Welbekende en befaamde Suid-Afrikaanse gospelsanger en prediker Retief Burger, sal op Sondag Oktober 20, in Aanbidding! in die Helderberg optree en sien daarna uit om saam met die gehoor die Here te dien en Sy naam te prys en te verheerlik.
Retief het hieroor gesê: “Dit is ’n aanbiddingsgeleentheid en ek wil mense uitnooi om saam met my die Here se naam groot te kom maak en net in Sy teenwoordigheid hulle harte te kom uitstort, hom te aanbid en met nuwe geloof gevul te word.”
Retief, sal van sy ou, asook nuwe musiek (geïnspireer deur sy persoonlike ervaringe) sing asook ’n bemoedigende geestelike boodskap aan teatergangers bring.
Hy is veral opgewonde om van sy nuwe musiek uit die Nuwe Lof aanbidding-en lofliedere projek met die gehoor te deel.
Die kerntema vir die aanbiddingsgeleentheid op Sondag noem hy is gegrond op Psalm 46.10 se teks, ‘Wees stil en weet dat Ek God is’. Hy sê: “Die tema kom daarop neer dat ons is nie die Here nie, ons kan net oorgee, ons sorge en bekommernisse laat gaan met die wete dat Hy in beheer is en dat die Vader alreeds in die dag van môre is.”
Aanbiddingsmusiek, noem Retief, is so belangrik en het die vermoë om die donkerte te verdryf en die vyand te laat vlug. Hy nooi mense uit om in intimiteit met hom in lofsang stil te word en net ’n oomblik van aanbidding te ervaar.
“Dit is net die teenwoordigheid van die Here en Sy woord wat ons anker en ons bied aan mense die kans om net weer in die oomblik te kom stil word, te erken dat Hy God is en in daai oomblik net asem te haal en nuwe hoop en krag in sy teenwoordigheid te kry.”
Van sy nuwe gunsteling liedere waarmee hy die aanbiddingsessie sal lei, is Want so Lief (met lirieke geïnspireer deur Bybelteks in Johannes 3:16), asook, die nuwe lied, Kom Heilige Gees, albei liedere uit sy eie musikale pen en vervaardig deur musieklegende, Louis Brittz.
Die gehoor kan uitsien na ’n geesvervulde bediening van hierdie Suid-Afrikaanse sanger se kenmerkende eerlike, singbare, skrifgetroue, en sielvolle musikale lof en aanbiddingsliedjies.
Die geliefde sanger en prediker nooi jonk en oud na die geleentheid. “Daar gaan lekker lewendige oomblikke wees en ook tye waar jy net weer kan stil word, so ek wil mense aanmoedig om te kom, en ander saam te nooi, of seën selfs iemand met ’n kaartjie. Almal is welkom want nie een van ons voel waardig nie, die Here maak ons waardig, Hy nooi ons uit om te kom net soos ons is.”
Ná die bekroonde sanger sowat sewe jaar gelede laas in die Helderberg opgetree het, sien hy baie na hierdie opkomende vertoning uit. Hoogtepunte is veral die aanskouing van die mooie natuurskoonheid op die pad tussen Kleinmond en Gordonsbaai, wat hy noem altyd een van sy reis hoogtepunte is.
Kaartjies vir Aanbidding! deur Retief Burger om 4nm, in die Helderberg Teatro @ Doxa Deo, Melcksloot Village, Somerset-Wes, beloop R180 per persoon en is nou aanlyn te koop by www.helderbergteatro.co.za of direk by www.seatme.co.za
Skakel 072 379 9562 of stuur ’n e-pos na info@helderbergteatro.co.za vir meer inligting.