Sowat 1 100 leerders van 24 skole uit die Stellenbosch- en Franschhoek-omgewing sal vanjaar aan die e’Bosch-skoolkoorfees deelneem.
Koorleiers by verskeie skole ontvang vanjaar afrigting van Stellenbosch Universiteit se musiekdepartment en praktiese ondersteuning via Maties Gemeenskapsdiens.
“Die belangstelling vanjaar getuig weereens van die behoefte aan so ’n geleentheid, waar kinders deur deelname aan koorsang sonder die druk van kompetisie op spontane wyse mekaar leer ken, karakter bou, innerlike verryking ervaar en hul samehorigheid as Stellenbosch se jeug kan vier,” sê Johann Murray, voorsitter van die e’Bosch-reëlingskomitee en koördineerder van vanjaar se koorfeeste.
“Ons sien uit na die optrede van 490 leerders van 8 van Stellenbosch se hoërskole op Dinsdagaand, 19 September, om 7nm by Hoër Meisieskool Bloemhof en 650 leerders van 18 laerskole op Vrydagaand, 22 September, om 6nm in Stellenbosch se stadsaal.
“Vanjaar is daar vier laerskole wat vir die eerste keer ’n koor op die been bring om deel te kan neem. Die Universiteit van Stellenbosch se musiekdepartement, wat die beste studentekoor in die wêreld voortgebring het, ondersteun hierdie skole deur oor twee naweke opleiding aan 13 van die laerskool-koorleiers te bied. Die Maties Gemeenskapdiens mobiliseer verder studente vir 10 van die skole wat koorleiers met afrigting en begeleiding bystaan,” sê mnr Murray.
Stellenbosch se e’Bosch-erfenisprojek is ’* inklusiewe beweging wat gemik is op die vestiging van ’n kultuur van vrywillige deelname aan genotvolle geleenthede waardeur gemeenskappe mekaar kan leer ken, waardeer en respekteer en daardeur die pad baan vir die saamerk aan gemeenskaplike doelwitte.
Die dorpe wat tot dusver ’n bydrae gelewer het, is onder meer Cloetesville, Idasvallei, Jamestown, Kayamandi, Klapmuts, Kylemore, Pniël , Raithby, Vlottenburg en Stellenbosch-sentraal, sowel as die plaasgemeenskappe.
Die skoolkoorfees, wat moontlik gemaak word deur borgskappe van groot maatskappye in Stellenbosch asook BASA, is een van die hoogtepunte op die e’Bosch-erfenisprojek se program van sowat 30 items wat gedurende September vanjaar aangebied word.
Besoek www.ebosch.co.za vir meer inligting oor die projek.