“Verskoon tog die gemors, dit is ’n vreeslike deurmekaar storie om ná 38 jaar te moet oppak.”
So maak Nora Juries, jarelange vrywillige werker aan die stuur van die Helderberg-advies kantoor, in 4 Kerkstraat, Somerset-Wes, met ’n hartseer uitdrukking in haar oë verskoning vir die chaos wat met ontruiming van die kantoor veroorsaak word.
Die kantoor moet op Vrydag 6 Mei sluit en aldus me. Juries, is dit ’n emosie-belaaide oomblik om afskeid te neem van die historiese, ou kantoorgebou, waar sy (gewapen met net regsassistent-opleiding) haar lewe aan dienslewering toegewy het.
“Kyk alles het mos maar in die lewe ’n einde. As ek vandag terugkyk dan kan ek net dankie sê vir die werk wat ek hier kon uitrig; dit is baie hartseer om hier uit te gaan, maar ek het nie ’n keuse, ek móét.”
Die kantoormure sou kon getuig van aksie-belaaide, asook vreesbevange tye waar “Anty Nora” soos die gemeenskap haar ken, braaf met haar kenmerkende uitgesprokenheid, vir werkersregte geveg het.
Vele van dié gevegte – weens haar vurige benadering – het gelei tot noue ontkomings van arrestasie deur die destydse polisie.
Die plaaslike landdroshof het haar die vergunning gegee om die laaste Werkersdag op Maandag 2 Mei, in haar kantoor te kon herdenk, en sy beskou dit as simbolies, want uitdagende werkerskwessies was al die jare die dryfkrag agter werksaamhede by hierdie nederige kantoor.
Haar lewensverhaal lees soos ’n fiktiewe verhaal van waar sy as 11-jarige kind as gevolg van politieke betrokkenheid en vervolging, soos ’n dief in die nag moes vlug uit haar tuisdorp, Graaff-Reinet.
Sy het in 1971 in Bellville arriveer en begin werk as versorger en later huishulp.
“Toe ek in Rusthof kom bly, was die omstandighede van die mense vir my onaanvaarbaar. Ek het ook gesien mense laat maar net dinge begaan en ek kom uit ’n agtergrond (van haar familielede was politiese betrokke) uit waar jy goed bevraagteken en nie net dinge aanvaar.”
Hier, het sy en ander persone afkomstig van die Oos-Kaap kragte saamgesnoer en ’n aksie-kommittee gestig. “Die groep het besluit om alle onregverdige kwessies aan te pak. Ek het betrokke geraak by huiswerkers, plaaswerkers en munisipale kwessies in die Strand.”
Een van die aksiegroep se suksesse was die uitreik van waarskuwingsbriewe deur die Stadsraad voor die opskorting van dienste.
Haar sterk oortuiging om vir regverdigheid te veg, het later die aansluiting by verskeie werkersvakbonde gemotiveer. “My passie was meestal by die huiswerkersunie (wat 2017 gesluit het) en die advieskantoor en dit is hoekom ek vandag nog in die kantoor sit.”
“Ek was by ’n verskriklike klomp goed betrokke en dink ná my man, Isak, se moord in Oktober 1986, het ek betrokke geraak by alles in die gemeenskap, om net iets te kan beteken vir mense en hul lewens te verbeter.”
Tans bedryf me. Juries, ’n sopkombuis in die Strand, die skep van ’n gemeenskapstuin is in die pyplyn, ’n Adopt-a-child-projek word ook beplan, asook ’n opleidingsinitiatief om haar arbeidskennis aan jongmense oor te dra.
Die platstoot van die gebou is vir haar verteenwoordigend van die einde van ’n moeilike, dog vrugbare en onvergeetlike era. “Toe ek nou al my ou goedjies so deurgaan en dit alles in ’n spesiale boks pak, kom ek tot die besef dat ek my nalatenskap met my saamneem. Die gebou gaan tot niet, maar dit wat ons bereik het, gaan nie weg nie. Hiér het ons groot oorwinnings bereik.”