Die klein gemeenkskapsdramagroep, gestig en bestuur deur Lea Coetzee in Sir Lowry’s Pass Village, is aan die begin van die nuwe jaar goed op dreef om hul doelwitt van hul dramas te verfilm, te verwesenlik.
Oorspronklik deur me Coetzee – ’n versorger van beroep- in haar vrye tyd gestig met die doel om kinders en jongmense se kwesbaarheid tot negatiewe invloede en aktiwiteite te verhoed deur hul dae met ’n posititiewe en opbouende aktiwiteit te vul, het Lea se dramagroep gou gewild geraak en meer lede, insluitend volwassenes het intussen by die kunstige jongklomp kom aansluit.
“Die naam Lea staan vir liefde, erkenning, aanvaarding,” brei sy uit agter die betekenis van die groep se naam.
Verlede jaar het me Coetzee haar begeerte bekendgemaak om die toneelstukke te verfilm en sy deel baie opgewonde die nuus mee dat die dramagroep alreeds onlangs van hul verhoogstukke begin verfilm het.
Die groep is tans besig met repetisies ter voorbereiding van die volgende verfilming segment. ’n Verwikkeling waarop sy ontsettend bly en verlig oor is.
“Verlede jaar het ek moedeloos geraak omdat ek nie die geld gehad my salaris was baie min so ek dink nie eers ek sou kon kwalifseer het vir ’n lening vir daai tipe geld om iemand te betaal om die stukke te verfilm, so toe het ek ma gelos en besluit ek gaan nie eers meer ‘worry’ met die stories nie of verder iets te doen nie, want alles was net teen stopblokke en ek het gevoel daar is nooit help vir my nie.
“Toe ek op die punt kom waar ek nie meer ‘worry’ van stories en goed doen nie, toe kom die deurbraak en ons kon toe begin skiet aan van ons tonele.”
Die proses is tans goed op dreef. “Die verfilming vat bietjie tyd omdat die tonele mos op verskillende plekke geskiet moet word, maar ek is dankbaar dat ons alreeds kon begin daarmee.”
Sy noem hulle kon reeds tonele verfilm by die plaaslike kliniek en in die gemeenskapstrate en omgewing. Iets waaroor daar baie rep en roer oor was onder toeskouers wat die verfilming kom kyk het.
“Die plaas van die koerantberigte en onderhoude wat ek gedoen het oor my dramagroep èn ons planne het vrugte afgewerf,” het sy baie verlig gesê.
Sy beklemtoon die dramagroep se beoogde impak om opvoedkundige produksies op te voer om sodeoende nie net ’n bron van vermaak te wees nie, maar ook ’n sterk boodskap oor te dra en sodoende die jeug te ontmoedig om nie by toksiese sosiale euwels betrokke te raak nie.
Me Coetzee benadruk hoe die gemeenskap gebuk gaan onder erge dwelm misbruik, tienerswangerskappe en miv-infeksies en hoe haar eindoel is om met hierdie uitbeelding in opvoerings, jongmense teen hierdie gevare te waarsku.
Een van die jong amateur akteurs, Ethan Steyn, (18) wat ’n hoofrol, in een van die dramas, Tik verwoes huisgesinne, vertolk kan nie wag om sy akteursvernuf in die eindproduk op film te sien nie.
“Ek speel ’n karakter sy naam is Arrie en in die rol word my meisie swanger, maar dan verloor sy die baba omdat sy aan tik verslaaf is en om die rol te vertolk en die seer en hartseer gevoelens uit te beeld was nie vir my lekker, maar ek is trots op die storie wat dit vertel.”
Van die toneelstukke kan gesien word op die TikTok- toepassing, by leacoetzee975
Vanjaar is me Coetzee se fokus daarop om meer motiveringspraatjies by skole in haar omgewing te lewer. Al was haar eie pad ook besaai met moeilike tye en omstandighede, ag sy dit haar plig om die welstand van ander jeugdiges te prioritiseer.