Kaart en transport, en die res is geskiedenis

Voorblad van Maps of Southern Africa

Toe ek ’n kind was het ek baie gehoor van “kaart en transport” en van “transportryers,” gewoonlik met osse- of donkiewaens te doen.

My ma se pa was ’n Namakwalander en kon stories vertel van hy opgestaan het tot hy gaan slaap het – letterlik. Oupa Jan het sy Cavalla aangesteek, sy ogies klein gemaak en deur die rook na gister gestaar. En dan vertel hy.

Avontuurlike ervarings, van jag en oorlog en gevaarlike reise, van gewere en jaghonde, roofdiere en skurke. En van myne en plase in die geval van sy tydgenote was dít die “kaart en transport”.

Ons laaities het op ’n enkelbedjie in die een hoek van die sitkamer gesit, later gelê, en nog later net so hier en daar deur die newels van die slaap brokkies gehoor. Maar ons het darem geweet hy sal die stories weer en weer vertel, so ons kon maar slaap.

Die kaarte en transport waarvan ek wil vertel is iets anders, en dit sluit aan by laas week se rubriek oor die ou kartograwe wat die pad na die Ooste op papier uitgelê het sodat skepe dit kon volg.

In die boek Maps of Southern Arica, saamgestel deur Oscar Norwich (AD Donker en Jonathan Ball, 1993), word die ontstaan van kaarte uiteengesit, van die Babiloniërs en Grieke af na die Portugese en Nederlanders.

Die wyse waarop kaarte vandag geteken is, en hoe grense ook in Afrika getrek is, was ’n uitvloeisel van daardie ou kaartmakers se ywer.

Interessant is dat Moslems lank voor Europeërs teen Afrika se ooskus afgetrek het en handelsposte gevestig het, terwyl Europeërs onder mekaar baklei oor veral grond en godsdiens.

Totdat daar ’n herlewing in die wetenskap en kunste gekom het: die Renaissance.

Dit was soos ’n ontploffing van kennis gedurende die 15de eeu N.C. wat sou lei tot ontdekkingsreise, ook na Afrika, maar eers om om die Donker Kontinent se suidpunt te kom.

Dit het aanvanklik net oor handel gegaan, want die Arabiere en later Italianers (Venesië) het buitensporige pryse op handelsprodukte geplaas. Ander lande wou die middelmanne uitsny, en met kaarte sou hulle op hulle transport, hulle skippies, klim om die onbekende aan te durf.

Ons ken die insette van Prins Hendrik die Seevaarder, van Dias en van Da Gama, maar kom ons kyk wat hierdie reise voorafgegaan het.

Daar het net enkele kaarte uit die 15de eeu oorgebly.

Een is in 1471 opgetrek, nadat Joao de Santarem en Perdo de Escobar die Goudkus bereik het.

In 1482 is verdere ekspedisies onderneem en Diogo Cao het die Kongo bereik. Na Cao ’n tweede reis tot by Cabo da Cruz (Kaap Kruis, aan die Skedelkus of Kus van die Dood van die huidige Namibië) in 1487 onderneem het, het Bartholomeus Diaz gevolg en ons Kaap in 1488 omseil.

Hierdie plek wat hy die Kaap van Storms genoem het, en hy is later ook daar dood in ’n storm. Nogal ironies, aangesien Prins Hendrik dit voor Diaz se dood na die Kaap van Goeie Hoop herdoop het.

Cao en Diaz se reise het informasie verskaf waarvolgens nuwe kaarte geteken is teen ongeveer 1490.

In daardie tyd het Italianers meeste kaarte opgetrek, en in dié geval was dit ook ene Henricus Martellus van Florence.

Daarna het kaarte meer akkuraat begin word.

Ten spyte van die Portugese se pogings om inligting oor seeroetes geheim te hou, het kartograwe van ander nasies soos Martin Waldseemüller (1470-1518) in Frankryk wel inligting bekom om hulle eie kaarte op te trek.

Hy word onthou vir twee dinge veral: hy was die persoon wat die naam Amerika vir die “nuwe wêreld” voorgestel het, en hy het ook die eerste kaart van Suid-Afrika laat druk.

Sy kaarte is deur ander kartograwe oorgeneem en laat druk, sodat die drukpers meegehelp het dat inligting oor Afrika se kuslyn – en daarmee die roete langs die Atlantiese en Indiese Oseane – algemeen bekend geword het. Waldseemüller se kaarte het vir 50 jaar feitlik onveranderd gebly.

Nie lank daarna nie het die sluise as’t ware geopen en teen 1595 het ’n Nederlandse vloot na Asië op die Portugese roete geseil.

Hierdie ekspedisie onder Cornelis de Houtman het swaar verliese gely, maar kon daarin slaag om na Nederland terug te keer en hulle is as helde ontvang.

’n Tweede ekspedisie onder Jacob de Neck het kort daarna gevolg, en weens dié suksesse is die Vereenigde Oost-Indische Compagnie, of V.O.C., in 1602 gestig.

Botsings met die Portugese en Spanjaarde het gevolg, maar die Nederlanders was vasberade om hulle nie te laat stuit nie.

Soos hulle altyd sê: “die res is geskiedenis”.

En hier is ons vandag, ’* laslappiekombers van volke wat uit die noorde, noordweste en suidooste gekom het.

Lappies wat een kombers vorm en as een lappie lostorring, kry almal koud.