Feite bly maar vreemd(er as fiksie)

Die poskantoor, regs, op n foto in die 1880s geneem (verskaf deur dr. C. Stofberg, Telkom Argief, Pretoria).

Ek is seker baie van Bolander se lesers het al gehoor van die koerantjie The Cape Odyssey, of het van die eksemplare gelees, of dalk van die CD ROMs en boeke wat uit die artikels daarin saamgestel is, gekoop – soos ek.

Die belangstellendes sal ook weet dat die koerantjie, en latere gebundelde uitgawes, hoofsaaklik die liefdesarbeid van Gabriel en Louise Athiros is. Oor hulle sal ek tog nog iets moet skryf.

Nietemin, een van dié bundels, getiteld The Cape Oddyssey 106 a selection of first occurrences at the Cape and other great stories (2015), kom vandag aan die beurt in ons rubriek.

Daar is soveel heerlike stories in hierdie bundeltjie van 192 bladsye dat dit vir my moeilik is om een te kies, maar een vang toe tog my oog: The great post office robbery,” deur Mervyn Emms.

Dis ’n kort, maar interessante verhaal, veral omdat die betrokke poskantoordiewe (dit was ’n diefstal en nie ’n roof nie, want geen geweld was gepleeg nie) nie gevang is nie. Een het heeltemal skotvry van sy misdadigerslewe afgekom en die ander een is later vir ander skelmstreke gevang.

Albei se identiteit het later bekend geword, maar helaas te laat vir die Kaapse Posdiens om iets daaraan te doen. Boonop is die geroofde artikels nie teruggevind nie.

Maar laat ons voor begin.

Mnr. Emms skryf: “It was a hundred and thirty-five years since Cape Town was shaken by what must have been one of the greatest diamond robberies of all time – a parcel of rough and uncut diamonds valued then at £50 000 sterling was stolen.”

Ter wille van konteks voeg hy by dat daardie bedrag vandag etlike miljoene sou beloop, en hy noem ook dat meer bekende gevalle soos die Groot Treinroof in Engeland in 1964 minder winsgewend vir die diewe was, asook dat daar meer diewe benodig was om die hele projek te laat slaag – bogenoemde een wat Ronald Biggs (in 2013 oorlede) en sy kollegas beroemd gemaak het, het inderdaad twaalf helpers geverg, en belangriker selfs: hulle is uiteindelik almal gevang, Biggs wel eers 36 jaar later, maar stééds.

So, wat het op 16 Maart 1880 gebeur? Wel, ’n goeie dief doen sy huiswerk, en dis duidelik wat hier gebeur het.

’n Maand of twee voor die diefstal het ’n galante heer wat homself as Bailey voorgestel het, by die St. George’s Hotel in Kaapstad ingeboek.

Die hotel is skuins oorkant die poskantoor geleë, met die twee geboue dus op twee teenoorstande straathoeke.

Bailey het op ’n slinkse manier met ’n poskantoor-amptenaar vriende gemaak by ‘n veeveiling op Klapmuts en terloops genoem van die hotel oorkant die poskantoor.

Die amptenaar – sy naam word nie in die artikel genoem nie – nooi Bailey toe om te kom inloer by sy werkplek. Bailey het hard gewerk om die vriendskap te laat ontwikkel en hy het selfs later gehelp om posstukke te stempel.

Bailey het ook genoem dat hy op ’n reis na die Zambezi gaan. Intussen het sy medepligtige, wat homself Barclay genoem het, vanaf Engeland aangeland.

Hy het hom soos Bailey, as ’n gekunstelde heer voorgedoen en hom by die Masonic Hotel in Darlingstraat ingeboek.

Gou was hulle ’n hegte driemanskap en die amptenaar is aangemoedig om vakansieverlof te vra sodat hy saam na die Zambezi kan reis, wat hy gretig gedoen het.

So dan is die aanvoorwerk gedoen, die appel moes net aan die boom verskyn.

En op Maandag 15 Maart het die skip die Kimberley Mail in Tafelbaai gearriveer, met ’n pakkie aan boord – ’n fortuin in ongeslypte diamante, wat uiteindelik vir Engeland bestem was.

Die pakkie was in ’n geregistreerde possak, maar om een of ander rede is die skeepsvaart vertraag en is die sak onder die trap in die poskantoor gestoor.

Die volgende oggend was daar konsternasie. Die possak was oopgemaak en die diamante was skoon-
veld. Niemand kon eens raai hoe dit gebeur het nie.

Dit was in ’n tyd vóór vingerafdrukke, of enige NCIS-tegnieke, en ’n tyd vóór instansies soos Interpol, en kommunikasienetwerke was gebrekkig, so dit was toe soveel makliker om oor grense te vlug.

Daarom het die pogings van twee speurders wat die saak moes ondersoek, asook ’n beloning van £1 000 niks opgelewer nie.

Die drie “vriende” het skaars die grens van die Kaapkolonie bereik, toe word die amptenaar teruggeroep na Kaapstad. Bailey en Barclay het verdwyn en eers veel later het die storie agter die diefstal bekend geraak; dat Bailey ’n Engelsman genaamd Adam Worth was en Barclay ’n Amerikaner genaamd John Wynut.

Miskien, dink ek, het Adam gesê die risiko is “Worth it” en John het geantwoord “Why not?”

Worth is later gevang toe hy ’n geldwa in België wou beroof en daarna het die storie van die Groot Diamantdiefstal uitgekom. En nou ook hier by ons danksy The Cape Oyssey.

Wynut egter, het in die niet verdwyn en ’n mens sou graag ook sý storie wou hoor. Wie weet, dalk eendag as ’n fliek, met Leonardo di Caprio in die hoofrol.