Die gees van Distrik Ses vasgevang in beeld

Een van die uitstalling se fotos.

Film-maker, joernalis en fotograaf Cloete Breytenbach word beskryf as “’n visuele digter” – en sy ikoniese swart en wit foto’s van die vroeë vyftigerjare in Distrik Ses het al amper volksbesit geword. So veel so, dat hy soms moes baklei om die kopiereg van sy beelde te behou.

“In daai opsig het ek geslaag as ’n getuie van wat Distrik Ses was en hoe dit gelyk het. As ek nou ’* bietjie kan brag – ek is die enigste fotograaf wat ’n volledige reeks foto’s van Distrik Ses geneem het – ander mense het kiekies en ’n paar odds and ends hier en daar geneem.”

Met sy tipiese skertsende, droë humor het Breytenbach stories gedeel oor die dinamiese Kaapse woonbuurt by die bekendstelling van sy boek The Spirit of District Six by die Breytenbach sentrum in Wellington.

Hy en sy drie broers en een suster het almal grootgeword in die einste huis wat in ’n kulturele en gemeenskap-sentrum omskep is.

Brian Barrow, ’n voormalige rubriek skrywer by die Cape Times het die teks voorsien, met sy filosofiese kommentaar oor die lewens van die inwoners.

Breytenbach het sy loopbaan begin in 1951 as nuus-fotograaf vir Die Burger in Kaapstad. In die middel sestigerjare het hy na Londen verhuis om te werk vir The Daily Express waar hy ook vir tydskrifte soos die Daily Mirror en Bunte gewerk het.

Na sy terugkeer na Suid Afrika het hy ’n foto agentskap gestig waar Suid Afrikaanse fotograwe werk voorsien het vir publikasies regoor Afrika en die buiteland.

Die mees indrukwekkende van hierdie opdragte sluit in sy foto-opstel vir Life magazine waar hy die eerste hartoorplanting gedek het in 1967 en sy onwrikbare dekking van die ineenstorting van Viëtnam in 1975, die oorlog in Angola (1976-1981) en die Yom Kippur-oorlog in 1973.

Breytenbach het al uitstallings in die VSA en Europa gehou en van die foto’s wat in die boek verskyn is in die Guggenheim Museum se versameling opgeneem.

“Distrik Ses was soos die mandjie van arbeid vir die stad, naby aan die hawe, fabrieke ensovoorts,” vertel Breytenbach.

“In daai jare was dit ’n baie interessante plek… ’n gemeenskap van alle kleure – Indiërs, Portugese, bruin, wit en swart mense het almal daar gewoon. Omdat dit ‘n slum buurt was, was mense geneig om op die straat te lewe want die huise was klein en ongesellig.

“In my mening was Distrik Ses die enigste geleentheid wat ons gehad het om ’* reënboog-nasie te sê. Almal het oor die weg gekom, ek was nooit aangerand nie, ek was aanvaar.”

The Spirit of District Six is ’n heruitgawe van die groter 1970 uitgawe en die kleiner formaat maak dit makliker om te hanteer en dus ook goedkoper om te druk.

Volgens Breytenbach is een van die hoofdoele van ’n heruitgawe “om te keer dat niemand anders ‘n boek oor Distrik Ses maak nie…

Een van ’n paar insidente verbonde aan kopiereg deur die jare was ’n kunstenaar wie kopieë van die foto’s in skilderye omskep het en die selfs by ’n galery in Kaapstad uitgestal het.

Breytenbach het hom genader en gesê: “Jy is onnosel, as jy één detail van die beeld verander het, sou ek niks kon gedoen het nie, maar nou het jy ’n keuse – of dit of jy haal af of jy betaal.”

Die skilder het ewe probeer om een van die skilderye vir hom te gee as betaling. “Hoekom? Ek het mos die negatiewe!” was die antwoord.

Inteendeel, in Dawid Kramer se nuwe musiek blyspel District Six Kanala word van Breytenbach se beelde gebruik as deel van ’n bewegende agtergrond op die verhoog – met sy toestemming hierdie keer. “Daar is ’n gebruik vir hierdie goed: veral as dit ’n onderwerp is,” sê hy, in lig van die leemte van nuus foto’s in drukvorm.

Die sloping van die area het begin in 1966 en meer as 50 000 mense was verwyder. Van die oorspronklike inwoners het slegs 10% van die eindomme besit. Dr Ampie Coetzee het hier opgemerk dat “hulle nie die kerke gesloop het nie “want hulle was bang vir God”.

“Die hele gemeenskap was in sy m**r, inwoners was verhuis na Mitchell’s Plain, nie soos vandag waar mense op die straat gegooi word nie.” Ironies genoeg, is daar pogings van die huidige regering om ’n nuwe Distrik Ses te bou, maar dit is leë beloftes, volgens Breytenbach. Van die 50 000 mense wat verwyder was, het 120 000 al aanspraak gemaak vir behuising. “n Jaar gelede was daar 139 nuwe huise gebou “en dis waar dit ophou”.

Die bekende fotograaf David Goldblatt, wie Breytenbach beskou as “’n ou vriend en ’n ou vyand” het in daardie jare kom kuier en wou ook foto’s neem van Distrik Ses.

Breytenbach het aangebied om saam met hom te stap om te verhoed dat hy nie in die systrate verlore raak nie. Goldblatt het geweier, en “toe hy het daardie aand by die huis kom, het net twee straps so afgehang” waar sy kamera netjies afgeknip was.

Breytenbach onthou hoe hy en Goldblatt een keer verby ’n klavier gestap het wat op die sypaadjie gestaan het. Toe Breytenbach stop om ’n foto te neem was Goldblatt heel verbaas want hy het nie die klavier raak gesien nie. “Jy moet jou oë altyd oophou,” tug hy.

Al die foto’s wat in die boek verskyn was met ’n Leica geneem. Dit het onlangs daartoe gelei dat die Leica Museum hom gevra het om eksemplare van die boek te verkoop in die museum in New York. “Ek is ’n Leica man,” sê Breytenbach – en voeg by dat hy nou “te slapgat geword het” om die heeltyd ’n kamera met hom rond te dra.

Hy skerts: “An old photographer never dies, he just goes out of focus.” Hy neem wel soms foto’s met ’n klein digitale “Leica-tjie” en verlang soms na die dae van film eerder as digitaal. “Film is hoe jy leer om foto’s te neem – jy kies die foto en wag vir die regte oomblik,” sê hy.

Sy gunsteling foto in die versameling was juis geneem met geduld. Hy het gestaan en kyk hoe mooi die skadu’s val teen ’n hoe klipmuur en gewag vir iemand om verby te stap om die komposisie te volmaak.

En net daar stap ’* Moslem vrou verby met ’n bottle half-jack voor haar gesig – heeltemaal onbewus dat sy afgeneem word. “Dís wat jy net met ’n Leica kan doen,” sê hy trots.

* The Spirit of District Six is beskikbaar by Protea Boeke in Stellenbosch en Worcester of by enige boekehandelaar teen R225. ’n Seleksie van Breytenbach se foto’s is in Ounooi se Jaart by die Breytenbach sentrum te sien.

* Cloete Breytenbach is die skrywer van die artikel, Anne-Karien Otto, se oom.