Direkteur besoek Italië

Michael Jonas

Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl, het laasweek aan ’n internasionale werkswinkel oor taalmuseums in Florence, Italië, deelgeneem.

Die werkswinkel is aangebied deur die Italiaanse Internasionale Instituut (Lorenzo de’ Medici) se Meestersgraadprogram in Museumstudies en die Sapienza Universiteit van Rome se Departement van Europese, Amerikaanse en Interkulturele Studies.

Individue en instellings betrokke by die totstandkoming en uitbeelding van taalmuseums en -uitstallings is genooi met die idee om internasionale samewerking tot voordeel van al hierdie projekte tot stand te bring. Ander deelnemers sluit in taalmuseums in Kanada, Frankryk, Noorweë, Oostenryk, Lithuanië, Italië, Duitsland en die Verenigde Koningkryk.

Volgens die organiseerders, proff Nadia Cannata en Maia Wellington Gahtan, simboliseer monumente, landskappe en grense identiteit en kultuur en is dit dus ’n sleutel vir die vertolking van ’n nasie se verlede: “Maar watter nasie en wie se verlede?”

Jonas sê in sy referaat dat museums as kulturele instellings, en uitbeeldings soos monumente, as openbare spasies van gesag beskou word: “Die rol en invloed van hierdie openbare spasies in die vorming van ’n vorige Suid-Afrikaanse identiteit het in die onlangse verlede onder die soeklig gekom. Universiteitstudente se veldtogte soos #Rhodesmustfall het ’n nuwe era ingelei waarin instellings soos die ATM deeglik ondersoek moet instel na die gronde vir ons bestaan en mandaat.

“Hierdie intervensies kan die instelling help om relevant te bly en dit in staat stel om die immer veranderende behoeftes van ons samelewings aan te spreek.”

Jonas plaas in sy referaat die ontwikkeling van die instelling in konteks met die sosio-ekonomiese agtergrond van hierdie tydperk deur uit te wys hoe die ontwikkelingstrategieë by die Afrikaner-nasionalistiese agenda ingepas het en hoe die instelling deur sy aktiwiteite ’n wit identiteit gebaseer op ’n algemene verlede geskep het.

Hy ondersoek ook hoe gemeenskap-inklusiewe/eksklusiewe deelname gedryf is, hoe uitstal-, program- en kommunikasiestrategieë ingespan is om die dominante Afrikaner-verhaal uit te beeld en in stand te hou, ten spyte van pogings tot opgradering en die byvoeg van nuwe vertolkings.

Jonas glo dat die instelling onder leiding van die Raad van die ATM en die nasionale Departement van Kuns en Kultuur ’n instelling kan bedryf wat inklusiewe dienste en ervarings aan kliënte bied.

“Die ATM se strategiese plan kan die instelling help om relevant te bly, om bagasie en dekonstruksie van die verlede aan te spreek en om ’n liefde en waardering vir die inklusiewe geskiedenis van Afrikaans onder sy diverse gebruikers in ’n multi-kulturele omgewing te kweek,” sê Jonas.

Een van die hoofdoelwitte van die werskwinkel is ’n beplande museum van Europese stemme in die vorm van ’n rondreisende museum, ’n webportaal en/of ’n ‘museo diffuso’ (netwerk-museum).

Die doel van dié projek is om navorsing en kennis te versprei, om aktiewe openbare deelname rondom kulturele identiteit, taalerfenis en literêre kultuur aan te moedig vir aktiewe eienaarskap van ’n gedeelde erfenis, en om vindingryke maniere te vind om die rykdom van akademiese materiaal, asook bydraes deur die publiek, te bewaar en uit te stal.