Kom ervaar die verlossende krag van skryfterapie in ’n werkwinkel aangebied deur Lizette Rabe, professor in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch, gebaseer op haar boek Om tot verhaal te kom.
Die lewe gebeur met elkeen van ons en laat sy letsels. Egskeiding, siekte, misdaad, dood – ons almal ervaar trauma wat jou laat met die vraag: Hóé gaan ek voort?
Die antwoord nê dalk in jouself: Skryfterapie. En dis waarmee hierdie werkwinkel jou wil help: om te begin om daardie deur na jouself oop te sluit deur daaroor te skryf.
Skryfterapie is ’n bewese manier om verlies en trauma te verwerk – ongeag die aard daarvan, en die beste nuus: ongeag jou skryfvermoë.
Kom, maak ’n begin en begin om jou eie verhaal te skryf.
Dis dalk net die regte tyd dat jy die dapperste reis van alle reise aanpak: die reis na jouself.
Jy kan dit op soveel verskillende maniere doen: Jou memoire op jou rekenaar tik, met die hand dagboek hou op papier, ’n blog begin, dig, rym of sommer net krabbel.
Die eindproduk is dalk net vir jou eie oë bedoel, of dalk wil jy dit met die wêreld deel. Professor Rabe se Om tot verhaal te kom is ’n skryfterapiegids propvol praktiese skryfwenke en inspirasie uit ander se werk.
Die werkwinkel, in Afrikaans, sal jou help met wenke oor hoeom “tot verhaal te kom”.
Die joernalis en TV- en radiopersoonlikheid Lizma van Zyl het van die boek gesê: “’N Waardevolle boek wat die leser emosioneel bemagtig en met praktiese wenke toerus om hul pad na ’n nuwe lewe oop te skryf.
Hierdie boek strek veel verder as net ’n roetekaart – dis ’n lewenslange reismaat.”
Nog ’n joernalis, Riette Rust, skryf in haar resensie op Litnet: “Dit verg moed om jou trauma te herbesoek. Dink egter só daaraan: “Indien jy eerder sou vasval in onverwerkte verdriet, kan dit tot psigologiese komplikasies lei. Om tot verhaal te kom gee jou die moed om déúr die oog van die storm te beweeg. Daar is eenvoudig nie ’n ompad nie.”
Twee werkwinkels word aangebied, op Saterdae 7 Maart en 14 Maart (dis nie opeenvolgende werkwinkels nie, jy moet dus nie albei bywoon nie). Die opbrengs is ten bate van die Ithemba Stigting en dit word aangebied in die Departement Joernalistiek se lesinglokaal, Crozierstraat 26, Stellenbosch. Dana Snyman en sy Swarthond-produkte sal ook by die geleenthede teenwoordig wees. Die werkwinkel is van 9vm tot 1nm, met registrasie vanaf 8.30vm.
Die koste is R375, wat ’n aankomskoffie/tee asook ’n teebreuk en ’n aantekeningboekie en pen insluit.
Bespreek aanlyn by Quicket. Getekende eksemplare van die boek sal ook teen afslag beskikbaar wees.
Vir meer inligting kontak ithembafoundation@mweb.co.za