Imposante oorblyfsels van die verlede

Die kanon wat eens op * tyd op Kanonkop (Duyvenheuwel) was, staan nou nou al jare op die plaas Bellevue.

In die boek waaroor ons gelees het, Brackenfell … van toeka tot nou, deur Dalena Vollgraaff (“Klein geskiedenisse tel meer as wat jy besef,” Bolander November 30), word ’n paar bladsye gewy aan die kanon-seinstelsel van die ou dae, te wete die jare sedert Van Riebeeck tot die einde van die Hollandse bewind hier.

In die area binne 75km van die Kasteel was daar 21 sein-kanonne wat op koppies geplaas is en sommige later as besienswaardighede voor munisipale kantore geëindig het en nou weer gebruik word tydens erfenisgeleenthede en dies meer – dink bv. aan die kanonafvurings op Paarlberg en Sir Lowry’s Pas, asook by die Bloemendal restaurant. Kanon-entoesiaste deel ook graag die spektakel van donder-en-blits geleenthede met die algemene publiek.

Sy noem dat daar voorheen gedink is dat die kanonne gebruik is om boere te laat weet dat daar skepe in Tafelbaai is wat landbouprodukte wil koop.

So is ek ook op skool geleer en dit was vir my nuus om van dr. Dan Sleigh te verneem dat dit nie die geval was nie, en ek vir een, is genoeg om sy woord as wet oor die V.O.C.-tyd te aanvaar.

Dit bly wel vir my vreemd dat die kanonne, wat baie geld gekos het vir die erg suinige Kompanjie, en ook onderhou moes word oor meer as ’n eeu lank, nie maksimaal aangewend is nie – dus óók soos ons eers geglo is nie. Soos ek al voorheen in hierdie rubriek geskryf het kan romansiers egter die reëls van gister effe buig – byvoorbeeld suggereer dat een of twee kanonne wel “veeldoelig” gebruik is. As die lesers my sal verskoon, wil ek net noem dat ek dit self gedoen het in my jeugroman Een teen Adamastor (2013), maar ek respekteer die feit dat daar geen bewyse is dat dit in die werklike lewe gedoen is nie.

Ieder geval, Volgraaff skryf: “Brackenfell se kanon is seker sy bekendste erfenis. Hierdie kanon was deel van een van twee seinstelsels aan die Kaap.”

Sy brei uit op die tema van die inkennisstelling van die aantog van skepe – maar dis die Kasteel wat eerstens in kennis gestel is, nie die boere nie. “By elke seinpos by Leeukop, Robbeneiland, Simonsbaai en Houtbaai was ’n kanon en ’n vlagpaal.”

As ’n skip aankom, is ’n skoot afgevuur en ’n geheime vlag gehys, eers om die fort sedert 1652, en ná 1666, die Kasteel, te waarsku. Later is die seinsisteem aansienlik uitgebrei, en dit het die tweede stelsel ingesluit – om burgers op te roep vir militêre diens. Aanvanklik is twaalf kanonskote gevuur, met ’n vlag wat op die Ruiterstal (Rondebosch) gehys is. Ook is ’n trom geslaan.

Omdat die kolonie al verder uitgebrei het, kon die burgers die seine later nie meer hoor nie en moes dit van die een seinpos na die volgende aangestuur word.

By of naby elke seinpos het ’n seinman gewoon wat ’n vuur moes aansteek en sy kanon moes afvuur sodat die burgers kon weet dat van hulle verwag word om vir militere diens aan te meld.

Die seinkanon op Tygerberg het seine in drie rigtings “aangesteek” naamlik van kanon tot kanon na die huidige Citrusdal, en na waar Worcester nou is, asook na Zuurbraak (anderkant Swellendam).

Brackenfell se kanon is in 1759 op Duyvenheuwel geplaas, toe die seinstelsel nogmaals uitgebrei is. Later is die heuwel Kanonberg genoem en nou ken ons dit as Kanonkop.

Die kanon, wat op ’n slee van jatyhout gemonteer is, is per ossewa van die Kaap vervoer, en die laaste ent met trekdiere tot by die aangewese seinpos gesleep. Soos ons nou al weet, is die kanonne nie baie gebruik nie, en daarom moes hulle gereeld “skoongeskiet” word.

Uiteraard moes die burgers dan vooraf gewaarsku word om vals alarms te voorkom. Anders kon hulle dalk vervaard kom aanmeld het – byna soos ’n vriend van my, wat sy jonger boetie wat gereeld te laat geslaap het om betyds vir skool te wees, een Saterdagoggend wakkergemaak het en die mannetjie daag toe by die skool op, skooldrag aan en tassie in die hand.

In elk geval, ons weet nie van burgers wat gereed was vir veg sonder dat de vyand opgedaag het nie, so ons neem aan die waarskuwingstelsel het net so goed as die seinstelsel gewerk.

Voorsorg is beter as nasorg, en daarom ook is nadat bevind is dat Duyvenheuwel se kanon verroes was (1790), ’* ander een aangebring en is só goed versorg dat hy twee jaar later die beste inspeksieverlag van al die seinkanonne gekry het.

Vandag staan daar ’n paar ou seinkanonne in Brackenfell, soos een voor die die Laerskool Bastion en een voor die Hoërskool Brackenfell. Ek stel voor hulle word afgevuur as leerders op Saterdae aanmeld vir skool…