Dan Sleigh vereer deur FAK

Dan Sleigh en Danie Langer

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), in samewerking met die Hugenote-Vereniging van Suid-Afrika, het laasweek die NP van Wyk Louw toekenning aan Dr Dan Sleigh oorhandig, vir sy bydra tot die Afrikaanse taal en kultuur, by ’n geleentheid by die Hugenote Gedenkmuseum in Franschhoek aangebied.

Dr Sleigh, wat in November 79 jaar oud word, het reeds talle toekennings vir sy skryfwerk ontvang. Met sy debuutroman, Eilande, wen hy onder meer
die Sanlam/Insig/Kwela-romanwestryd in 2001, die W.A.
Hofmeyr-prys en die RAU-prys vir skeppende skryfwerk in 2003 asook die M-Net boekprys en die Helgaard Steyn-prys in 2004. Sy nuutste boek 1795, wat afspeel in die Kaap in die laaste maande onder die Kompanjiesvlag, het reeds in 2015 NB Uitgewers se Groot Romanwedstryd gewen.

Dr Danie Langner het vertel dat in boeke soos Eilande en 1795, Dr Sleigh nie net op ’n boeiende wyse die ou VOC-geskiedenis vertolk nie, maar dat hy ook die historiese verband tussen Suid-Afrika en Nederland bevestig.

“In sy meesterwerk, 1795, vertel Dr Sleigh die verhaal van William van Rheede van Oudsthoorn se liefde vir die Kaap en sy geskiedenis, sy verdediging van die Kolonie teen die oprukkende Britse besetters, sy rebellie teen die lamsakkige VOC-owerheid en sy strewe na ’n eie Kaapse Republiek, vertel Dr Langner.

’n Groot deel van die verhaal speel af in William se huis, Saasveld, wat destyds aan die voet van Tafelberg gestaan het. Saasveld is in die vyftigerjare steen vir steen na Franschhoek verskuif en herbou as die Hugenotemuseum.

“In 1795 beskryf Dr Sleigh vir William as die laaste goeie man. Ek dink William sou bly wees as hy kon weet dat sy Saasveld-huis eeue later ’n bymekaarkomplek was om aan nog ’* goeie man erkenning te gee vir sy liefde vir die Kaap en geskiedenis,” volgens Dr Langner.

Dr Sleigh het die toekenning in ontvangs geneem met die volgende woorde: “Hierdie toekenning span vir my die kroon op my skrywersloopbaan en dit is ’n groot eer om op dié manier deur die FAK vereer te word en met Van Wyk Louw geassosieer te word.”

Hy het ook vir Helena Schaefer, kultuurhistoriese kenner wat hom reeds vir 20 jaar bystaan in sy navorsings- en skryfwerk, sy dogter Jean, asook die uitgewers by Tafelberg bedank vir hul ondersteuning deur die jare.

Dr Langner het daarop gewys dat Dr Sleigh, in dieselfde trant as NP Van Wyk Louw, die vraag na die waarde en nut van hoë kultuur op insiggewende wyse deur middel van geskiedenis opsoek en aanbied.