Britse spore nageloop: die laaste boek van Cor Pama

British families in South Africa, their surnames and origins.

My navorsing oor my familie het my voor my boekrak te staan gebring. Tussen die boeke oor hierdie tema sien ek ’n kleinerige blou-en-rooi boekie: Dr. Cor Pama (1916 – 1994) se British families in South Africa, their surnames and origins (Human & Rousseau, 1992).

Aangesien my eie familie hoofsaaklik Nederlandse en Franse voorsate bevat, het ek nog selde na dié boek gekyk. Voorin staan dat ek dit vir R10 gekoop het, wat dalk meer oor die rede van die aankoop sê as enigiets anders.

Dit beteken egter nie dat ek Dr. Pama se werk geringskat nie, inteendeel – dié man wat nou al ’n volle eeu gelede gebore is, het sekerlik meer as enigiemand anders meegedoen aan ’n stewige oeuvre van Suid-Afrikaanse genealogie (familiegeskiedenis) en heraldiek (wapenkunde).

Dr. Pama, ’n Nederlander van geboorte, het sy verwysingsbiblioteek van 800 boeke aan die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika nagelaat, maar dit was die boeke wat hyself geskryf of aan meegewerk het, wat werklik beïndruk.

Sy Heraldiek in Suid-Afrika, wat in 1956 gepubliseer is, was die eerste wat plaaslik verskyn het. Vir Suid-Afrikaners is sy Die Groot Afrikaanse Familienaamboek (1983) die bekendste van ’n dosyn soortgelyke werke.

Maar hy het al gedurende die Tweede Wêreldoolog (1943) begin publiseer met Heraldiek en ex-libris as sy eerste boek. En in 1935 het hy reeds ’n heraldiese tydskrif begin, dus op 19-jarige leeftyd. Familiegeskiedenisse was duidelik ’n lewenstaak.

Nietemin, terug na die boek. Dis in hardeband, beslaan 192 bladsye, insluitend ’n lys van genealogiese afkortings (soos “v.d.K.” wat “Van die Kaap” beteken en “rem.” wat “remarried” beteken), altyd bruikbaar is vir beginners in die veld.

Omdat baie genealogie deesdae via Google gedoen word (jy sal verstom wees wat jy alles daar vind), is ’n sleutel na Engelse afkortings ook vir anderstaliges nuttig.

Die boek handel hoofsaaklik oor die eerste inkommers van die albabeties-gelyste families (stamvaders), met datums van aankoms, betekenis van die familienaam (soos Stanley wat na “klipperige grond” verwys, en Frost, wat “óf iemand met wit hare óf iemand wat koud en gevoelloos mag wees” kan beteken), asook geboortedatums van stamvaders, name van eggenotes en datums van huwelike, en in sekere gevalle word familiewapens (“coats of arms”) ook verskaf, plus ’n lys van heraldiese terme.

Agterin is ’n bibliografie met name van ander bronne wat die navorser met vrug kan gebruik.

In die inleiding maak Dr. Pama ’n paar interessante opmerkings, soos dat daar etlike deeglik-nagevorste bronne oor Hollandse, Franse en Duitse families is, maar omdat Engelssprekendes later gekom het, is daar minder oor hulle. Brittanje het die Kaap in 1795 beset, afgegee in 1803, en weer beset in 1806, waarna die getal Engelssprekendes vinnig vermeerder het.

Maar voor 1795 kry jy min Engelse familiename in Kaapse dokumente, sowat 150, en dié wat daar is, is dikwels verkeerd gespel. Nes baie Hollandse, Franse en Duitse name deur amptenare verkeerd gespel is toe die Kaap ’n Britse kolonie geword het (dit is glo waarom daar soveel spelwyses is van “Rousseau”).

Ná 25 jaar was daar toe reeds sowat 4800 Britse pioniers in die Kaap, maar nie almal was regtig setlaars nie.

Talle het gou na Brittanje teruggekeer en ander het die Kaap net as ’n tydelike afspringplek onderweg na Australië of Noord-Amerika beskou.

Diegene wat gebly het, het met plaaslike mense ondertrou.

Vreemd genoeg, word die familienaam Honiball nie in die boek gelys nie, maar ek weet uit eie navorsing dat Thomas Osche Honiball, die spotprenttekenaar, se familie oorspronklik as setlaars na die Kaap gekom het, en in 1821 is John Honiball van Bridgewater, Somerset met Susara Susanna Pienaar getroud.

Hulle het op die plaas Braakfontein naby Mosselbaai gaan boer.

In sy Groot Afrikaanse Familienaamboek noem Dr. Pama wel die Honiballs, en dat hulle gou verafrikaans het. Susara se voorouers was nasate van die Hugenoot Jacques Pinard wat in 1688 hierheen gekom het. T.O. Honiball se eie kinders is wel Afrikaans matig, maar het met Engels as huistaal grootgeword, want hulle moeder, Amalinda Boesen, was ’n Engelssprekende Deen.

En so draai die wiel, skynbaar nie net in een rigting nie, want waar sommige Britte verafrikaans het – dink aan die Murrays en McDonalds, was daar ook Afrikaners wat verengels het – soos sommige Myburghs en, so hoor ek, selfs Versters.

Ewenwel, Dr. Pama eindig sy inleiding af met die wens dat die boek verdere uitgawes sou sê, wat kon uitbrei in ’n omvattende versameling van Suid-Afrikaanse familename.

Sover ek kan vasstel, is daar egter net een uitgawe van British families in South Africa, their surnames and origins, en was dit ook Dr. Pama se laaste boek.

Dog, genealogiese navorsing is wêreldwyd ’n gewilde aktiwiteit, inderdaad ’n soort spoorvat van die residu van án ons voorgangers; wit, swart, bruin, en uit al die uithoeke van die aarde en dus ook in Suid-Afrika, so Cornelis Pama se nalatenskap leef heel robuust voort.