Belangrike lesse om te leer uit 1795

Admiraal Elphinstone, hoof van die Britse vlootmag, beveel sy kannoniers om op die fortifikasies by Muizenberg te vuur.

Uiteindelik het ek dr. Dan Sleigh se massiewe boek 1795 klaar gelees.

Ek het in hierdie rubriekreeks berig gelewer oor die bekendstelling daarvan by die Kasteel in Kaapstad in Julie. Daarna moes ek by boekfeeste wees – Montagu, Bloemfontein, Philadelphia, Pretoria … en het ander boeke gehad om te lees vir resensie-doeleindes. 1795, aanvanklik “Die laaste goeie man” genoem – dit was die manuskriptitel waarmee Dr. Sleigh die Groot Romanwedstryd gewen het.

Die boek is reeds formeel deur bekwame taalmanne soos proff. Chris van der Merwe en Thys Human geresenseer, dog elke resensent het net soveel ruimte om sy/haar sê te sê so ek gaan kyk na aspekte wat vir my as geskiedenisman interesseer.

Die eerste aspek is die omvang van die boek, wat 509 bladsye beloop. Om oor ’n relatief kort beleg soos dié deur die Britte in 1795 soveel te kan vertel, moes die skrywer heelwat navorsing gedoen het, en soos ons Dr. Sleigh al ken van bv. (2002) en Afstande (2010), is hy ’n uiters deeglike navorser.

Ek het egter gewonder hoeveel hy by-verbeel, soos dit sy reg is as romanskrywer, en hom gevra oor sy beskrywing van baron Pieter van Reede se begrafnis: het die wolke regtig daardie dag so oor Tafelberg gestort en het die wind regtig die stof so opgewaai? So, wat ek wou weet, is of die weersomstandighede net so in die V.O.C.-dagregister aangeteken was. Dis nie belangrik of die wind bv. suidwes gewaai het en of daar wolke was nie, maar ek wou vasstel hoeveel hy verander of bygelas het. Sy antwoord was: “Gaan lees self in die dagregister.”

Nou ja, ek het nog nie maar ek sal. Maar daar is baie ander tonele en baie interessante karakters, wat ’n mens ook laat wonder: wie van hulle het regtig geleef, of het die skrywer hulle geskep? William van Reede, die hoofkarakter, het regtig geleef, maar ek weet nog nie of sy geliefde in die storie vlees en bloed was nie.

Duidelik sal daar net een manier wees om dit vas te stel; die bronne in die provinsiale argiefbewaarplek. Oor hulle doen en late … wel, uiteraard kan die skrywer nie weet wat hulle elke dag gedoen het nie, en dan is daar die versoeking om die verlede meer kleurvol te maak en die spanningslyne stywer te trek.

Soos William se grafkelder, wat steeds bestaan, maar die deel oor ’n skryftafel wat daar staan sodat hy na sy dood kan herrys en aangaan met skryf, dit het die skrywer laat blyk is ’n anekdotale oorlewering, nie gedokumenteer nie. Die intertekstuele verwysings was vir my ook interessant, soos William wat ene luitenant Hans Fransen by die Groentemarkplein raakloop. Dr. Hans Fransen is wel nog springlewendig, hy wat kurator van die Michaelis-kunsversameling in die ou Burgerwaghuis langs die Groentemarkplein was. Dr. Sleigh bring dus hulde aan ’n werklike persoon deur hom ’n rol in sy boek te gee. Ook beroemdes soos Mozart, Beethoven oorsee, en Thibault en Anreith plaaslik word genoem, of is selfs vriende van die hoofkarakter William.

Daar is baie wat Dr. Sleigh geskryf het wat ek sou wou ontleed, soos sy filosofiese stellings oor belangrike aangeleenthede, wat Suid-Afrika se geskiedenis lank ná daardie tyd (die 1700s) sterk beïnvloed het, insluitend demokrasie (wat hy ook in Afstande krities bekyk), maar ook my ruimte is beperk.

Daarom wil ek by die vernaamste vraag uitkom – nee, dis nie of Robert Gordon homself geskiet het en of hy vermoor is nie; dit sal ons nooit weet nie, maar dis ook nie ’n rigtingveranderende gebeurtenis in ons geskiedenis nie. Ook gaan ek nie hier bespiegel wat die Britse oorname se voor- en nadele vir die land was en of Gordon en Slyusken werklik sulke veragtelike mense was nie.

Nee, op bladsy 508 staan oor die sienings aangaande die redes vir die Britse oorname: “Sekerlik sal die nuwe regering sorg dat dié feit verwerp, gediskrediteer en gerieflik vergeet word.” Van watter feit praat Dr. Sleigh?

Hy verwys (o.a.) na die wegneem van vryheid, van die ontneming van kulturele voorregte en van finansiële verliese.

Hierdie verwysing kan natuurlik net soveel na die mense wat voor die Hollander-Afrikaners (Afrikaans en Afrikanerskap was nog in die vroeë stadia van wording) hier was: dieselfde geld immers hulle grond- en burgerregte en wat die Britte met kanon en swaard kon afneem het, het ook die vroegste bekende inwoners (hier en nou al oral op aarde) te beurt geval.

Maar hoe het die Britte die besetting gesien? Uiteraard soos hulle alle kolonialisme gesien het, naamlik dat beskawing oor die aardbol versprei is – hulle weergawe daarvan, en dat die kolonies in hulle empaaier met minerale, soos die edelstene in die kroon van die Britse vors, duur vir dié “nuwe verligting” moes betaal.

In die voorwoord van South Africa a century ago: Letters and journals (1797-1801) deur Lady Anne Barnard staan: “Steps were taken […] to secure the Cape,” en dat dit gedoen is om die Kaap teen ’n Franse besetting te beskerm. En dan: “Resistance was however of little avail: the Dutch garrison was too small.” Sodoende is die besetting en die redes daarvoor as’t ware gladweg verontskuldig. En dié bondige beskrywing verskil hemelsbreed van Dr. Sleigh s’* . In elk geval, dit was die voorgereg vir die hoofmaal. In 1806 het die invallers weer gekom en veel langer gebly.