Die lang skaduwees van ou legendes

Die Groot Verlange, deur Leon Rousseau, 1984-uitgawe, Human & Rousseau.

Op 9 Junie woon ek die eerste Eugène Maraisgedenklesing in die Paarl by. Die titel was “Winternag”, wat sinspeel op Marais (1871-1936) se beroemde gedig (Junie 1905), gehou in die Sendingkerk en die aandete later by die gastehuis Zomerlust.

En wat ’n lekker gesellige geleentheid was dit nie. Hoewel “Winternag” ’n gepaste titel was, o ja, die windjie wás koud en skraal, en ’n paar druppels het op die rug daarvan saamgery, maar die same-syn was warm en die gevoel was huislik.

Nietemin, ’n Marais-kenner is ek nie; het ek darem van sy boeke oor delwerye en termiete en bobbejane gelees, maar oor sy lewe weet ek min.

Die program, wat ook musiek en ’n gedig-voorlesing ingesluit het, is afgeëindig deur ’n lesing deur Johan Lodewyk Marais, wat die aanwesiges gefassineer het.

Marais was, is steeds, eenvoudig ’n fassinerende karakter, misterieus en innemend, veelsydig en kompleks, briljant en tragies.

Dit is natuurlik so dat hy en ’n aantal volkshelde van destyds ikone gemaak is deur historici, skrywers en politici – die volk het helde nodig gehad in onseker tye, die volkskarakter was halfgevormd, die mense het ’n morele en estetiese fondament benodig: Afrikaners moes in hulself glo en hulle kultuur liefkry om standvastig teen buite-aanslae te kon wees.

’n Onwrikbare selfgeloof saam met ’n trots in die prag van Afrikaans en die vermoeëns van ons kunstenaars was ononderhandelbaar vir die klein volkie om te oorleef.

Só het die volksleiers geglo. En só is uitstaande persoonlikhede verder uitgebou tot reuse, titane wat vandag nog ’* aura van onaantasbaarheid geniet.

Maar terwyl ek so sit en luister na die kenners se vertellinge oor Marais, dink ek toe aan ander kultuur-ikone, wat nogtans voete van klei gehad het.

Soos Sangiro (A.A. Pienaar) wat veral beroemd geword het vir sy bundel sketse getiteld Uit oerwoud en vlakte, daardie sonderlinge diere-verhale wat etlike generasies Afrik-aners bewonder het.

Dié boek het deur die gevierde spotprentkunstenaar D.C. Boonzaier se bemiddeling ’n voorge-skrewe boek in skole geword.

Sangiro was tot Boonzaier se onsteltenis besonder traag om die boek in Engels te laat vertaal, maar Boonzaier het onvermoeid voortgegaan om dit na Engeland te stuur en vertalers te vind vir die projek.

Boonzaier het in sy dagboeke telkens genoem dat “hierdie jong Afrikaner werk net so goed soos Sir Percy Fitzpatrick se Jock of the Busveld is”, maar dat Sangiro skynbaar self nie in sy eie skryfvaardighede geglo het nie.

Min het Boonzaier geweet dat Sangiro Fritz Bronsart von Schellendorf se boek Afrikanische Tierwelt I: Novellen und Erzählungen, wat nege jaar vroeër verskyn het geplagiariseer het nie.

Hierdie intellektuele diefstal is in 1956 ontdek en rugbaar gemaak deur die kunskenner F.V. Lategan, maar daar was glo besluit om dit dig te hou.

Die volk sal nie aan sy helde ontruk word nie…

Ironies, die Hertzog-prys is vir al sy werk aan Sangiro toegeken, 11 jaar voor Lategan se onthulling.

Hierdie “lenery” van ander skrywers en vertellers se maaksels moes redelik dikwels plaasgevind het, deels dalk weens onkunde oor wat plagiaat behels, of omdat dit redelik maklik was om bv. ’n Amerik-aanse verhaal of gedig wat hier onbekend is oor te neem en aan te pas by plaaslike omstandighede.

Die groot geografiese afstande en gebrekkige kommunikasielyne het immers sulke handelinge vergemaklik.

Dieselfde was moontlik na die ander kant toe – ’n Belg kon maklik ’n Afrikaanse geskrif vertaal en as sy eie oorneem – soos die skrywer Maurice Maeterlinck (1862-1949) skynbaar met Marais se Siel van die Mier gedoen het.

Soos kinders wat eers glo hulle ouers is tot alles in staat en van alle boosheid en skete gevrywaar, maar later meer krities begin kyk en besef hulle is ook maar net mense, en hulle uiteindelik juis daarvoor meer waardeer, omdat hulle met al hulle swakhede en tekortkominge alles gege het om hulle kroos te beskerm en te koester en te voed en op te voed – so moet ’n volk ook mettertyd volwasse word, volwasse genoeg om te erken dat hulle (volks-vaders en moeders ook net menslik was.

En hoekom nie? Want juis hierdie proses van naïewe verering tot eerlike kritiek is die ontwikkelingsgang waardeur alle volke geforseer word op pad na volwassenheid en selfbegrip.

Aan die einde van die dag – om ’n voormalige Noord-Transvaalse rugby-ikoon se geleende gesegde op my beurt oor te neem – is die belangrikste om te onthou wat sulke ikone tot ons volkskultuurskat bygedra het, en nie ons blind te staar teen hulle brose menslikhede nie.

C.J. Langenhoven, die geliefde Neelsie, was self ’* alkoholis en egbreker (lees maar Kannemeyer se biografie van hom), en N.P. van Wyk Louw en D.J. Opperman het Langenhoven se genoemde twee swakhede gelykop tussen hulle gedeel, en só kan ’n mens aangaan.

Dog, dié mense se vleeslike is soos hulle liggame lankal tot niet, maar hulle literêre prestasies leef voort.

En so het ek op pad huistoe gedink: mag die sterre aan die Afrikaanse deel van die literêre uitspansel net so lank as al die ander voortflonker.

Terwyl ons gewone sterflinge in die donker voortkronkel en voort-konkel.