Helderberg skole maak vanjaar geskiedenis met die aanbied van die Dischem Interskole-atletiekbyeenkoms 2022.
Na Hoërskool Parel Vallei, Hoërskool Strand en Hoërskool Hottentots-Holland soos talle ander skole in die land nie laas jaar kon meeding in hulle jaarlikse Interskole-atletiekbyeenkoms nie, kan atlete en ondersteuners van dié drie skole nou uitsien na die kragmeting op Vrydag Februarie 18, 2022.
Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes sal vanjaar die gasheer wees.
Daar word gewoonlik ewe hard gekompeteer op die baan en veld as op die paviljoen om uiteindelik die skool met die beste gees te bepaal, maar dié jaar maak die trio geskiedenis wanneer hulle optog en gees van die dag ’n gesamentlike spanpoging van al drie skole sal wees.
Kultuurhoof van Parel Vallei en Optog-organiseerder, Darryl Spijkers, sê dit is belangrik om in 2022 as ’n eenheid terug te keer ná Covid almal van ons geraak het.
“Die geesbeker sal tussen die drie skole gedeel word om ’n gevoel van eenheid te skep en om simbolies gees en aanmoediging vir mekaar aan te gee. Ons vier die mooi tradisie van interskole, die terugkeer na die baan en veld waar ons weer mag deelneem en ons vier die lewe en oorlewing met die tema, Survivor.
“Vlamme en vuur vorm ook deel van die optog se dekor en musiek en simboliseer die lig en passie van elke kind wat weer aangesteek word.”
Dansers, trompoppies, dirigente en selfs gimnaste van Parel Vallei, Strand en Hottentots-Holland het reeds in Desember 2021 begin oefen.
“Die atlete sal steeds in alle erns sake uitspook op die atletiekbaan om te kyk wie hierdie jaar die wenner sal wees, maar die saamspan van drie skole se gees het reeds iets besonders gebring na die Dischem-Interskole van 2022,” het mnr. Spijkers ten slotte gesê.