Duminy is dood, lank lewe Duminy!

Johanna Duminy

Soos verlede week genoem, wil ek graag meer oor die haas vergete F.R. Duminy se teenwoordigheid aan die Kaap, asook dié van sy vrou Johanna (1757-1807), vertel.

Andrew Duminy, skrywer van die boek François Renier Duminy 1747-1811, French mariner and South African pioneer, skryf breedvoerig oor sy voorsaat se afkoms en loopbaan as seevaarder gedurende die jare 1750 tot 1777, maar dis die “South African pioneer”-deel wat my interesseer.

Oor die plaaslike familie Duminy sal ek volstaan deur te sê dat die Protea-krieketspeler, J.P. Duminy van F.R. Duminy afstam, van die Genadendal-deel van die familie, en dat krieket beslis van lankal af ’n belangrike aspek in die familie se bestaan was.

Maar, kom ons kyk dan waarom F.R. Duminy ’n Suid-Afrikaanse pionier was.

Duminy is in Frankryk (Lorient) by die Vrymesselaars geïnisieer, en in 1778 het hy by die Losie Goede Hoop aangesluit. Hier aan die Kaap het hy in die range opgegaan.

Nietemin, dit het goed gegaan met Duminy gedurende die jare 1777 tot 1787. Hy het reeds in 1773 op sy toekomstige vrou, Johanna, verlief geraak, maar hulle sou eers trou nadat Duminy begin geld maak het uit handel met Mauritius – hy was onder andere later kaptein van die bekende slaweskip Meermin.

In 1778 kon hy ’n huis in Kaapstad koop (tussen die huidige Plein- en Parlementstrate). Daar het hy en Johanna gewoon, hoewel hy dikwels weg was op handelsvaarte.

Mettertyd het hulle grond bokant die Tuine gekoop en die herehuis Le Jardine laat bou.

Hulle het in styl geleef, met alles van die beste, mooi klere, skilderye en juwele, asook ’n groot boekery. Hulle rykdom het hulle egter grootliks aan slawehandel te danke gehad.

Benewens handeldryf (hy het ook medaljes van die Franse owerhede ontvang vir sy diens in hulle vloot) het Duminy hom onderskei as navigator en kartograaf en sy kaarte van die Suid-Kaapse kuslyn, in 1780 begin, en later die Weskus, was inderdaad ’n trotse, nuttige nalatenskap.

Net noord van Saldanha en suid van Paternoster (32 grade 57 minute Suid, 17 grade en 52 minute Oos) is vandag ’* baken genaamd Duminy Point, waaraan hy onthou kan word.

Duminy het in 1794 die plaas Compagniesdam (tussen die huidige R27 en die see) bekom, waar hy en Johanna gewoon het. Nou, Johanna (née Nöthling of Neethling) en haar dagboek.

Dit moet in ag geneem word dat Johanna, anders as haar belese en berese eggenoot, nie veel skoling gehad het nie – die Kaap onder die V.O.C. het nie formele onderwys aan inwoners gebied nie en reisende onder-wysers was selde bevoeg om te doen waarvoor hulle betaal is.

Daarom het sy fonetiese spelling gebruik, dus het sy geskryf nes die mense gepraat het en word haar geskrifte as een van die vroegste voorbeelde van geskrewe Afrikaans beskou, anders as ander geskrifte wat gewoonlik in Nederlands was. Sy het skynbaar ook die term “padkos” geskep.

Johanna se dagboek was ’n unieke en dikwels humoristiese rekord van die plattelandse lewe aan die Kaap van daardie tyd en sy het ook ’n kasboek bygehou, wat bewys lewer van die feit dat sy verantwoordelik was vir die huishouding; organisasie, aankope, die lot.

Die skrywer het etlike uittreksels daaruit verbatim aangebied.

Die Duminy’s se lewe saam was grotendeels gelukkige en voorspoedig, maar dit het nie so geëindig nie. Nadat die Britte die Kaap die tweede maal in 1806 oorgeneem het is die Bataafse administrasie, waarvan Duminy as hawemeester van Simonstad deel was, beëindig en was hy werkloos.

Hulle finansiële posisie het algaande versleg en hy moes geld leen en eiendom verkoop – soos Compagniesdam, met die slawe, vee, wa en alle toerusting en huisraad, selfs sy geliefde boekery.

Johanna het ’n jaar na die Britte oorgeneem het gesterf. Dis onduidelik wat die oorsaak van haar dood was, maar Duminy het hulle finansiële ondergang as bydraend beskou. Hy praat van “morte de chagrin”, oftewel “dood weens ’n gebroke hart”.

Van siekte gepraat, iets intereressant: Duminy se eie dagboeke (laas week genoem) bevat heelwat rate vir ghout, en een daarvan is die gebruik van die plant Colchicum autumnale waaruit colchicine vervaardig word, en wat vandag steeds gebruik word – en soos ek self kan getuig, is dit heel effektief.

Duminy se sterftekennis lui as volg: “Heden morgen den 26sten May heeft het den Almachtigen God behaagd, den heer François Duminy, onzen teerbeminden vader, in zyn leve Ridder van den Grote Kruis der Order du Lion de Limbourg, Capt. Ter zee en oud-Equipagemeester, in den ouderdom van circa 64 jaren, het Tijdelike met het Eeuwige te doen verwisselen.”

Soos verlede week reeds genoem, is Duminy feitlik vergete soos die bouval van sy plaas wat onder duine verberg was, maar danksy sy biograaf Andrew Duminy en Protea Boekhuis, is daar nou ’n deeglike rekord van sy agtergrond, lewe en dié van sy uitgebreide familie.