Al van François Renier Duminy gehoor?

Voorblad van François Renier Duminy, Protea Boekhuis, 2005.

“The passage of time obliterates and distorts with amazing rapidity. A 100 years after François Renier Duminy’s death in 1811, very little was known about him among his descendants […]. A hundred years after his death the whereabouts of of his grave was unknown. Sand blew over the lost ruins of his farm, Compagniesdam, at Bloubergstrand.”

Só begin die boek getiteld François Renier Duminy 1747-1811, French mariner and South African pioneer.

Vir my persoonlik is die boek interessant, omdat ek self besig is met navorsing oor my stamvader Jacobus Verster (1733-1782), wie se lewe sekere ooreenkomste met Duminy s’* toon, maar … wie was hierdie man oor wie sy eie nasate so min geweet het?

Inderdaad, ’n heel besondere karakter, kom ’n mens agter wanneer jy die boek lees, geskryf deur een van sy nasate wat baie moeite gedoen het om namens die familie na te vors, en uiteindelik ’n esteties bevredigende en insiggewende boek te publiseer.

So iets sit nie in enigeen se broek nie, veral as jy besef dat dit ’n liefdesdaad sal wees wat baie tyd en geld sal verg, maar nie veel finansiële opbrengs sal genereer nie. Andrew Duminy, die skrywer, se entoesiasme is egter aansteeklik, en jy lees agter sy beskrywings en ontledings aan, al is jy nie self ’n Duminy nie (die enigste vraag wat aanvanklik by my opgekom het, is of JP Duminy, die Protea krieketspeler familie is van dié mense, en die antwoord word wel verskaf op bladsy 171, van 192 bladsye in totaal: JP is van die Genadendalse Duminy’s), en gou besef jy dat die hoofkarakter in dié verhaal werklik verdien om uit obskuriteit gered te word.

Die skrywer noem dat daar in 1938 reeds ’n boek oor Duminy se joernale gepubliseer is, ’n seleksie daarvan sê hy, en noem ook dat sommige joernale verlore gegaan het, helaas.

Dit was die Van Riebeeckverenging wat toe die paar joernale, tesame met die dagboek van Duminy se vrou, Johanna, uitgegee het en die samesteller hiervan was prof. J.L.M. Franken.

Die boek is lankal uit druk en hoewel deeglik nagevors, is daar min in te vind oor slawerny, die vrymesselaars en “astrofisiese” navigasie, onderwerpe wat met Duminy se naam verbind word.

Toe ek dít lees, is ek gehoek: ek het al gehoor die Duminy’s was slawehandelaars, so is dit waar? – ek wou uitvind.

Ook interessant is dat daar ’n storie was dat Duminy ’n admiraal in die Franse vloot was; dog die skrywer sê sy Franse herkoms was onseker en dat Die Burger (22 Augustus 1971) verkeerdelik berig het dat Duminy ’n admiraal was, en ook die grond waarop die Mount Nelson Hotel staan, besit het. Albei stellings is egter foutief.

Die skrywer noem dat daar ook al ’n meestersgraad-tesis oor Duminy se lewe en werk geskryf is, terwyl die skrywer se oorlede vader (genaamd J.P. Duminy en iemand wat wiskunde aan die Sorbonne in Frankryk bestudeer het) self heelwat navorsing oor Duminy gedoen het.

Nogtans moes dieper en wyer gesoek word, en dis wat die skrywer toe gedoen het.

Hy sou die genealogie van die Duminy’s ontrafel, en o.a. bevind dat François Renier Duminy ’n weeskind, grootgemaak deur peetouers, was.

Die “ontrafeling” soos hy dit noem van die hele Duminy-herkoms, insluitend ’n paar fabels soos meeste families het oor adelike of “belangrike” herkoms.

Ai, is ons nie almal maar stilstarend-hopend op iets wonderlik wat ons ego kan poleer nie?, is nogal uiters ingewikkeld, en het my kop werklik laat kantel, maar ek dink die genealogie van die familie raak eintlik net die familie self, so laat ons eerder kyk na wat die “hoofkarakter” in die boek se betekenis vir ons as Suid-Afrikaners is.

François Renier Duminy was een van daardie mense wat uitgestaan het in sy eie leeftyd, en daarom verdien hy om onthou te word.

Maar wat het hy gedoen wat so uitstaande was? Eerstens het hy soos baie jong manne destyds uitgevaar – letterlik – om hulle merk te maak, hulle fortuine te vergader, hulle “legacy” te bou. Dus: Duminy sluit in 1750 by die Franse maatskappy (Compagnie des Indies) aan wat in die Ooste handel gedryf het.

Te midde van oorloë en gevaarlike handelsreise floreer Duminy en word hy ’n seekaptein, dus iemand met leierseienskappe, intelligensie en ’n sin vir verantwoordelikheid.

Ook sluit hy by die vrymesselaars aan, ’n manier om kontakte te bou en sy loopbaan te bevorder. Hy laat geskrewe rekords agter, ook skeepsjoernale, en sy vrou Johanna, laat haar dagboek na, wat in dié boek bespreek word.

En op hierdie punt besef ek dat haar bydrae in groter detail behoort te noem: die vroue word immers te dikwels in die skaduwees gedruk (ek bedoel nie letterlik nie!).

So: volgende week, meer oor die Duminy’s, veral wat hulle in die Kaap kom doen het.