Die Hoërskool Stellenbosch het Maandag 17 September met ’n sooispitseremonie hul nuwe kunsoppervlak (“astro”) hokkiebaan bekendge- stel.
Wayne Carpenter, een van die projekleiers en ’n onderwyser aan die skool, sê dat die astro ’n jare lange droom vir die skool is.
“Hokkie aan die Hoërskool Stellenbosch het die afgelope paar jaar met rasse skrede gegroei. Daarmee saam ook die behoefte om ’n astro te bou omdat dit amper al die standaard is as daar in hoër ligas inbeweeg word.
“Dit is inderdaad nou ’n droom wat bewaarheid word vir die skool en ook baie spesiaal omdat dit in ons halfeeu feesjaar plaasvind.”
Bouwerk aan die baan het reeds begin en behoort betyds voltooi te wees vir die 2019-seisoen.
Die veld sal op die huidige A-hokkieveld by die skool in Jannaschstraat gebou word.
Die 91.3 x 55m astro sal ’n sandbasis-baan wees en sal die fyner, nuwe generasie “monofilament” mat wees wat van die begin af baie vinnig speel en meer stabiliteit onder voet voorsien.
Synsport, wat al meer as 20 jaar ondervinding op hierdie terrein het, sal die mat installeer.
Op hierdie stadium sal die baan slegs ’n spelersarea insluit, terwyl spreiligte en ’n telbord later bygevoeg sal word.
“Ons is ook verheug oor Laerskool Stellenbosch, wat ’n vennoot in die projek is.
“Dit is goed dat laerskoolleerders blootstelling kry om op hierdie oppervlak te kan speel omdat dit die gaping tussen o.13 en o.14 asook tussen gras- en astro-oppervlaktes verklein,” verduidelik Mnr Carpenter.
“Die twee skole is reg langs mekaar geleë en die bestaande bande tussen die skole word so versterk. Daarmee saam word infrastruktuur gedeel om beter geleenthede vir leerders van beide skole te skep.
“Ons spreek graag ook ons waardering uit aan die Laerskool Stellenbosch beheerliggaam, asook die skoolhoof, Hawkie de Villiers,” sê Mnr Carpenter.
Skoolhoofde, afrigters, leerders, borge, vennote en kontrakteurs was by die bekendstellingsgeleentheid teenwoordig.