Jarelange adjunkhoof groet Parel Vallei

Nolene Duvenage se aftrede as adjunkhoof van Parel Vallei laat ’n groot leemte in die skool agter.

“Onderwys het my verander” – so het adjunkhoof van Parel Vallei, Nolene Duvenage met haar aftrede gesê.

As adjunkhoof in beheer van akademie, het me.Duvenage die afgelope 36 jaar die groot Parel Vallei-skip gestuur.

Sy was een van 12 onderwysers met die opening van die skool in Januarie 1986. As ’n opvoeder in die Afrikaans-departement het sy die Graad 8’s en 9’s met ’n ferm hand gelei, onskatbare kennis oorgedra, lewenslesse geleer en hulle reg voorberei vir die senior fase van die hoërskool.

In ’n persverklaring deur die skool uitgereik, word sy beskryf as ‘n wyse leier, mentor en rolmodel vir almal wat daarna streef om onderwysers van uitnemendheid en integriteit te word.

“Sy het die beste uit haar kollegas gehaal, ’n uitstaande werksetiek gekweek en elke uitdaging en probleem regverdig en positief hanteer,” lees die verklaring.

Haar lojaliteit aan die skool, ware belangstelling in almal en gereedheid om dinge ten goede te verander, sal die skool altyd bybly.

“Vandag besef ek, ék het verander,” het sy tydens haar afskeidsgeleentheid gesê.

“Ek is nie beroemd of skatryk nie, maar ek het op my manier my bes gedoen om ‘n goeie onderwyser en ‘n goeie kollega te wees en my werk na die beste van my vermoë te doen en miskien is dit genoeg in die lewe.

As bedanking vir haar jarelange diens aan die skool en omdat haar liefde vir lees en leer ons altyd sal bybly, het die skool se bestuur besluit om haar te vereer deur die biblioteek na haar te vernoem.

Hoërskool Parel Vallei se biblioteek sal voortaan bekend staan as die Duvenage Biblioteek.

Sy laat ‘n reuseleemte, maar haar Parel Vallei-familie wens haar en haar geliefdes ‘n welverdiende en geseënde gesinstyd toe met die aanbreek van haar nuwe seisoen.

“Mag ander eendag dieselfde vrede ervaar as ek, omdat ek gelukkig was in my beroep en met vreugde my deel kon doen vir ‘n belangrike saak,” het me. Duvenage afgesluit.