Die fiets is nou 200 jaar oud…

Hugo Truter en Dawid Botha, direkteure van Stellenbosch Fietsry, by die 200ste verjaardag viering.

Wie weet dat ons laas-week die 200ste verjaardag van die fiets vier?

Weliswaar was Karl Drais van Mannheim se Laufmachine ver van ons fietse van vandag, maar hy kon 5km binne ’n uur aflê sonder ’n perd!

Sy “fiets” is ’n Draisine genoem, en jy moes die tweewiel-gevaarte met jou bene en voete op die grond vorentoe aandryf.

Pedale het eers baie later bygekom toe ’n Fransman in die 1860s pedale aan die voorwiel bygevoeg het en dit het tot die Penny Farthing gelei.

Die fiets met ’n ketting soos ons dit vandag ken, is as die “safety bicycle” gebore in 1885 en was die uitvindsel van John Kemp Starley. Baie veiliger as die Penny Farthing!

Ons fiets van vandag het dus Duitse, Franse en Engelse wortels.

Die gewildheid van fietse het tot beter paaie gelei, nie die koms van die motor nie.

Om die waarheid te sê baie motors is deur fietsbouers gebou: Opel, Peugeot, Humber, om ’n paar te noem.

En Henry Ford het fiets gery van voor hy sy eerste motor gebou het tot hy 77 jaar oud was.

Die fiets het ook grootliks bygedra tot die emansipasie van vrouens want dit het aan hulle vryheid van beweging gegee.

Die fiets word vandag beskou as die mees doeltreffende vervoermiddel wat nog ooit deur die mens uitgevind is, meer doel-
treffend as ’n volgelaaide trein aangedryf deur krag van sonpanele en windturbines.

H.G. Wells het gesê: “Every time I see an adult on a bicycle, I no longer dispair for the future of the human race.”

Hierdie artikel is ontleen aan Robin Heydon, voorsitter van die Cambridge Cycling Campaign, en het meer breedvoerig verskyn in die Cambridge News, 12 Junie 2017.