Konsert by Drostdy-teater

Marthie Nel Hauptfleisch

“Ek gaan juwele uit die Afrikaanse musiekskatkis in ’n jazz-styl aanbied. Elke song vertel sy eie storie wat nie net die krag van die fabel nie maar terselfdertyd ook die soepelheid en reikwydte van ons taal demonstreer.”

Dit is hoe Stellenbosse sanger en liedjieskrywer Marthie Nel Hauptfleisch haar nuwe konsert #Afrikaans #Sonder Grense beskryf, wat op Vrydag Desember 9, in die Drostdy Teater aan Die Braak in Stellenbosch aangebied word.

“Ek het die idee gekry van versoeke wat ek dikwels tydens my konserte by aftree-oorde kry. Die ouer geslag gebruik nie net die wysie nie, maar ook die woorde van ’n liedjie om lewenslesse aan veral hul kleinkinders oor te dra,” sê Marthie.

Marthie vertel verder: “Gert van Tonder van Groep Twee se Sproetjies is die storie van ’* dogtertjie – die spreekwoordelike lelike eendjie – wat geboelie is totdat iemand haar vertel het daar is ’n ‘reënboog in haar oë’ wat haar aanspoor om uiteindelik ’n ballerina te word wat by die skouburg optree; in Koos Doep se Sprokies van ’n stadskind word jy aangemoedig om
10 000 ure lank te loop, want dit is soos ons almal weet hoe lank dit neem om sukses in omtrent enige loopbaan te behaal; min mense weet dat Die Padda wou gaan opsit oorspronklik uit Engels van The Froggie went a courtin’ vertaal is, en onder meer al deur Elvis Presley, Bob Dylan en Bruce Springsteen gesing is; en dan is daar Hasie hoekom is jou stert so kort, wat oorspronklik deur ’n Engels man, George Gunn, onder die skuilnaam Anton de Waal geskryf is.

“Hy het dit toe aan Nico Carstens aangebied wat ’n lawwe wysie daarvoor geskep het en sy vriend Al Debbo gevra het om dit eerste te sing.

“Die res is geschiedenis…”

Marthie se speellys vir die aand sal onder meer insluit: Anita kom met die môretrein; Mannetjie; Die padda wou gaan opsit; Hasie hoekom is jou stert so kort?; Sproetjies; Sprokie van ’n stadskind; Oukraalliedjie; Groen is die land van Natal; Trein na Pretoria; Transkaroo; Groen koringlande; Waterblommetjies; In die skadu van ou Tafelberg; Al lê die berge nog so blou; Najaarsdroom; en Die gebed.

Marthie sal begelei word deur Leonore Bredenkamp op baskitaar, Dave Rawlings op tromme en Bram Potgieter op klavier, wat ook die verwerkings hanteer het.

Die konsert begin om 8nm, en toegang is R100.

Bespreek by 087 943 2459 of info@drostdyteater.co.za