As werk nie meer werk nie

Dis Maart, en die ergste simptome van skoolverlaters en hul ouers se aanpassings by die jaarlikse drukgang tussen die skool en die groter wêreld, haal nie meer die koerante nie, al voel u nou eers die uitstappie na Plett en registrasiefooie by vyf instansies aan n lyf en sak.

’n Eenvoudige aftreksom toon ook dat daar elke jaar minder werksgeleenthede en groter mededinging vir toegang tot opleidingsinstansies is.

Almal wou nog altyd net hê dat hul kinders gelukkig en suksesvol sal wees, maar ons besef nie hoe nou verweef ’n vaste werk en sekuriteit hiermee in ons koppe vervleg is nie.

Dit help ook nie om te weet dat die aantal sogenaamde NEET’S (Not in Education, Employment or Training ) tussen 16 en 24 die vier miljoen kerf nader nie.

Miskien meer onrusbarend is die feit dat ’n toenemende aantal suksesvol afgestudeerdes hulle in die strate aansluit by die wat glo iets moet val.

Verder is ons fokus skeef getrek deur die vele plaaslike redes wat ons sou kon aanvoer vir hoekom kinders oorsee moet gaan werk soek.

Ons het immers spreekwoordelik in die ry gestaan om vir ’n nuwe demokrasie te stem terwyl die tsunami van ’n vierde industriële rewolusie saggies onder ons deur beweeg het in die vorm van uitkontraktering, afleggings en botallige onderwysers, om maar ’n paar te noem wat waarskynlik nog vars in geheue is.

Die woorde nuwe wêreld van werk lewer reeds vir jare duisende trefskote op die internet op…

Intussen het die golf van opwinding en afwagting van matriekuitslae, gespanne afwagting van jou toelating tot die inrigting van jul keuse of die geïdealiseerde keuringskursus begin plekmaak vir die realiteit van aanpassing in die koshuis, die uitsortering van vervoer na die kampus… of die implementering van ’n Plan B na teleurstellende uitslae of onsuksesvolle aansoeke.

’n Nuwe fokus in reaksie op ’n eenmalige gebeurtenis-positief of negatief-dikwels steeds deur dieselfde lens op ’n tradisionele wêreld beskou. Al gedink hoe net die konsep van aftrede na 70 hierdie hele prentjie verander?

Hoe sou ’n ouderdomsbeperking van 24 op voltydse studie langer as drie jaar u seun /dogter se toekomsplanne raak?

Die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) se aankondiging dat ons ons reeds in ’n vierde industriële rewolusie bevind , is dalk nog baie onwerklik en die feit dat ons reeds halfpad oppad is na die punt waar die volle impak hiervan ons gaan tref dalk ewe ondenkbaar.

Die eerste industriële rewolusie het immers 150 jaar geneem om te ontvou. Die voorspellings van Fortune 500 gurus sedert die 80s, wat nou met verbluffende akkuraatheid ontvou, is in ontoeganklike boeke op akademici se rakke gehou?

Tog het ek ’n koerantuitknipsel gedateer 4 April 1992, waarin ’n minister waarsku dat mense hul van hul werkafhanklike kultuur moet losmaak.

’n Oomblik van stilte vir Noag wat met veel groter gesag groot reë* probeer voorspel het. Intussen beloon universiteite steeds die hoogste gemiddelde akademiese prestasie, ongeag die gekose vakke en skole leun steeds swaar op hul uitslae as stempel van kwaliteit op hul bemarkbare maar grootliks nie indiensneembare produk…

Ons sal verder vinnig ontslae moet raak van die die refrein oor ’* ontoereikende onderwysstelsel en swak toegeruste onderwysers as synde die skuld van die regering.

Dit gaan u kind nêrens bring nie. As jy met al die stokke in jou sak nie die gholfbal op die setperk kry nie, moet jy jou greep verander.

Nou is dit ook so dat staatsmasjinerie stadig draai soos ’n tenkskip wat reeds weet van die storm oppad. ’n Toename in tuisonderrig verteenwoordig waarskynlik gedeeltelik ‘n reaksie op hierdie insig.

Ander stel hulself gerus dat hul kinders in top skole is en dat hulle hul nog altyd grootgemaak het om vir hulself te dink, eienaarskap te neem van hul skoolwerk en lewens en by ’n breë spektrum van aktiwiteite betrokke is.

Die WEF het hierdie onderwerp vanjaar by Davos voos getrap en Unicef het ’n jaar of wat gelede drie omvattende werksdokumente hieroor die lig laat sien.

Alle erkenning aan Nils Lindhard wat reeds in die sewentigs aan die Universiteit van Kaapstad die term “Fully Functioning School leaver” bekendgestel het.

Hoe lyk die vaardigheidsprofiel van hierdie toepaslik toegeruste skoolverlater van ons tyd?

So u onthou met hoeveel sorg en onkoste u seker gemaak het dat u kind gereed was om skool toe te gaan?

Begryp u dat die onsuksesvolle transisie vanaf die skool na die groter w reld meer en groter langtermynbeserings kan veroorsaak indien u en u kind dieselfde verwagtinge as van ’n ou wêreld koester? Die verskil is verder dat u gediskwalifiseer is om baie van hierdie vashaakplekke vir u kind uit te stryk.

In hierdie rubriek gaan ons in diepte kyk na die proses van beroepsontwikkeling binne hierdie nuwe konteks.

Ons gaan die moontlike faktore wat die proses kan kompliseer of vertraag belig, die klemverskuiwing van kwaifikasies of kennis per se, na vaardighede uitlig met inbegrip van die kritiese rol wat sogenaamde sagte vaardighede en emosionele intelligensie speel .

Volgende keer kyk ons na simptome van u kind se minder effektiewe aanpassing en transisie van die skool/huis na die kollege of universiteit en sinvolle strategieë om hom of haar weer op koers te kry.

Niel Mostert is ’n voorligtingsielkundige van Somerset Wes en reeds meer as 20 jaar in privaatpraktyk met benewens sy rol as sielkundige en psigoterapeut, ook ’n aktiewe en langstaande belangstelling in beroepsielkunde.