Kom goeie ouens altyd tweede?

Voorblad van Hermann Giliomee: Historikus.

Ek dink vandag aan die titel van die reeds ontslape joernalis en oud-Stellenbosser, Schalk Pienaar (1916-1978), se biografie Getuie van groot tye (Tafelberg, 1979), en wonder oor eras wat verbygaan en groot geeste wat van die toneel verdwyn.

Veral nadat iemand my onlangs die outobiografie van ’n ander oud-Stellenbosser gegee het, en ek dink skielik aan waar ek hom eenmaal ontmoet het, dit was wel nie die eerste of die laaste maal nie, maar ’n ontmoeting wat ek nooit sal vergeet nie.

Dit was in 2003 en die voorsitter van die komitee het my gevra om die vertrek te verlaat: hulle wou konsensus bereik – of ek wel die graad waardig is; ’n DPhil. in Kultuurgeskiedenis.

Dit was in die Wilcocks-gebou (nog vóór hy gebrand het), en na-ure. Daar was niemand in die klasse en kantore nie en ek het sommer by die peroneel se badkamers ingestap.

Skielik het een van die toilethokkies se deur oopgegaan, en ’n man met ’n dik bril en ’n groot bos grys hare het langs my gestaan.

“Wat soek jy hier?” het hy gevra, maar met ’n glimlag. Ek het ook geglimlag en gevra: “Wat soek jý hier?”

Ons het eintlik verskillende vrae gevra, maar besef wat elkeen se bedoeling was. Hy het, glo ek, bedoel wat soek ek op daardie tyd in die gebou, en ek het bedoel wat soek hy na al die jare, en in ag genome hoe hy daar behandel was, in die Geskiedenisdepartement.

Die gryskopman was professor Hermann Buhr Giliomee, ’n lektor in die departement tot ek ’n Honneursstudent was.

Ek het onthou hoe ’n sekere professor hom agter sy rug by die studente beswadder het en hoe skaam ek was, nie vir hom nie, maar vir die man wat so agterbaks was, wat homself so voor sy studente verlaag het.

En toe het ek en my klasmaats al besef wat ’n vieslike ding politiek is en hoe dit mense se loopbane, reputasies en selfbeelde kan verwoes.

Ek het later empatie met Professor Giliomee gehad toe my eie en baie ander se onderwysloopbane grotendeels deur politiek gekelder was, maar dis ’n ander storie – ek wil graag ’n paar woorde oor Professor Giliomee se loopbaan kwytraak.

In sy boek Hermann Giliomee: Historikus (Tafelberg, 2016) begin hy met ’n aanhaling van die vermaarde geskiedkundige C.W. de Kiewiet: “The study of history is a training in humility.”

En só het ek Prof. Gilomee gesien toe ek ’n jong, dom student was (intussen het ek net ouer geword), maar al was ek dom, het ek besef dat hy iemand was wat heeltemal apart, maar ook uitgestaan het tussen die res van die personeel daar.

Hy het verstrooid voorgekom, dalk het die stres van uitsluiting hom gevang dink ek nou, voordat hy daar weggedryf is na die Universiteit van Kaapstad – nóg ’n individuele denker uit Afrikanergeledere geskop, om buite die laer te gaan sien-kom-klaar.

En nou, soos ek gevra het in daardie badkamer, is hy terug in dié gemeenskap, hoewel nie die laer nie.

Die laer se hekke is oopgegooi en niemand wil meer erken dat hulle gehelp het om die doringtakke daar rondom te pak nie.

Die mense wat hom voorheen ondergrawe en “’n slang in die gras” genoem het, het anonimiteit soos ’n welkome mantel aangetrek.

Hy noem name in die boek en ek het byna by almal van hulle klas geloop en respekteer hulle steeds as historici, maar waardeer nie hulle optrede as onder meer Broederbondlede nie.

Daaroor skryf Prof. Gilomee ook, dog steeds met te veel diskressie na my sin.

En is ook die gedeeltes oor sy loopbaan op Stellenbos ch wat my die meeste geboei het, omdat ek dele daarvan gesien afspeel het en nou word my vermoedens bevestig aangaande wat agter die skerms gebeur het.

’n Mens wens altyd daar was méér geopenbaar wanneer jy sulke boeke lees – ek wonder byvoorbeeld hoeveel iemand soos Ton Vosloo in sy outobiografie sal oopvlek, maar ek dink ook hy gaan te beskeie en te diskreet wees na my, en baie ander se smaak.

Dis juis die “nice guys” wat maar altyd te ordentlik is om die knoeiers en kliekvormers se gekonkel aan die groot klok te hang waar dit hoort, en so kom sulke sluwe skadukrygers weg met moord.

Oor sy eie betrokkenheid by politieke ontwikkelinge, sy kosmopolitiese insigte en dikwels geïgnoreerde waarskuwings skryf Prof. Giliomee meer breedvoerig, oor Dakar, oor demokrasie in Suid-Afrika, oor die talmende vernederings wat volksgroepe op mekaar uitgestort het, oor sy navorsing en sy boeke en die mense wat hom beïnvloed het, ook historiese draaipunte en “waarheen nou Afrikaners?,” wy hy wel uit.

Ook oor die trots en skaamte van Afrikaners, die Slag van Andringastraat, die huidige taalkwessie by die universiteit, die instansie wat skynbaar sy eer en roeping versaak het, daaroor bied hy nuwe insigte.

En hy sluit af met sy woorde aan oud-pres. F.W. De Klerk: “Jy het aan die Afrikaners die selfrespek teruggegee wat apartheid so kwaai geknou het. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd kan mens jou kop weer hoog hou.”

Hermann Giliomee kon natuurlik dieselfde mening oor homself uitgespreek het.

Nie net het hy bygedra tot hierdie selfrespek vir Afrikaners deur sy invloed as historikus – d.m.v. sy lesings en boeke nie -maar hy kan as individu ook sy kop hoog hou na die vernederende behandeling wat hy aan die hand van talle van sy eie mense moes deurmaak.