Kan gloriedae herleef, selfs verbeeldes?

Hoe ouer ek word, hoe meer sê ek “voor ek vergeet”. Ek dink dit kan ’n gepaste titel vir ’n outobiografie wees.

Vir iemand van aansien.

Dalk… nee, kom ons los die politiek en praat oor iets amper so belangrik: rugby. Een van my boekrakke huisves ’n aantal sportboeke; tennis, krieket en rugby meestal.

Die ander 29 rakke terloops, is vol boeke oor kuns, skrywers en skryfmetodes, strokiesboeke soos Asterix en Tintin, boeke oor geskiedenis en kultuur, ens.

Die sportboeke vorm ’n relatiewe klein deel van my uit-sy-nate-bars-versameling, maar is tog ’n onderwerp wat my al lank interesseer.

Maar dit net ter wille van perspektief. Sedert ek prof. Bun Booyens se biografie van Danie Craven (1975) as laerskoolkind gelees het, het ek af en toe óg ’n boek oor rugby aangekoop en toe ek self gespeel, afgerig en teen wil en dank die fluitjie opgeneem het, het ek probeer verstaan wat die essensie van die spel is.

Ek het beter in ander sportsoorte gevaar, maar rugby was altyd daar — hoe kan jy as Afrikaanse seun dit ignoreer?

Nie dat ek wou nie: die geluid van rugbyballe wat geskop word aan die begin van elke seisoen sal ek nooit vergeet nie; dis soos ’* onweerstaanbare Lorelei-roep.

En wanneer ek ’* rugbyboek optel, kom daardie herinneringe terug – die deursnee Afrikanerman het dit in sy bloed, dis ’n integrale deel van ons kultuur.

Die Nasionale Party en die Nasionale Pers het ook hulle rolle gespeel in hierdie ver-nasionalisering van rugby, maar ek moet dadelik noem dat die ding oor Afrikanermanlikheid en rugby nooit deel van my bewussyn van die spel was nie.

Ek glo dis so dat baie Afrikanermans – soos prof. Albert Grundlingh van Stellenbosch dit al bespreek het – glo rugby is ’n “bewys” van Afrikanermeerderwaardigheid (wat nou al baie afgeblaas het, soos ’n ou rugbybal) en ek glo ook die hedendaagse afdwing van kwotas het ook iets daarmee te doen, maar tog is daar baie van ons wat die sport geniet omdat ons as burgers van enige ander rugbyland, soos Wallis of Nieu Seeland daarvan sou hou.

Maar, terug na wat ék wou onthou, naamlik kommentaar op ’n boek wat oor ons rugby-geskiedenis handel, en wat al vyf jaar gelede gepubliseer is: Wim van der Berg se 150 jaar van Suid-Afrikaanse rugby (Bookstorm, 2011).

Van der Berg noem in sy voorwoord dat die grootste leemte wat hy in sy voorbereiding van die boek geïdentifiseer het, was “die verhaal van Suid-Afrikaanse rugby onder swart mense en sogenaamde kleurlinge”.

Hy het nietemin die skaars fragmente oor die SA Rugby Football Board (tans die SA Rugbyunie) ingewerk.

Hy vertel in hoofstuk een eers oor die Wêreldbeker-oorwinnings van 1995 en 2007 om die leser in die regte stemming te plaas en noem terloops dat Kaya Malotana die eerste swart Wêreldbeker-Springbok was (in 1999), so saam met Kamp Staaldraad en biografiese sketse van Kitch Christie en Jake White.

Hoofstuk twee begin dan van voor af; sedert George Ogilvie rugby in 1861 by Bishops in Kaapstad ingestel het en sluit verskeie ou foto’s in, van ou manne met bakkebaarde en spanne met hulle arms trots voor die bors gekruis.

Dan volg hoofstukke oor vroeë leierfigure – Paul Roos, Percy Ross Frames, Theo “Sport” Pienaar, Basil Kenyon, Danie Craven… gevolg deur “Segregasie, frustrasie en binnegevegte – die geskiedenis van veelrassige rugby in Suid-Afrika.” Foto’s van Errol Tobias (die “eerste gekleurde speler wat Sringbokkleure verwerf het”), Avril en Chester Williams, Thinus Linee, Dolly Ntaka, Owen Nkumane (die eerste swart Springbok – wat n íé in ’* Wêreldbeker gespeel het nie), en foto’s van SARU-wedstryde toon sommer met ’n vinnige deurblaai waaroor dié hoofstuk handel.

Die geskiedenis van Curriebeker-rugby word ook deeglik uiteengesit (tot en met hoofstuk sewe) en eers dan kom Oubaas A.F. Markötter aan die beurt, volgens die skrywer die beste afrigter nog in Suid-Afrikaanse rugby, hoewel hy nooit ’* provinsiale óf nasionale span afgerig het nie.

Die Cravenweek en Vodacombeker-kompetisie word as spilare van SA rugby omskryf, en vrouerugby kry ’* paar paragrawe waarin die gehalte van die administrasie en gehalte van die spelers as bedenklik bestempel word.

Toetsrugby en die Bokke se agterstand tydens hertoelating tot die internasionale arena volg en dan die laaste hoofstuk, hoofstuk tien: die “realiteit van professionele rugby.”

Agterin is lyste van statistike, soos dit enige ordentlike rugbyboek betaam, insluitende “Springbokke in toetse afgestuur,” sewe van hulle, en hoewel die name van James Small en James Dalton dáár nie verbaas nie, is dit wel die geval met die eerste Bok wat 100 toetse gespeel het, nl. Percy Montgomery.

Op die keper beskou is dit ’n esteties aantreklike boek, met pragtige fotobeelde op glanspapier en talle interessante feite.

Maar tog kan dit nie die ware opwinding van ’n rugbybal in jou hande, die reuk van gras en kalk en die brandgevoel in jou longe en in jou hart simuleer nie.

Geen boek kan nie, helaas.