Kamieskroon, o Kamieskroon…

Dit lyk my of die meeste Bolanders eintlik van ander plekke af hiernatoe getrek het. Of die vervoerwaens is reeds op pad hierheen.

Soos mans dikwels in die mall doen wanneer die vrouens in die winkels besig is, is om in die boekwinkel rond te kyk na nuwe boeke op die rak. Dit was juis die afgelope naweek wat ek die boekie Kamieskroon raaksien.

As gebore Namakwalander het ek dadelik begin rondblaai, en moes vinnig uitvind dat dit in Engels geskryf is. Die outeur kan beslis nie ’n gebore Kamieskroner wees nie, en die stories is ook nie van die óú stories uit hierdie geweste nie.

As Bolander die afgelope aantal dekades al na wye draaie deur Afrika en verweg plekke, is ek maar té bewus van een van die eienskappe van talle gebore Bolanders wat “intrekkers” nie lekker aanvaar nie: iewers onder jou voorsate moes ten minste éé* ’n spogwynplaas besit het.

As dit wel die geval was het jy status in die samelewing en plaas dit jou net so ’n stappie bokant die ander minder gelukkiges.

’n Mens wil nou nie eintlik sê dat iets half snobberig daaraan is nie want dit kan aanmatigend klink. Maar iets in daardie rigting.

Maar ook op Kamieskroon het jy in my prille jeugjare iets van die spogwynplaas-mentaliteit geken.

Iewers tussen my en my susters se foto’s moet daar nog een bestaan van ’n klompie Standerd 8 (Graad 10) leerlinge in twee rye langs mekaar met ’n lang, sterk tou tussen hulle en elkeen hou vas aan ’n trekbalk.

Die trekbalke lyk natuurlik soos dié waaraan die donkies se tuie vasgemaak was as hulle ’n ploeg deur die sandgrond moes trek.

Agter die klomp skoolkinders was die eenskaarploeg met my pa, met sy langbroekpak se broek, opgerolde moue, das en kruisbande, agter die ploeg se handvatsels.

’n Mooi foto al is hy al effens dof want die foto is immers al in 1948 geneem met ’n eenvoudige Kodak Brownie kamera.

My pa was daardie tyd skoolhoof op Kamieskroon. Hy was ’n praktiese mens wat met min geld en middele dinge reggekry het.

Die koshuiskinders het almal hulle groente uit die landboutuin gekry en die melkkoei Daisy het gesorg dat daar genoeg melk was.

Waarskynlik het een van die ouers Daisy aan die skool geskenk en dan vakansietye haar weer plaas toe geneem.

Maar nie een van die boere het daaraan gedink om ’n span donkies vir die skool te skenk nie en my pa het gedink dat hy ’* paar vlieë met één klap kan slaan as hy sommer die landbouklas kombineer met liggaamsoefeninge en ’n “leer-mekaar-ken” vir die seuns en die meisies wat almal maar, soos goeie Namakwalanders, effens skamerig was.

Die geploeg met die standerd- agt klas in plaas van ’n span steeks donkies het na ’n ruk se geoefen en gesukkel mooi op dreef gekom en die kinders het hulleself begin goeie donkiename toeëien wat by hulle geaardhede gepas het.

Gelukkig was die grond lekker sanderig en het die ploeg nie sommer teen ’n klip of kluit gaan stilstaan nie.

Natuurlik het die storie met die geploeg met die tweebenige jongelinge tydens die amptelike liggaamsoefening/landbou-skoolperiode vinnig deur die dorpie versprei.

Daar was gou ’n aanloop nuuskieriges en luide kommentaar van die straat se kant af. Dit was ’n vrolike besigheid tot op ’n dag wat een van die ma’s van die dorp daar opdaag.

Die dame het haar kans waargeneem toe my pa met die standerd-agt span en die ploeg naby ’n hoekpaal moes kom draai, sommer so langs die straat.

My pa het nog vriendelik vir die dame gewaai want haar dogter het immers hotvoor getrek en die hele tyd ’n goeie pas ingesit.

Wat gevolg het, het my pa nie verwag nie. Ook nie die dogter wat hotvoor getrek het nie. Ook nie één van die ander standerd agts nie.

“Doktor Heese, span dadelik my dogter uit. My kind is nie ’n donkie nie!”

Daar het ’n groot stilte oor die landboutuin gekom. Die hotvoor-meisie is toe, soos versoek, uitgespan.

Tot nou toe wonder ek wat van die hotvoor-meisie geword het en of die geestelike letsel wat haar ma haar daardié dag laat opdoen het, ooit verdwyn het. En of haar ma na dese nog ghrênderig wou gebly het?

Hans Heese is ’n afgetrede historikus met bande met drie suidelike universiteite.