Die bekroonde toneelstuk, Hans steek die Rubicon oor, vervaardig deur Left Foot Theatre Productions, is terug by The Drama Factory-teater in Strand.
Met Charlie Bouguenon in die hoofrol as Hans, Regie deur Lizz Meiring, Teks deur Francois Toerien na gelang van Rudi van Rensburg se boek), is plaaslike gehore in vir ’n komiese toneelspel oor outword op eie terme.
Op 90 is Hans nog springlewendig. Sy kinders boender hom egter vanuit hul tuistes in die buiteland uit sy lekker huis in die Kaap in Huis Madeliefie in. Hans se vindingryke pogings om uit Huis Madeliefie te ontsnap, word deur sy kinders en ’n drakoniese matrone in die wiele gery.
Maar Hans laat hom nie voorskryf nie, en sy rebelsheid het geen keer nie. Vinnig is daar groot konsternasie in die tehuis. Hans se vele, en soms verdagte, nuwe vriende sorg vir groot pret en heelwat moeilikheid.
Van daggakoekies en ’n boeremafia tot ontkleedansers en protesaksies, word Huis Madeliefie en sy inwoners onderstebo gekeer. Hans se storie is ’n storie van ons tyd. Sy omstandighede is dié van vele ouer Suid-Afrikaners wie se kinders die land verlaat het. Hans se manewales sal oud en jonk laat skaterlag.
Die toneelstuk word opgevoer op Woensdag September 13 en Donderdag September 14, om 7.30nm by The Drama Factory by 10 Comprop Square, Henry Vos Close, Asla Business Park, Strand.
Kaartjies kos R180 en R200 en is aanlyn te koop by www.thedramafactory.co.za
Skakel die teater by 073 215 2290 vir verdere inligting.