Kom ervaar die verlossende krag van skryfterapie in ’n werkwinkel aangebied deur Lizette Rabe, professor in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch, regs, gebaseer op haar pas verskene boek Om tot verhaal te kom. Skryfterapie is ’n bewese manier om verlies en trauma te verwerk – ongeag die aard daarvan, en die beste nuus: ongeag jou skryfvermoë. Kom, maak ’n begin en begin om jou eie verhaal te skryf. Dis dalk net die regte tyd dat jy die dapperste reis van alle reise aanpak: die reis na jouself. Jy kan dit op soveel verskillende maniere doen: Jou memoire op jou rekenaar skryf, dagboek hou op papier, ’n blog begin, dig, rym of sommer net krabbel. Die eindproduk is dalk net vir jou eie oë bedoel, of dalk wil jy dit met die wêreld deel. Professor Rabe se Om tot verhaal te kom is ’n skryfterapiegids propvol praktiese skryfwenke en inspirasie uit ander se werk. Die werkwinkel, in Afrikaans, sal jou help met wenke oor hoe om “tot verhaal te kom”. Die skryfterapie-werkwinkel word ten bate van die Ithemba Stigting gehou, en word aangebied in die Adam Small-Teaterkompleks, op Saterdag 4 Mei, van 11vm tot 12.30nm. Die koste is R225, en sluit ’n koffie/tee en muffin by aankoms in, asook ’n aantekeningboekie en pen. Bespreek by www.quicket.co.za, en vir meer inligting, epos vir ithembafoundation@mweb.co.za