Elke hond kry sy dag

Skoolhoof David Schenck, met Olga Human.

Olga Human, kunstenaar en trotse ma van Parel Vallei Skool, het dié kunswerk van Winston – PV se (lewendige) gelukbringer, verlede week aan die skool geskenk. Hiermee het sy die hoof en onderwysers bedank vir hulle toewyding en harde werk wat nou selfs nog meer raakgesien kan word, tydens die pandemie. Steeds word leerders aanlyn en by die skool onderrig, en leerders word ook ondersteun en bemoedig in die tyd. Olga se dogter, Saskia, is tans in Graad 9, en is baie gelukkig in Parel Vallei waar sy haar plek gevind het, en al die geleenthede aangryp wat die skool haar bied. Die skildery sal met trots in die hoof se kantoor hang en altyd dien as ‘n simbool van PV se Blue Thread-familie, waarin almal tuis is en ‘n rol het om te speel, net soos Winston met al sy energie en liefde vir almal. PV bedank ook graag vir Alex Mac Gillivray van Heldervue Framers, wat die skildery geraam het.