Paarlse kunstenaar Dieuwke-Jean Linee, het met die skepping van haar Krotoa kunswerk aan gehore tydens die 350ste herdenkingsjaar van haar dood (Julie 29, 1674) uitgestal by die Groote Kerk in Kaapstad, geleentheid gebied om opnuut deur nuwe oë en insig, die legendariese tolk se lewe te herleef.
Dieuwke-Jean, 29, se portret van Krotoa kan tans by die kerk besigtig word en die publiek kan buite teen die kerk se muur die kunswerk in die vorm van ’n muurskildery beskou.
Maar die skeppingsproses van haar jongste Krotoa-Eva kunswerk was vir hierdie visuele kunstenaar ’n vreesaanjaende, uitdagende, en intense tydperk waartydens sy met ‘n warboel van emosies gekonfronteer is – en moes sin van maak.
Haar reis met Krotoa is kompleks. “Destyds het ek die swart en wit foto van Krotoa geteken, die een wat ons almal as Krotoa geken het,” maar danksy intensiewe en breedvoerige navorsing deur haar ma, Hybré van Niekerk, plaaslike historikus, het haar ma die indrukwekkende ontdekking gemaak en bevind dat hierdie gesig en prent wat almal mee bekend is; eintlik nie die werklike gesig van Krotoa is nie.
Haar ma se navorsing het bevind dat die foto eintlik deel vorm van ’n foto versameling deur fotograaf Samuel Baylis Barnard in die 1870’s, en dus nie die ware identiteit van Krotoa was nie, maar ‘n ongeidentifseerde “Korunna” meisiekind is.
Hierdie ontdekking en die beskrywings van Krotoa deur vele reisigers het Dieuwke-Jean se kunswerk, Silenced, van Krotoa en Jan van Riebeeck geïnspireer.
So het sy dan ook vir haar nuutste skepping Krotoa in die kunswerk vir die Groote Kerk, staat gemaak op die vele beskrywings van Krotoa deur van die reisigers wat met haar in kontak gekom het. “Ek het net gedink ons het al die inligting dit lê in die argiewe, maar daar is nie ’n beeld nie; so kom ek probeer haar storie vertel.”
Haar doel met die kunswerk was om kompleksiteit van Krotoa se lewe met verkillende elemente in die portret uit te beeld. Elke element is met baie nadenking sorgvuldig oorweeg en het ’n spesifieke betekenis.
Die twee wêrelde waarin Krotoa noodgedwonge moes oorleef het haar gefassineer. “Ek wou bitter graag weet hoe sien ander mense haar. Sy moes die heeltyd transformeer en moes almal probeer akkomodeer en terselfdetyd probeer inpas in hierdie twee wêrelde waarin sy ingegooi is,” het sy gesê.
“Haar hele lewe en wêreld was stormagtig. Sy moes maar kaptein staan vir hierdie skip met die naam van Eva wat sy moes ‘genavigate’ het,” brei sy oor wat die stormagtige see in die kunswerk uitbeeld.
Die kreatiewe reis met haar nuutste skepping was lewensveranderend op talle vlakke. “Ek is defnitief nie dieselfde person wat ek was die dag toe Ds Riaan de Villiers my gebel het nie. Ek het baie geleer omtrent my beperkinge en daar was so baie wat ek moes leer dinge wat ek nie geweet het nie.”
Daar was tye tydens die proses wat sy ook het in haar vermoë getwyfel het. “Ek het baie ‘self-doubt’ gehad want mens weet mos nie altyd hoe ander die beeld gaan sien nie, of gaan sien soos jy dit sien nie, maar ek het besef ander het soortgelyke opinies gehad.
“Dit wys net weer hoe die storie almal raak; daar is aspekte waarmee almal mee kan ‘relate’.”
Krotoa is vir haar verteenwoordigend van hedendaagse tye waartydens so baie mense sukkel met hul identiteit en tussen verskillende wêrelde hul weg moet baan en soos verkleurmannetjies moet aanpas; iets wat lei tot innerlike konflik en waarmee Krotoa ook moontlik mee gekonfronteer was en moes oorkom.
“Krotoa is basies vir my ’n historiese figuur wat dáár was en haar plek moes kry en hierdie projek het vir my baie insig gegee oor hoe die samelewing vandag is.”
Moderne vroue kan volgens hierdie passievolle kunstenaar onsettende waardevolle lewenslesse uit die verhaal van Krotoa leer.
Sy put krag en inspirasie uit Krotoa se veerkragtigheid, ondanks die enorme uitdagings wat sy in die gesig moes staar en beskryf haar as ‘n vegter en ‘survivor’ wat rebelleer het teen ’n stelsel veel magtiger as haarself.
“Sy het gesien wat rondom haar gebeur het, maar sy het nog steeds daarteen baklei.”
Ten spyte van Krotoa se onstabiele en onstandvastige lewe, is haar veggees opvallend en dien die beskrywings van een van die reisigers, Jan Pietersz Cortemünde, wat haar op Robbeneiland tydens haar verbanning teëgekom het, vir Dieuwke-Jean as waardevolle inspirasie juis omdat dit in sterk kontras staan met die algemene siening of beskrywing van Krotoa destyds as ‘tragiese’ figuur.
Krotoa het die reisigers beïndruk met haar vlotheid in tale en kennis van Bybeltekse soveel so dat sy met die Dominee op sy vlak daaroor kon kommunikeer.
“Hy het haar twee jaar voor haar dood ontmoet en sy was so impakvolle mens gewees. Hy het haar beskryf as ‘a masterpiece of nature’.”
Haar passie vir haar kuns is opvallend in haar stem.
Dié borrelende kunstenaar het alreeds as kind ’n passie en belangstelling in kuns gehad. Op skool het sy visuele kuns as vak gedoen en in 2010 het sy by die Jack Meyer Kunssentrum in Paarl verder aan hierdie passie geskaaf. “Ek het altyd geteken en sketse gemaak so dis iets wat my bygebly het.”
Maar ondanks hierdie natuurlike liefde en aanvoeling vir kuns, het sy dit nooit werklik as ‘n voltydse passie nagestreef nie, totdat sy in 2020 weens Kovid 19 haar werk in die toerisme bedryf verloor het en met hierdie terugslag ‘n terugkeer na haar liefde van kuns gemaak het.
Haar kunswerke is vir haar ’n manier om geskiedkundige stories met die korrekte feite oor te dra. Korrekte navorsing, insameling van feitelike inligting is vir haar absolute vereistes vir haar kunswerke (iets waarvoor sy haar ma die krediet voor gee) al is die werke self fiktiewe uitbeeldings van haar verbeelding.
Benewens al die navorsing samel sy verskriklik baie kennis in deur kers op te steek by geskiedkundige kundiges.
“In Krotoa se verhaal voel ek, ek was ontneem van die volle, regte storie. Ek hou daarvan om my feite te kry en gebaseer op dié feite skep ek die beeld.”
Sy ag dit ’n eer en gewigte verantwoordelikheid om deur middle van haar kuns die rol van ’n storieverteller te vertolk.
“Aan die einde van die dag is dit ’n roeping om ons stories te vertel.”
Volg haar Facebook en Instagram vir inligting waar haar werke uitgestal word, of kontak haar by lineefinearts@gmail.com