie (verhaal) op te rig.

Sy reken ’n skrywer van historiese romans benodig ’n spesifieke aanleg om dit suksesvol te vermag. Winnie Rust was só iemand.

Agterop die omslag van die boek word die ook reeds ontslape digter Barend Toerien in 2005 oor Winnie se skryfwerk aangehaal: “Winnie Rust het ’n buitengewone vertelvermoë: die onmiddellike aspekte van die verteller, die spontane, helder taal.”

So beaam Barend, wat terloops, onthou ek, ’n gereelde besoeker by die staatsargief was wanneer hy Suid-Afrika uit die VSA besoek het, dan Suzette se mening – sy het vertel dat Winnie ’n “fyn waarnemer” was en historiese feite kon “transendeer” na universele menslike waarhede, juis dit wat ’n goeie romanskrywer veronderstel is om te doen.

Suzette het gesê Winnie was normaalweg ’n skrywer óór vroue, nie ’* skrywer net vír vroue nie, hoewel sy meestal uit die perspektiewe van vrouekarakters geskryf het.

Hulle sê dis ’n groot uitdaging vir romanskrywers om deur die oë van die teenoorgestelde geslag (as die skrywer) te skryf, maar Suzette reken Winnie het dit met die karakter Blink Ben, wat ’n eerstepersoonverteller in Katryn is, baie goed reggekry.

Dit voel vir my as buitestaander nogal asof Winnie steeds gegroei het as skrywer en dat Katryn dus ’n boek is wat aan die kruin van haar loopbaan voltooi is.

Winnie was baie lief vir haar omgewing en Suzette het gesê sy het self baie oor Wellington se geskiedenis by Winnie geleer.

Die Wellington-area was inderdaad Winnie se spesialisveld, maar soos die skrywer Elize Kotzé wat heelwat kortverhale en romans oor veral die Weskus geskryf het, was Winnie nie bloot ’n kontreiskrywer nie.

Daar was veel meer vlees om haar boeke se bene. Winnie het soos ’n romanskrywer betaam oor die menslike kondisie kommentaar gelewer, en historiese Wellington was die milieu waarbinne haar karakters haar waarnemings uitgedra het.

Christine, wat Winnie veral via die Wellington Museum geken het, het vertel dat as jy ’n damesfiets voor die museum vasgeketting gesien het, kon jy weet Winnie was daar binne, besig met navorsing, wat Olivia beaam
het.

Oor Afrikaans mag dit ons lesers interesseer, het Christine gesê dat die taal deur C.P. Hoogenhout se bemoeienis in Wellington beslag gekry het, nie in die Paarl soos almal glo nie, en Suzette het gesê dat as die V.O.C. nie te suinig was om skole te finansier nie, sou Afrikaans nie kon ontwikkel soos dit het nie – die taal is eintlik toegelaat om in die tydperk 1650-1800 op sy eie te ontwikkel, sonder ’n “formele ingreep” daarop.

Binne die Bôrdinghuis het Olivia-hulle ’n uitstalling opgerig, wat o.a. foto’s en teks oor die ou Masonic Hotel, wat in Katryn figureer, bevat het. Bargain Books se personeel was ook daar en eksemplare van Katryn het fluks verkoop.

Van iewers, glo mens, het Winnie op die toneel neergekyk en geglimlag.