In April 2022 kan kaas- en wynliefhebbers agt dae lank feesvier met die SA Kaasfees wat oor vier naweke by vier gewilde bestemmings sal plaasvind.
Op Saterdag April 2 en Sondag April 3, ontvou die fees in ’n nuwe viering van kaas, wyn en meer op die manjifieke Warwick-wynlandgoed, aan die voet van Simonsberg, tussen Stellenbosch en Klapmuts.
“Die SA Kaasfees is ‘n buitelug-extravaganza wat deur baie ywerige volgelinge oor die afgelope 19 jaar geniet is, dit is ’n onmiddellike sukses en ’n ware plesier om deel van te wees,” sê Tom Orpen, Warwick-landgoed se globale verkoopsbestuurder.
“By Warwick vier ons die skoonheid van Stellenbosch deur ’n ervaring wat ongeëwenaard in die streek is. Hierdie nuwe samewerking beloof om ’n onvergeetlike avontuur te wees wat lank sal lewe in die herinneringe van diegene wat gelukkig genoeg is om dit by te woon.”
Volgens Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo, die organiseerder van die SA Kaasfees sedert 2002, is daar talle redes waarom mense die fees moet bywoon.
“Kom vier die lewe met ’n glas van die omgewing se beste wyne of ’n Cap Classique, koester ’n oomblik met ’n sitrus-styl jenewer, of wees net gelukkig terwyl jy aan ’n boetiekbier teug,” sê mnr. Ehlers.
“Ons het ’n verskeidenheid fynproewerskeppings noukeurig uitgekies, insluitend bekroonde, tradisionele en handgemaakte kaas, van bokkaas, Italiaanse kaas, en gegeurde Gouda en Cheddar, van Labneh tot Gruberg, van Rockvale tot Kasselshoop.
“Kom proe en koop kos met karakter soos chorizo of koedoe-, Italiaanse en Spaanse salami’s, bederf jou palet met heuning, patee, of humus, of wees avontuurlik met balsamiese krale. Voeg ’n tikkie Franse flair by met ’n baguette of ’n croissant en skep prentjiemooi oomblikke met ’n keuse van van die heel beste olywe en tapenades.”
’n Nuwe toevoeging is die Standard Bank Travel & Taste-ervarings– ’n opwindende nuwe konsep waar glans-sjefs en bekende kos- en wynkenners saam kuier in drie sessies per dag. “Plek is beperk en gaste moet vroegtydig aanmeld om ’n sitplek te verseker teen geen ekstra koste nie,” voeg hy by.
Sjef Tiaan Langenegger sal op albei dae ’n voorsmakie van sy splinternuwe televisiekookprogram deel, met sy akteurmaat Neels van Jaarsveld wat Saterdag ’n draai aan sy tafel sal maak.
Saterdag se program sluit ook keldermeester JD Pretorius se pas en proe van Warwick-wyne met Dalewood Fromage-kaas in, en daar sal ook Ladismith-kaas te proe wees saam met van Suid-Afrika se top Chenin Blanc’s wat in die kollig geplaas sal word deur die Chenin Blanc-vereniging.
Die jarelange SA Kaasfees-gunsteling, glans-sjef Jenny Morris, sal Sondag haar kreatiewe flair ten toon stel.
Gaste kan ontspan op die landgoed se grasperke met oorgenoeg skadu-sitplek, of kan na die binnehof ontsnap, terwyl hulle deur topkunstenaars vermaak word.
Saterdag spog die musiekprogram met die volle Watershed-orkes, die gewilde Jimm Harisson Project, en die duo Sister Sister. Sondag is dit tyd vir kunstenaars soos Dehan Marais, Sister Sister, en weer eens, Watershed.
Volgens mnr. Ehlers is nog ’n fassinerende aktiwiteit die daaglikse Ladismith Kaaskerfkompetisie. “Kom voed jou kunstenaarsiel deur jou kaaskerfvaardighede op die proef te stel – April is immers Internasionale Beeldhou-maand – en daar sal groot pryse op die spel wees.”
Kaartjies kos R350 per persoon per dag wat ’n eksklusiewe proeglas insluit en is aanlyn beskikbaar by Webtickets asook by Pick ’n Pay-winkels.
Geen kaartjies sal by die hekke verkoop word nie en daar is slegs ’n beperkte aantal kaartjies beskikbaar. ’n Covid-19-toegangsbeleid van bewys van inenting of ’n negatiewe toetsuitslag sal van toepassing wees.
Die SA Kaasfees sal ook op Sondag Mei 1, by Sandringham buite Stellenbosch plaasvind.
Vir meer inligting, oor ander plekke en datums van die fees, besoek www.cheesefestival.co.za of kontak Agri-Expo by tel 021 975 4440 of stuur ’n e-pos na, admin@agriexpo.co.za