Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), Wellington Museum en die Breytenbach Sentrum vier vanjaar op Saterdag 18 Maart gesamentlik Internasionale Moedertaaldag en Menseregtedag, met ’n gesprek oor taal en identiteit op Wellington by ’n spesiale byeenkoms op Wellington.
Dr Abraham de Vries sal ’n gesprek oor die tema “taal en identiteit” lei met vyf Wellingtonners: Herman Bailey, oud-burgemeester; Marlene le Roux, hoof van Artscape, voorsitter van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans; Edwena Goff, kerkleier, voormalige Mej Afrika-Suid; Patrick Mettler, onderwyskundige; en prof Mary Anne Plaatjies Van Huffel, moderator van die Verenigde Gereformeerde Kerk.
Hulle is almal deelnemers aan die nuwe boek Ons kom van vêr, wat bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans insluit.
Prof Wannie Carstens, taalredakteur; en dr Michael le Cordeur, inhoudsredakteur, sal dié gedenkboek, opgedra aan Adam Small, bekendstel.
Volgens die skrywers is die boek se grootste waarde dat dit die stigma dat bruin mense nie ’n stem het oor Afrikaans of ’n bydrae te maak het tot Afrikaans nie, weerlê.
Die skrywers toon aan dat Afrikaans nie net die taal van apartheid was nie, maar ook die taal van die struggle en versoening.
Die Paarlse kunstenaar Gaireyah Fredericks, van wie ’n gedig in die boek ingesluit is, sal gedigte voordra.
Nedine Blom en Jawaahier Petersen van die Jaloersbokkies sal gaste vermaak met hul Afri-Kaapse liedjies. Die plaaslike Klopse-groep Caledonian Roses sal ook optree.
Die funksie begin om 10vm in die Bôrdienghuis van die Breytenbach Sentrum in Burgerstraat. Bywoning is gratis en sluit ligte verversings in.
Bespreek by Nkita Pietersen by student@taalmuseum.co.za, of bel 021 863 0543.