Herinneringe deur ’n boek losgemaak

Venster op Altyd Lig deur Prof Muller Ballot.

Maggie” herinner my aan baie dinge, soos Rod Stewart se liedjie Maggie May (Wake up, Maggie I think I got something to say to you / It’s late September and I really should be back at school / I know I keep you amused, but I feel I’m being used / …) – maar veral aan Maggie Laubser (1886-1923).

En dié arme Maggie, anders as die een in Stewart se bed wat glo die jong sanger “misbruik” het, is die een wat ongelukkig kon voel oor hoe sý behandel was.

Haar eie liefdeslewe ter syde, was die verhouding met die mense met wie sy deur haar werk en siel engage het, amper so op en af – en soms stormagtig – soos in ’n Barbara Cartland-romanse-verhaal.

Ja, vandag word sy saam met Irma Stern en ander uit die goue era van Suid-Afrikaanse kuns genoem, hoewel ek twyfel of haar werk die belaglike pryse haal wat Stern s’n nou kry (ek sê “belaglik”, want dis immers opgeblaas deur handelaars, terwyl die kunstenaars meestal krepeer het).

Wanneer ek aan hierdie Maggie dink, dink ek ook aan die boeke wat oor haar geskryf is, soos die een van 1944 deur die skilder-skrywer Johannes Meintjes (1923-1980), self ’n fassinerende karakter, en toe een deur die joernalis Johan van Rooyen in 1974.

Daarna was daar Dalene Marais se boek wat in 1994 verskyn het.

En laas jaar is daar ’n nuwe uitgawe, ’n Venster op Altyd Lig deur Prof. Muller Ballot, wat ook uitstekende werke oor Christo Coetzee en Bettie Cilliers-Barnard geskryf het.

Dis ’n pragtige volkleur hardeband boek wat enige kunsliefhebber móét besit.

Ook dink ek aan die Maggie Laubser-versameling van die Universiteit van Stellenbosch, in die Universiteitsmuseum (Sasol Kunsmuseum, die ou Bloemhof-meisieskool) – die grootse enkele versameling van Laubser se werke onder een dak, aldus dr. Lydia de Waal, voormalige direkteur van dié museum. Afbeeldings van die versameling verskyn agter in die boek.

Van Stellenbosch gepraat – en Maggie sal altyd vir my onlosmaakbaar met die dorp verbind wees, want dáár veral het haar werke erkenning en rus gevind, ’* tuiste – ja, dit was nogal in Eikestadnuus van 1959 waarin genoem is hoe sy deur haar mense verniel is: “As eerste ‘modene’ kunstenaar van Suid-Afrika het nóg die volk, nóg die kunskenners, nóg haar naasbestaandes haar begryp.

“Vir haar eerste twee of drie uitstallings het sy net die rekening van die rame gekry! En die venynigste kritiek.”

So verwys Dr. De Waal in die voorwoord van Prof. Ballot se boek na Laubser se worstelstryd omdat haar volksgenote nie die Ekspressionisme wat sy oorsee geleer het, geken het nie.

Dr. De Waal eindig haar kommentaar deur die boek aan te prys as “’n luik wat die lig helder op Maggie Laubser se lewe en werk laat val,” al is Maggie lankal nie meer met ons nie en al is die naambordjie “Altyd lig” wat ook die boek se titel is, nie meer aan die hekkie voor Victoriastraat 30, Strand nie.

Die gedagte aan so ’n leë kunstenaarshuis laat my ook dink aan ’n tydgenoot van Laubser, Gregoire Boonzaier, vir wie ek ’n paar maal in die 1990s besoek het en in vervoering was om die man van wie ek al so baie gelees het, te ontmoet.

Nou is hy ook lankal nie meer met ons nie. Ek het nog ’n foto waar ek en my metgeselle op daardie dag saam met oorlede Boonzaier, sy oorlede vrou en hulle oorlede hondjie grootoog na die kamera staar.

Maar nou loop sy gees dalk net in die geel huis op Onrus, noudat hy, een van die laaste van die gros groot kunstenaars wat hulself in die 1930s die Nuwe Groep genoem het, ook rus gekry het.

Maar, ander keer meer oor Gregoire: terug na Laubser … ek het Prof. Ballot se pragtig-geïllustreerde boek van my rak gehaal nadat ek vanoggend wakker geword het met die herinnering dat ek onlangs Laubser-werke by Welgemeend in Kaapstad (die Boerneef-versameling) bewonder het.

Toe ek die boek deurblaai, onthou ek hoe ’n man wat destyds ’n kollega van my vader (ook reeds oorlede) was, ene Neels, my vertel het dat hy na Laubser se dood gevra is om te help om ’n opname te maak van haar kunswerke en hoe hy foto’s van alles geneem het.

Hy het gesê dis nie die eerste maal dat hy so iets gedoen het nie en dat dit hom opgeval het dat kunstenaars se “flops” dan ook in versamelings opgeneem word, sou hulle dit nie betyds vernietig het nie. Met Maggie, het hy gesê, het ’n mens nie eintlik geweet watter sy self as “flops” beskou het nie.

Ek het meewarig geglimlag en gedink aan die storie oor hoe Laubser glo ’n uitstalling van werke in die realistiese styl gehou het om aan die publiek te wys dat sy “regtig kan teken.”

Ek wonder hoe die verkope vergelyk het met daardie eerste “rampspoedige” uitstalling in die Argus Galery in 1924. Een ding is seker, soos die laaste onvoltooide skildery op haar esel ten tye van haar dood simboliseer, is die laaste woord nog nie oor Maggie Laubser gespreek nie.