Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum het Bloemhof wéér aangewys as die Top Afrikaanse Skool in die Wes-Kaap.
Dié merietetoekenningsgeleentheid, wat by die Afriforum Teater in Menlopark gehou is op Vrydag Februarie 17, is deur tientalle skole regoor die land bygewoon.
Die toekening word gebasseer op die gemiddelde aantal onderskeidings per matriekkandidaat. In Bloemhof se geval het die 2022 matriekgroep gesorg vir ’n gemiddeld van 3.44 onderskeidings per kandidaat. Hoër Meisieskool Bloemhof het ook algeheel sesde geëindig in die hele land.
“Skole bepaal die sukses van ’n gemeenskap. ’n Sterk skool beteken ’n sterk gemeenskap, dit lig ’n hele gemeenskap se sosio-ekonomiese stand op. As ’n skool faal, verval die hele dorp of gemeenskap rondom daardie skool,” sê Leon Fourie, uitvoerende hoof van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS).
Mnr. Fourie sê verder: “Afrikaanse skole se uitstekende resultate is te danke aan moedertaalonderrig én gebalanseerde kultuuroordrag wat waardes vestig en leerders toerus vir die toekoms.”
Enkelgeslagskole het veral uitgeblink. Tien van die top-20 skole in Suid-Afrika met die meeste onderskeidings per kandidaat, is enkelgeslagskole.
Volgens Wilna van Heerden, hoof van die Hoër Meisieskool Bloemhof, is daar ’n paar goed wat hulle voorberei het vir die uitdagings waarmee die matriekgroep van 2022 moes worstel.
“Ons fokus is nie op prestasie nie, ons fokus is om onsself te verbeter en om te weet wie ons is. Dit tesame met die feit dat ons kinders ’n uiters gesonde werksetiek en selfdissipline het, maak ons leerders veerkragtig en gereed vir die toekoms.”
Agt uit die top 20-skole in die land is Afrikaanse skole.