Die ou mense van Macassar …

Annemarie Meyer

Distrik Ses… Die naam op almal se lippe, oor die onreg wat daar tydens gedwonge verskuiwings oor die jare heen, maar veral vanaf 1966, teenoor die bruin inwoners gepleeg is.

Macassar. Min mense in die Helderberg weet van daardie onreg. Net die mense wat daardie soortgelyke trauma moes beleef.

Macassar was ’n informele woon-gebied buite Somerset-Wes, op pad Kaap toe. So ’n entjie verder aan, verrys die seilskepe van Cape Town Film Studios op die horison – waar die internasionale sterre hulle brood kom verdien. Maar aan dié kant van die N2 bly baie arm mense wat ’n hartseer geskiedenis het wat vertel moet word.

Die Groepsgebiedewet

Die Groepsgebiedewet van 1950 wat deur die Nasionale Party-regering van die dag gepromulgeer is, het die skeiding van woongebiede tussen rasse gewettig.

Mettertyd het dit sy kloue in die gemeenskappe ingeslaan – en mense van mekaar vervreem. Hierdie rassevervreemding het ’n wig tussen mense ingedryf, en het tot vandag toe nog ’n uitwerking op die nageslagte.

Somerset-Wes was ’n groen, goed gevestigde dorpie met ’n landelike gemeenskap. Die bruin mense het in harmonie saam met die wit mense gebly.

In die kern van die dorp, van Faganstraat weswaarts en in Mainstraat, was die bruin mense gevestig rondom hulle kerke en skole, en naby die winkels, dokters en vervoer. Die plaas- en dorpsmense was in verskillende areas om die kern gekonsentreer, maar het tog ’n hegte eenheid met gemeenskaplike belange gevorm.

Daar was rugby- en netbal-spanne wat teen mekaar gekompeteer het. Saterdagaande was hulle ligvoets op die dansbaan en Sondae was almal in die kerk.

’n Bedrywige gemeenskap. Plotseling is hulle gemeenskapslewe verbrokkel.

Oor die eeue heen is die plase van die wit boere al om die soom van die dorp gevestig, waar die plaaswerkers in gemeensaamheid met hulle wit landgenote gewoon het. Elkeen het in vrede sy eie kulturele gewoontes beoefen en mekaar gerespekteer.

Nuwe woongebied

Die groepsgebiedewet het bepaal dat ander rasse nie in ’n wit gebied of op wit eienaars se eiendom mag bly nie, tensy dit die eiendom van ’n kerk was.

’n Groepsgebiederaad wat in Stellenbosch gevestig was, het Macassar geïdentifiseer as die nuwe woongebied vir die bruin mense van Somerset-Wes.

Gedurende die laat sestigerjare het hulle die bruin mense wat huise by wit mense in Somerset- Wes gehuur het, kennis gegee dat hulle Macassar toe moet trek.

Die Methodiste Kerk – wat al sedert 1860 in Kerkstraat, in die kern van Somerset Wes gevestig is – het egter summier geweier dat sy eiendom vervreemd word, en verklaar dat al die huise in die strate rondom die kerk kerkeiendom is en nie vervreemd mag word nie.

Na 1994 is die huise op die kerkeiendom aan die huurders verkoop. Daardie huise is vandag nog steeds daar oorkant die kerk in Kerkstraat af.

Macassar was ’n verlate, beboste stuk grond by Firgrove, so 10km wes van die dorp. Die kalkoonde en Deepfreeze se fabriek vir bevrore groente was aan die oostekant naby Macassar geleë, en van die bruin mense het ook daar gewerk.

Hierdie verskuiwing was teen die bruin mense se sin, maar hulle het geen keuse gehad nie. Hulle wou egter nie trek totdat die huise klaar gebou was nie.

Na die ontbosting van die stuk veld, is eenslaapkamerhuisies opgerig en moes die nuwe inwoners hulle intrek neem. Stofstrate met die Suid-Oostewind wat die stofstorms oral inwaai.

Sonder enige elektrisiteit, ’n emmertoilet in die agterplaas en net ’n gemeenskaplike buitekraan. Ver van alles. Geen winkel, skool, dokter, polisiestasie of gereelde vervoergeriewe nie.

Slagoffers van verskuiwings

Een van die eerste persone wat hierdeur geraak is, is tannie Jane (Janey) Davids, 81. Ek het hierdie kiertsregop, stylvolle en beskaafde dame by die jaarlikse Kerspartytjie vir die oumatjies van Macassar ontmoet.

Louie van Rooyen, die groot gees by die sopkombuis op Dinsdae, vra my elke jaar om haar hiermee te help. Daar het ek baie stories van die verpligte verskuiwings van hierdie oumatjies gehoor.

Hulle wil so graag sê dat die wêreld van hulle swaarkry moet weet.

Janey is op 24 Januarie 1935 in Somerset-Wes gebore. Haar moeder, Lenie, was ’n huiswerker, en haar pa Joseph, is vroeg oorlede. Sy was die enigste kind.

Sy en haar ma het in ’n Morkel-cottage in Gordonstraat gewoon. In hierdie cottages het ’n gemeenskap bruin mense gebly, en die huur was so tussen R5 en R6 per week. Dit het aan Mnr Nicolaas Morkel, een van die Morkelbroers behoort. Sy seuns was Pieter en Ryk.

Janey was ’n lid van die Engelse kerk. Sy het ook daar skoolgegaan. Die skool het Sub A, B en Std 1 klasse gehad en daar was omtrent 20 kinders per klas. Die skool was in Engels en Afrikaans, maar die kerk was net in Engels.

Hulle het op leie geskryf. Sy het nie verder as Std 1 geleer nie, en sy dink met groot genot terug aan haar sorgelose, genotvolle skooldae.

In die hoofstraat was ’n hele paar winkels, o.a. General Stores, waar Shoprite nou is, en wat hoofsaaklik deur bruin mense ondersteun is.

Daar was nog winkels soos Mr Gorax se winkel, Mr Prag se winkel, Mr Fynn se winkel, Levisohn, Levin, R Miller, W Miller vir houtwerk en hardeware, Baggis en Mr Martin se apteek. Miserina was die viswinkel en die smous Agmat het vis verkoop.

Daar was ’n slaghuis en vier hotelle soos o.a. die Savoy, Queens en die Alexandra. wat almal slegs vir blankes was. Die winkels is meestal deur Jode besit. Daar was ook ’n Standard Bank en die Joodse sinagoge, die Ned. Geref-, Anglikaanse-, Roomse- en Methodistekerke.

Laasgenoemde se fasade gewel en ingangsportaal het op 10 June 2010 ineengestort.

Na ’n lang periode van fondsinsameling is die kerk in sy volle glorie herstel. Almal het by die skool van die Methodiste Kerk skoolgegaan. Die gemeente en die skool floreer vandag nog.

Die Hottentots Hollandhospitaal het die hele gemeenskap gedien, en Drs Reznick, Crozier en Sanders het ook die bruin gemeenskap bedien. Daar was ’* Nursing Home in Lourensstraat. Daar het Nurse Heunis na al die bruin babatjies omgesien.

Na skool het Janey as kinderoppasster by die Stewarts in Cloetenburgstraat gaan werk en gedurende die somermaande het sy in mnr en mev Butler se wingerde gewerk. Sy is nooit getroud nie.

Trek en aanpassing

Sy is in die laat sestigerjare in kennis gestel dat sy Macassar toe moes trek en teen 1972 het ’n inspekteur van die Groepsgebiede-raad haar in in kennis gestel dat haar huis gereed was.

Janey moes gou inpak en ’n vuilgoedlorrie het haar besittings kom oplaai. Toe hulle so wegry, het ’n stootskraper hul huisie platgestoot.

Haar goedjies is op die vaal stofpad in Maccassar neergegooi en sy moes, vrou alleen, sien kom klaar. Die huisies het sinkdeure gehad wat hulle nie teen die vaal stof beskerm het nie.

Water was ’n groot probleem, want daar was ’n gemeenskaplike kraan en die toue by die waterkraan was lank. Sy moes, soos die ander inwoners, in die bosse rondom Macassar hout gaan kap vir haar stoof. Daar was geen plekkie vir die kinders om te speel nie, behalwe in die vaal stofstrate.

Daar was elke dag een bus na en van Somerset-Wes om 6vm en 6nm wat van Firgrovestasie vertrek het.

Dit was omtrent so 3km ver, en veral vir ’n vrou-alleen, was dit donker en gevaarlik op die voetpaadjie tussen die Port Jacksonbosse deur, veral in die winter, wanneer dit alreeds donker was.

En bewaar jou siel as jy die bus verpas, want dan moet jy maar met dapper en stapper in die pad val en nog boonop baie laat by jou werk aankom. Daar was geen alternatiewe vervoer as om saam met die vullislorries te ry nie.

Hierdie verskuiwings het die gemeenskap verdeel, want die mense in Macassar was sielsongelukkig, maar hulle kon nie terugtrek nie, want hulle huise was platgestoot.

Veral die feit dat daar geen skool of kerk was nie, faktore wat ’n gemeenskap saambind, het tot die verdeeldheid bygedra.

Baie trane is gestort oor hulle veranderde lewensomstandighede en ’n lewenswyse wat verby was.

Boonop was die huur nou R300 ‘n maand, en as die huur nie op die laaste dag van die maand betaal is nie, word die huurder summier die volgende dag op straat met meubels en al uitgesit, sonder ’n ander heenkome.

’n Prokureur van die Strand, ene mnr Bosman, het van die inwoners, o.a. vir Lenie Piek, wat ’n paar uur laat betaal het, bygestaan, om sodoende nie binne 24 uur uitgesit te word nie.

Meer en meer mense is verskuif.

Nog ’n inwoner wat verskuif is, is Lenie Piek, 86 (geb. Marthinus).

Lenie is ’n baie aktiewe en ondeunde oumatjie. Sy is op 30 April 1930 gebore.

Sy het ook in ’n Morkel- cottage in die Park (Brickfield) by haar ouma grootgeword want haar ouers het albei gewerk.

Haar ouma het by Piet en Ryk Morkel ’n cottage gehuur. Hulle het baie lekker daar gebly want almal het mekaar geken.

Sy is eers na die Engelse skool en later na die Methodisteskool toe waar sy na Std 4 die skool verlaat het. Sy het toe vir haar ouers op die plaas gaan help.

Manie en Martha Piek, haar grootouers, haar pa Leonard Pietersen en haar ma Anna het op die Morkelplase aan die Oostekant van die dorp gewerk.

Daar is met druiwe,suurlemoene, waatlemoene en spanspek geboer, en die mans het met bouery gehelp. Wanneer die vrugteseisoen verby is, het Lenie kinders tuis opgepas of ander los werkies gedoen.

Toe sy ouer was, het sy witmense se kinders op die dorp opgegepas. Sy het vir mev. Carter gewerk teen twee pond vyftig per maand, en was baie gelukkig.

Sy het, soos die meeste ander bruin mense, oral gestap waar sy wou wees, want alles was naby aan mekaar geleë. Sy is op die ouderdom van 26 getroud met Johannes J.M. (Oese) Piek, en haar man was ’n handlanger en messelaar.

Hy is op die ouderdom van 60 dood aan ’n hartaanval.

Lenie en haar man se gedwonge verskuiwing het dieselfde patroon as Janey s’n gevolg behalwe dat dit ’n jaar of wat later gebeur het.

Ontwikkeling en die hede

Aanvanklik is al die ander nuwe inwoners van Macassar deur dieselfde trauma as Janey en Lenie.

Na twee of drie jaar is bome en tuine aangelê.

’n Mev Doepa Miller en Shirley Gordon het na die mense van Macassar se klagtes kom luister en met die Groepsgebiederaad in Stellenbosch gaan praat om dit onder hulle aandag te bring hoe swaar die mense van Macassar kry.

Daar is toe ’n behuisingskantoor van sinkplate gebou wat die griewe gehanteer het.

Mettertyd is die strate geteer en ’n skool is opgerig. Tans is daar twee hoërskole, nl Zandvliet Hoër en Macassar Hoër, en drie laerskole, nl. Macassar Laer, Marvin Park Laer en Oklahoma Laer.

Sedert 1994 val Macassar onder die munisipaliteit van Kaapstad.

Die ouer inwoners is nou gevestig in hulle gemeenskap en bly nou rustig daar, veral weens die bydrae van oom Sammy Louw by die Calvynse Protestantse Kerk.

Die dienste wat egter gelewer word, is nog baie swak, met uitsondering van die verwydering van vullis, wat ’n goeie diens lewer. Water en elektrisiteit is baie duur, en baie mense kan dit nie bekostig nie.

Die Hottentots Holland en Helderberg N.G. gemeentes het ’n uitreikaksie na Macassar geloods. ’n Calvynse Protestantse Kerk is op 4 April 1973 gestig, en toe is daar op ’n klein skaal met ’n sopkombuis vir die inwoners begin.

Die kerkgebou is op 12 Augustus 1979 ingewy. Na aanleiding van ’n artikel in die Distrikspos het ’n Mnr Chris en Mev Aat van der Leij, Nederlandse burgers, finansiële bystand verleen en is die baie mooi huidige gemeenskapsentrum by die kerk op 9 Maart 2008 ingewy.

Dit was ’n droom van oom Sammy Louw wat bewaarheid geword het.

Sedert 2000 het oom Sammy hom toegewey aan ’* beter fasiliteit en onder die bekwame leiding van hom en sy gade, tannie Sophia, voorsien hierdie gemeenskap sentrum in ’n broodnodige behoefte.

Hier is ’n speelskooltjie vir peuters en kleuters, en elke Dinsdag is Louie van Rooyen aktief betrokke, wanneer daar met bydraes van die vier groot supermarkgroepe, vir meer as 200 mense sop en kos gegee word.

Vandag is daar is ‘n taxistaanplek naby die hoofweg. Tans is die enkelrittarief vir ‘n taxi tot in Somerset Wes R10.

Die nuwer gedeelte wat algemeen bekend staan as Rondomskrik, is egter waar die misdaad en bendeverwante geweld plaasvind.

Die meeste mense in Macassar is arm. In die ou deel is dit egter rustig en die ouer inwoners wat nou al veertig jaar hier bly, is gelukkig.

Hulle het vrede gemaak met die verlede, en dit is hoekom daar nooit oor gepraat word nie.

* Annemarie Meyer, who lives in Somerset West, got to know these women through her work at the annual Christmas party, and the soup kitchen, in the last few years.