Klein geskiedenisse tel meer as wat jy besef

Voorblad van Brackenfell ... van toeka tot nou

Onlangs het ek ’n boek oor Franschhoek gekoop. ’n Pragtige, professionele uitgawe, op glanspapier gedruk, vol lieflike kleurfoto’s en inligting oor die plase daar rond.

Dis ’n tipiese koffietafelboek. Mooi, maar tog ’n bietjie te glossy, soos ’n prentjie op ’n sjokoladeboksie.

En soos ’n oorspronklike skildery in ’n galery van ’n sjokoladeboksieprent verskil, so voel dit wanneer ek na ’n ander boek kyk wat ek ook onlangs gekry het met eersgenoemde vergelyk.

Die boek, Brackenfell… van toeka tot nou, is die resultaat van ’n projek wat deur Dalena Vollgraaff, oud-bibliotekaresse ná haar aftrede in 1997 aangepak en voltooi is.

Eers ’n stukkie goedbedoelde kritiek: die gebruik van stippels in die titel, is soos meeste skryfskool-mentors jou gou sal sê, onnodig. ’n Komma sou beter gewerk het.

Maar hei, soos die term “objektiwiteit ”is “perfeksionisme” ook ’n ding waarna ons net kan strewe maar min sal beleef. Ek is nou besig met ’n historiese roman, en is baie bewus hiervan! Terloops, ek beveel aan om na kanaal 821 (LM Radio) op jou TV te luister – dit het goeie musiek vir mense ouer as 50 op … maar noudat ons op dieselfde kanaal inge-tune is, laat ek aangaan met die bespreking van Vollgraaff se boek.

Ek woon in Brackenfell sedert 2006 en het self beleef hoe die omgewing naby Bottelaryweg al voller geword het – die stootskrapers is steeds besig – en daarom interesseer hierdie boek my.

Vir diegene wat nie hier woon nie, is dit steeds ’n mooi voorbeeld van hoe elke woongebied, ook joune, ontwikkel het.

Vollgraaff skryf oor die ontwikkeling van plaaslike bestuur (ek weet toevallig dat samesprekings daaroor in 1966 al begin het) in 1968 en die ontkieming van noodsaaklike instansies soos onderwys, die “kerklike lewe”, handel en ywerheid, asook die oorsprong van straatname (ek was lid van Kaapstad se Straatname-komitee en die Provinsiale Geografiese Namekomitee op ’n tyd en kan hiermee identifiseer), plaaslike verenigings en organisasies, asook sport en ontspanning.

Interessant, begin sy met: “Kom ons kyk wat vanaf die vroeë jare aan die Kaapkolonie hier gebeur het. Reeds in die tyd van Jan van Riebeeck was Brackenfell – wat eers baie later dié naam sou kry – deel van die geskiedenis van die Verenigde Oost-Indische Compagnie (VOC).

“Enkele jare nadat Van Riebeeck in opdrag van die VOC ’n verversingspos aan die Kaap gestig het, het hy besef dat die onmiddellike omgewing van die Kaap nie aan die behoeftes van die verversingspos kon voldoen nie.

“Hy het dus meer na die binneland buiteposte geskep.”

Hierdie paar sinne herinner ’n mens aan o.a. die staatspresident se bewering dat alle probleme in die land met Van Riebeeck se koms begin het, ook aan Rian Malan se wydgepubliseerde ope brief aan Julius Malema oor grondbesetting en stamoorloë, maar ook aan dr. Dan Sleigh se stelling dat “verversinsgpos” ’n simplistiese benaming was – dit het bv. ook oor hospitalisasie van siek matrose gegaan.

En dan ook aan Dr. Sleigh se boek Die Buiteposte (eerste uitgawe 1993) wat hierdie stelsel in detail uiteensit. Die geskiedenis is nooit so eenvoudig soos dit algemeen beskou en uitgebeeld word nie.

In elk geval, Brackenfell het by die plase Hazendal (1704), Stellenburg (1705) en Het Kruijspad (1712) begin, name wat vandag nog – effe gewysig – bestaan. Brackenfell het op laasgenoemde twee plase ontwikkel, en daar is ’n sterk Hugenote-verbintenis.

Nietemin, ’n interessante deel van die boek gaan oor die seinstelsel (kanonne wat net vyf keer gebruik is tussen 1695 tot 1806), met ’n kaart van waar die kanonne gestaan het, altans die kanonne wat nader as 75km vanaf die Kasteel was.

Maar daaroor op ’n ander keer. Al wat ek nou gaan sê is dat die klein geskiedenisse, soos Brackenfell s’n , meer tel as wat meeste mense besef.